Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Droogte: Wat beteken dit werklik as die reën nie wil kom nie?
Carla Visagie
Carla Visagie

Mense vra gereeld of ons dan nog nie reën gekry het nie, maar ek trap suutjies daar omdat die droogte van die afgelope sewe jaar iets is waardeur my optimistiese geaardheid sukkel om ’n weg te vind.

Die droogte is soveel meer as ’n langdurige tydperk sonder reën, soos die HAT dit definieer. Die droogte is soos ’n boom wat val. As die boom val, beteken dit nie net vuurmaakhout of ruimte wat deur iets anders ingeneem kan word nie. Die voëls verloor hul tuiste, die insekte verloor hul kos, die eekhorings verloor hul boomstam, die bokkies verloor hul skuiling teen die fel son.

LEES OOK: Droogte: 'As ons nie boer nie, wie sal?'

Boere is soos ons bome omdat hulle so nodig soos suurstof is in die land, want wat doen ons sonder die kos wat deur hulle verskaf word?

Om regtig die uitwerking van die droogte in die Hantam-area te verstaan, het ek gegoogle hoeveel plase in die mark is en ek kom by 20 uit (volgens Farmtraders SA). 20 boere wat generasies se herinneringe en harde werk moet opgee. 20 boere wat hul pensioengeld moet bestee om die skuld van die droogte af te betaal.

Ek is seker daar is stories wat selfs die hardste harte sal aanraak, maar swaarkry is nie iets wat die meeste mense soos ’n tjap op die skouer dra nie. Dit is dikwels so dat dié wat die stilste is, die swaarste kry.

Reën los nie hele probleem op

Die realiteit is dat reën nie die hele probleem van droogte kan oplos nie.

Reën bring nie die plaas terug as die rekeninge net te veel in die rooi geskiet het nie, want hoe begroot ’n mens vir ’n droogte van sewe jaar?

Dit bring nie eensklaps genoeg geld om weer werksgeleenthede op die plaas te skep nie.

Dit herstel nie die ekonomie van plattelandse dorpies wat lank nie ondersteuning van boere gekry het nie.

Dit bring nie ’n oplossing vir die nuwe deel van die dorp, bestaande uit sinkhuisies met arbeiders wat noodgedwonge afgedank is nie.

Dit herstel nie die ekonomie van plattelandse dorpies wat lank nie ondersteuning van boere gekry het nie.

Die waarheid is dat die reën nie dié keer almal se droogtes sal kan breek nie. As die reën eendag kom, sal dit nie die keer al die boere uit die rooi kan wegspoel nie, maar selfs al verloor boere dit waaraan daar al vir generasies gewerk word, sal hulle ’n manier vind om te oorleef, al is dit op ’n ander plek.

LEES OOK: Weet ons werklik waardeur boere gaan?

Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het op 11 Januarie aangekondig dat R300 miljoen bewillig gaan word vir boere in die Noord-Kaap. Later word daar toe egter bygevoeg hierdie fondse gaan vir “96 boorgate, opgaardamme en om meer krane en watertenks by huise op te rig” (Volksblad, 11 Januarie 2019). Hoe gaan hierdie boorgate veevoer of geld in die rekeninge bring, en wat gebeur as die skaars ondergrondse bronne uitgeput raak?

Ek kan nog bladsye skryf met analogieë tussen die hulp wat boere in ander lande by die regering kry teenoor die hulp wat Suid-Afrikaanse boere kry, maar die buitelyne van my prentjie is reeds geskets en nou wil ek fokus op die goeie van dit alles.

Boere gaan lê nie

Daar is ’n gesegde dat die eier net kan hard raak deur die kookwater, en dit is ’n raak beskrywing vir die situasie waarin die Hantam-omgewing homself bevind.

Selfs al is dit waaraan die boere al generasies lank werk aan die wegkwyn, gaan lê dié spesiale mense steeds nie. Boervroue is besig om koekies te bak om die inkomste aan te vul. Mense oor die land heen trek nader aan mekaar en nuwe vriendskapsbande is gesmee tussen mense wat nooit andersins mekaar sou ontmoet het nie.

Daar is vir my niks mooier om te sien as mense wat bederfgoedjies stuur wat boere jare reeds nie meer kan bekostig nie, ouetehuis-tannies wat self nie baie het om te gee nie, of kinders wat hul enigste spaargeld bymekaarskraap om te help.

Dit is vir my so mooi as opregte mense hul harte oopmaak om omgee te wys, maar party mense maak van die droogte ’n honger-kinders-in-Afrika-saak.

Dit is vir my so mooi as opregte mense hul harte oopmaak om omgee te wys, maar party mense maak van die droogte ’n honger-kinders-in-Afrika-saak. Dit voel vir my asof skenkings soms nie gegee word omdat dit iets is wat op mense se harte druk nie, maar eerder om hul eie beeld te poets of vir hul eie gewin.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, duisende boere kan vandag staande bly vanweë voerskenkings. My pleidooi is net dat jy sal introspeksie doen oor waarom jy iets stuur.

Doen jy iets omdat almal dit doen, of doen jy iets omdat jy dit in jou hart voel en mooi gedink het daaroor? As jy al die koerante en televisiekameras laat weet dat jy iets geskenk het, gaan dit regtig oor jou beeld of gaan dit oor die boere?

My pleidooi is net dat jy sal introspeksie doen oor waarom jy iets stuur.

Los jou vooropgestelde idees oor die droogte, doen moeite om uit te reik na mense en om konneksies op te bou en, as jy gee, doen dit uit ’n plek van opregtheid.

Só sal ons die bome bietjie langer aan die lewe hou, want wat kan ons tog sonder suurstof doen?

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.