Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Droogtehulp: Gebrek aan ingryping is verstommend
Droogte

Ek het nie meer trane om te stort wanneer ek kyk na video’s van huilende veeprodusente en vee wat vrek nie.

Dis vervang deur gebalde vuiste en tande wat kners omdat die sewejaardroogte in veral die Noord-Kaap, en in talle ander dele van die land – skynbaar onopgemerk deur ons regering, en met geen ingrypingsplan van die staat se kant af nie – uitkring.

Ek wil skree wanneer ek besef dat hulle tydelike rampstatus, boorgate en watertenks as oplossing aanbied.

Ek wil skree wanneer ek besef dat hulle tydelike rampstatus, boorgate en watertenks as oplossing aanbied. Ek wil skree, want hierdie kolossale krisis is nie eenvoudig ’n tekort aan ’n paar millimeter reën nie. Dit het nie skielik oornag ’n probleem geword nie.

Droogte

Die stelselmatige klimaatsverandering het, spesifiek in die groter Namakwalandstreek, gelei tot die ergste droogte in minstens 117 jaar. Wat die kroon span, is ons regering se onvermoë om vroegtydig in te gryp en die regte hulp aan te bied.

Jy weet dis droog as húlle kla

Hoewel die droogte die hele landbousektor (waaronder graan- en vrugteprodusente) tref, lê veeboerdery my na aan die hart.

Ek kom nie van ’n plaas af nie, maar ek het genoeg familie en vriende op plase waar ek gehelp het om die hanslammers te voer en die beeste aan te jaag.

Ek het ook lank genoeg in ’n plattelandse gemeenskap gewoon, waar boerdery ten nouste met die dorp se inwoners en ekonomie vervleg is.

Ek is ’n gebore Namakwalander en trots daarop dat ek afkomstig is van die klipkoppe en vlaktes van die Noord-Kaap, waar droogte nie ’n vreemde verskynsel is nie.

Die inwoners van droë gebiede soos Namakwaland weet die mooi kom altyd ná die lang lelik.

Die inwoners van droë gebiede soos Namakwaland weet die mooi kom altyd ná die lang lelik. Die reën kom ná die droogte. Die blomme sal weer opkom en soos branders oor die harde, kaal klipkoppe spoel. Die ooie sal weer lam, soms sommer tweelinge, wanneer die grasvelde oornag uit die hardgebakte grond spruit.

Maar jy weet dis droog, werklik droog, wanneer die inwoners van só ’n gebied kla. Namakwalanders is trotse, geharde mense wat gewoond is daaraan om met min klaar te kom. Maar selfs hulle kan “niks” net so ver rek.

Sewe jaar lank al rek boere, hul gesinne, werknemers en plattelandse dorpe hierdie “niks” en die breekpunt vir sommige het reeds gekom.

Daarom rig ek hierdie skrywe aan enigeen wat ’n lid van die streek-, provinsiale en nasionale regering van Suid-Afrika is.

’n Ope brief aan die staat

Droogte

Volgende keer wanneer julle ’n happie van daardie sappige, peperduur skaaptjoppie of -boudvleis vat, haal jul oogklappe af en sit dit eenkant.

Kyk op van daardie stapels tenders, lasbriewe, bedrogsake en beurtkragprogramme op jul lessenaars en maak jul ore en oë oop. Nie vir die skaamtelose Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) wat meermale stert tussen die bene bedel vir krummels van jul tafel af omdat hy al weer drooggemaak het nie. Nee, kyk ’n bietjie verder.

Kyk na die noodkrete wat al jare in die vorm van oproepe, briewe en aansoeke in jul snippermandjies beland het. Luister en lees wat hierdie mense te sê het – die mense van wie julle lankal vergeet het. Die mense wat met bloed, sweet en trane sorg dat daardie einste skaapboud op jou bord lê.

Die mense wat met bloed, sweet en trane sorg dat daardie einste skaapboud op jou bord lê.

Dit is die mense wie se aansoeke om droogtehulp en rampstatus julle soos stof van jul baadjies afvee. Luister en lees.

Dan sal julle die huilende veeboere sien, wat gebukkend langs skaapkarkasse staan met leë beursies, met oortrokke bankrekeninge, en gesinne en werknemers vir wie hulle moet sorg. En daar is geen teken van reën nie. Boere wat aande op hul knieë in die kraal deurbring tussen hul vee wat vrek omdat skuldgevoelens en hulpeloosheid hulle uit die slaap hou.

Droogte

Sou júlle in meer as 300 verhongerde skape se oë kon kyk met geen benul waar môre se voer vandaan gaan kom nie? Sou júlle jul pensioen- en spaargeld prysgee sodat die dood net nie meer op jou werf dans nie?

Sou júlle soos die veeprodusente van jul land tweede verbande op jul huise uitneem, jul voertuie verkoop en vragmotors huur om brandmaer vee vir peanuts by die slagpale te gaan verkoop?

Sal júlle self minder inkopies doen en jul bates verkwansel omdat jul herhaalde aansoeke om rampstatus en droogtehulp van die staat onsuksesvol is?

Sou júlle vir jul kinders kon sê dat hulle nie meer skool toe kan gaan en hul maatjies kan sien nie omdat julle nie meer die skool- en koshuisgelde kan bybring nie?

Hoe kan die staat werklik help?

Die meeste boere en plattelanders is oorweldig deur die vrygewige, gawe harte van mense oor die land heen wat voerskenkings en pamperlangboksies stuur en wolskapies en koekies verkoop om geld in te samel. Daar is ook verskillende opinies oor die motief agter hierdie skenkings.

Droogte

Die punt is dat dit ’n werklike, tasbare verskil maak – waar die regering eerder derduisende rande aan reënwatertenks bestee in areas waar ’n jaar se reën net ’n druppel in daardie tenk sal wees.

Hoewel dit merkwaardig is dat hulle uiteindelik die probleem erken en die Noord-Kaap amptelik tot rampgebied verklaar het, asook finansiële hulp aangebied het, soos berig deur Netwerk24, is hul benadering tot droogtehulp heeltemal ontoereikend.

Die regering wil boorgate sink en windpompe oprig in areas wat byna ’n dekade laas reën gehad het, en sal sodoende die laaste beskikbare ondergrondse waterare, wat generasies lank water verskaf het, laat opdroog.

LEES OOK: Droogte: As ons maar kon saamstaan soos die Aussies

Daarby is die regering “nie konsekwent in sy toekenning van hulp in die verskillende provinsies” nie en trek “mensgemaakte krisisse weens swak munisipale onderhoud en bestuur die meeste voordeel” uit rampdroogtehulp.

Volgens Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, som dit goed op in ’n artikel op Landbouweekblad se webwerf. 

Droogte

Volgens Jansen gaan “sowat R85 miljoen van die R300 miljoen wat deur die departement van water en sanitasie bewillig is, vir waterprojekte in landelike gebiede gebruik word”.

Jansen sê “die gebied se oorblywende ramphulp van sowat R215 miljoen is vir waterprojekte in die munisipale gebiede geoormerk” en dat hy “die feit betreur dat hulp aan munisipaliteite onder die vaandel van rampdroogtehulp geskied”.

Wat die boere werklik van die staat benodig, is voerskenkings om hul vee minstens drie maande te kan voer. Kosskenkings sal hulle help om hul eie koskaste en dié van hul werknemers ’n paar weke lank vol te hou.

Kosskenkings sal hulle help om hul eie koskaste en dié van hul werknemers ’n paar weke lank vol te hou.

Finansiële skenkings of afslag op rentekoste sal help om agterstallige rekeninge te betaal, om skool- en koshuisgelde te betaal en iets in hul pensioenfonds terug te sit.

Waterskenkings sal plase help waar alle natuurlike waterbronne opgedroog het en boorgatwater nie veilig is vir menslike gebruik nie. Daar is ’n lang lys van items wat ek seker is deur boerderygemeenskappe en -verenigings vir die staat uiteengesit is.

Tog dring die staat daarop aan om alleenstaande helde met innoverende planne te wees pleks daarvan om net te luister na die behoeftes van diegene wat hulp vra.

Waarheen nou?

Droogte

Ek kan nie praat uit die perspektief van ander droogtegeteisterde gebiede nie, maar Namakwaland, die Boesmanland, die Richtersveld en die Kamiesberge raak nou werklik die prentjie wat soveel Suid-Afrikaners grappenderwys daarvan geskep het – ’n godverlate vlakte van stof en klippe.

Dit is wel verlate, maar in hierdie geval verlaat deur die staat, en soveel ander dele van die land loop nou ook die gevaar om slagoffers van hierdie gravitasiekolk te word.

En die landbousektor staan gestrand met vrae:

Wanneer sal die regering sy kant bring?

Sal hy eers luister wanneer die helfte minder bewerkbare grond, vee en oeste in die land oor is?

Wanneer die ekonomie in duie stort en landsburgers aan hul paleisdeure kom klop vir kos?

Sal hy eers reageer wanneer hierdie krisis in sy eie koskaste kom nesskop?

Wanneer hy nie meer duur skaapboude op buitensporige partytjies kan voorsit nie?

Wanneer lede van die regering nie meer duur lyfprodukte kan bekostig nie?

Wanneer hulle hul eie kinders uit die skool moet haal omdat hulle nie meer die skool- en koshuisgelde kan bybring nie?

Wanneer sal die regering besef dat ons reeds met die een voet in ’n katastrofiese omgewing staan wat stadig maar seker soos ’n kanker deur die land versprei terwyl hulle soos onkundige, nonchalante chirurge met gevoude arms na die gewas staan en kyk?

Stone het in 2018 tydens haar BAHons Joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch hierdie kort dokumentêr oor die droogte in Namakwaland gemaak.


Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.