Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Dokter (24) vertel oor Covid-19: 'Ek het reeds my testament opgestel'
Wilme Steyn
Wilme Steyn

VIR DUIDELIKHEID: Dokters sal wel vir die virus getoets word en toegelaat word om te isoleer sou hulle positief toets.

Drie jaar gelede was ek in my vierde jaar van mediese studie. Ek moet bieg, leer was net één van my prioriteite, maar ek sal jok as ek sê dit was my enigste prioriteit.

Al wat ek van die koronavirus-familie geweet het, is dat daar êrens in China, ’n paar jaar terug, een of ander groot uitbreking was en dat mense doodgegaan het. Ek het die virus gememoriseer vir ons virologietoetse, maar waarskynlik alles vergeet voordat die na-blok-partytjie verby was.

Drie maande gelede het ek oor die verhoog gestap en die eed van Hippokrates afgelê saam die res van my klasmaats.

Drie maande gelede het ek oor die verhoog gestap en die eed van Hippokrates afgelê saam die res van my klasmaats. Die foto’s was natuurlik die belangrikste, want het dit regtig gebeur as jy nie goeie foto’s het nie?

Ek het die woorde van die skerm aan die voorkant van die saal afgelees: ‘I will apply, for the benefit of the sick, all measures which are required,’ en verder belowe ‘I will do no harm!”

Drie maande gelede het ek nog my ma se kredietkaart gehad vir Woollies kos, het ek nie eens mooi geweet wat ’n debietorder is nie en het my ma nog vir my tandartsafsprake gemaak.

Drie weke gelede het ons rotasiegroepie grappies gestuur oor die virus en gelag dat mense so bekommerd is oor “ ’n erge verkoue.”

Drie weke gelede het ons rotasiegroepie grappies gestuur oor die virus en gelag dat mense so bekommerd is oor “ ’n erge verkoue.”

Ons was baie meer bekommerd oor die kind van drie jaar oud wat rotgif geëet het. En toe daar ’n jong meisie inkom met erge longontsteking en al die simptome waaroor die res van die wêreld so stres, het ons nie eens daaraan gedink om ’n masker te gryp nie.

’n Paar dae gelede het die president ’n nasionale staat van inperking aangekondig en my beroep as “emergency personnel” gedoop.

’n Paar dae gelede het ek ’n plakker op my kar gekry sodat die weermag my nie stop as ek in die middel van die nag van die werk af huis toe ry nie.

’n Paar dae gelede is niemand nog aan die virus in Suid-Afrika dood nie.

LEES OOK: Ons president sal nie sy skip laat sink

Ek verstaan nie baie oor die epidemiologie van die Covid-19-pandemie nie. En as jy my vra, pas ek maar toe wat ek kan onthou van die paar klasse op universiteit wat ek daaroor bygewoon het.

Ek glimlag en antwoord met my heel rustigste gesigsuitdrukking. Ek weerhou myself van tik as ek kwaad raak oor al die Facebook-kenners wat nou op hul banke lê en dokter-speel. Ek trek my scrubs buite my huis uit en stort dadelik in ekstra warm water as ek by die huis kom om te probeer keer dat ek enigiets saamdra waarvan ek dalk nie weet nie.

Ek trek my scrubs buite my huis uit en stort dadelik in ekstra warm water as ek by die huis kom om te probeer keer dat ek enigiets saamdra waarvan ek dalk nie weet nie.

Ek spreek my pasiënte, soos elke dag voor die virus, en wanneer een naby my hoes, probeer ek ’n bietjie vlakker asem haal om myself beter te laat voel.

Ek neem duidelik nie meer foto’s vir Instagram nie en begin bekommerd raak oor presies wat “all measures” insluit.

Ek is skaam om te sê ek het glad nie aanvanklik die erns besef van die koronavirus toe dit opgeduik het nie. Ek was seker die virus sou homself uitbrand lank voordat ons in dieselfde situasie as Italië of China kom.

Ek was oortuig daarvan dit is een ding waarmee Suid-Afrika nie so sou sukkel nie en ek het vir seker nie gedink dis my probleem nie.

Ek was dom, naïef, kinderlik selfs.

As ek nou vir myself van drie maande gelede iets kon sê, sou dit wees om vroeër bang te word, want ek is nou vreesbevange. Ek sou sê dat dit nie net my probleem is nie, maar ons almal s’n.

Daar is vir ons gesê dat ons nie as dokters getoets gaan word nie, want dit gaan nie eintlik ’n verskil maak nie, ons sal steeds moet kom werk.

Die tannies van Rosebank loop met N95-maskers rond (wat gewoonlik gebruik word om TB te keer) wat om hul nekke hang en dus geen rol speel nie, maar daar word vir ons gesê dié soort maskers word gehou vir wanneer ons seker is ’n pasiënt het die virus, en selfs dan weet ek nie mooi waar om een te kry nie.

Daar is vir ons gesê dat ons nie as dokters getoets gaan word nie, want dit gaan nie eintlik ’n verskil maak nie, ons sal steeds moet kom werk.

Die handontsmetmiddels in al ons sale is nou vasgepen met tape en alles anders wat ons kon kry om te keer dat dit gesteel word.

Ons weet nie wat gaan gebeur as een van ons uiteindelik die virus kry nie. Ons weet nie of ons sal moet isoleer en dan ons internskap moet herhaal nie, want natuurlik sal geen vergunnings gemaak word om ons te akkommodeer nie. Dán sal ons seker kwalifiseer vir ’n masker. Ons weet wel ons sal beslis een of ander tyd die virus kry, dis bloot ’n kwessie van tyd.

Ons pasiënte word vroeër ontslaan sodat ons kan plek maak vir die ander wat gaan inkom as die virus eers vastrapplek kry.

Daar is nie genoeg plek in die waakeenheid nie. Ons is al gewoond om te besluit wie kry ’n ventilator, maar dit raak nooit makliker nie. Wanneer laas moes jy besluit wie het ’n groter kans op oorlewing? Nog nooit? Beskou jouself as gelukkig.

Wanneer laas moes jy besluit wie het ’n groter kans op oorlewing? Nog nooit? Beskou jouself as gelukkig.

Dit is moeilik en later baklei ’n mens nie eens daarteen nie. Jy word nie meer hartseer nie. Jy sluk jou trane en gaan aan, want pasiënte wag.

Intussen gaan die res van die wêreld ook aan. Mense lewer kommentaar en kla oor die isolasie en dat hulle nie met hul honde kan gaan stap nie.

Ek is 24 jaar oud en ek moes die naweek seker maak my testament is by my finansiële beplanner. Ek herinner myself elke keer as ek met my ma praat om vir haar te sê ek is lief vir haar, net vir ingeval.

Jy glo my dalk nie en jy dink dalk ek oordryf, maar onthou: Jy sit op jou bank by die huis met jou Netflix en jou Corenza C en jou kinders en jou familie.

Ek is 24 jaar oud en ek moes die naweek seker maak my testament is by my finansiële beplanner.

Ek en al die ander dokters is die eerste mense wat gaan siek word. Daar moet iemand wees wat jou kan behandel as jy siek word en die ventilators kan stel. Iemand moet jou medisyne voorskryf en jou vrese stil. Ons doen dit. En ons is nie eens seker daar sal plek wees vir ons in ICU nie.

Ek het gekies om ’n dokter te word, maar ek het nooit gedroom ek sou hier wees nie. Ek het nooit gedink my lewe sou in gevaar wees deur net werk toe te gaan nie en ek het nooit gedink die res van die wêreld sou so blasé wees daaroor nie.

LEES OOK: Vervang vrees met hoop

Net nou die dag was ek ’n student en moes iemand my huurkontrak saam met my teken sodat ek my woonstel kan huur. En nou?

Wees dankbaar vir waar jy is, vir wie en wat jy het, en sê ’n ekstra gebed op vir ons.

En dink asseblief twee keer voordat jy ’n boks maskers vir jouself koop. Ons het dit nodig. Ons is so bang, maar ons bly hier, ons hou aan baklei. Ons vra net dieselfde van jou. Bly by die huis.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

WIL JY R5000 WEN?

Skryf in vir Die Student se rubriek-kompetisie! Kyk die video vir al die details.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.