Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Een se simbool ’n ander se vuurkool

Afrikaanse mense kla dikwels dat hul simbole van hulle weggeneem word en dat dit voel asof hulle opsygeskuif word.

As jy simbole van onderdrukking beskou as jou simbool, dan verdien jy om eenkant toe geskuif te word, want ’n verdraagsame samelewing moet onverdraagsaam wees teenoor onverdraagsaamheid. ’n Mens noem dit die paradoks van verdraagsaamheid, ’n filosofiese konsep uitgedink deur die filosoof Karl Popper.

Heinrich Nienaber

’n Mens moet dus nie verbaas wees as die “nuwe” Suid-Afrika weier om diegene met ope arms te verwelkom wat optree soos voor-1994-Suid-Afrikaners nie.

As dit jou ongemaklik laat voel dat wit onderdrukkers verwyder word van die kollig voor geboue waar hulle opgehef word, moet jy introspeksie doen. Vra jouself: “Waarom identifiseer ek met rassiste? Met apartheidsleiers?”

Ek kyk gereeld op YouTube Afrikaanse musiekvideo’s en kom dikwels op liedjies af waar sangers probeer om apartheid-nostalgie in Afrikaners wakker te maak. Soms subtiel, soms eksplisiet. Duidelike verwysings na die vierkleur, die oranje-blanje-blou, hoe “hulle” ons verwoes en veral hoe ons “weer moet opstaan”.

As ’n mens na die vyandigheid en haat in die kommentaar onder hierdie video’s kyk, sal ’n mens duidelik die gevare kan raaksien van hierdie oplewing in Afrikaner-nasionalisme.

Ek glo Afrikaanse sangers moet introspeksie doen oor die uitwerking wat hulle op hul gehoor het en watter tipe mense hulle lok. Hulle moet oplet na die kommentaar onderaan hul video’s en die haatlike atmosfeer wat geskep word wanneer liedjies oor “Afrikaner-trots” oor luidsprekers uitgeblêr word.

Alle openbare figure is immers gedeeltelik verantwoordelik vir die gevolge van hul optrede.

Nee wat, ek beskou “hulle” as my vriende, my kollegas, my dosente, my klasmaats, my landsgenote. Ek wil nie terugslaan teen “hulle” nie, selfs as ons regering ’n onvermoë het om ons land se probleme op te los.

Die verskynsel van vyandigheid word selfs gesien by protesoptogte teen plaasmoorde. In plaas daarvan om op te staan teen die moord op alle mense in ons landelike gebiede, word daar dikwels by hierdie optogte ou vlae uitgeruk en gepraat oor hoe die “ou dae teruggebring moet word”.

‘n Standbeeld van Dr. H.F. Verwoerd word verwyder
‘n Standbeeld van Dr. H.F. Verwoerd word verwyder by die gelyknamige hospitaal in Pretoria. Die hospitaal wat aanvanklik as die Pretoria Volkshospitaal bekend gestaan het, is in 1967 na Verwoerd vernoem. Dit staan sedert 2008 as die Steve Biko-hospitaal bekend. Foto: Gallo

Dit is dan nie meer ’n optog teen misdaad nie, maar ’n verpolitiseerde anti-nuwe-Suid-Afrika-betoging, waar die Afrikaner uitgebeeld word as ’n sukkelende groep in Suid-Afrika, verniel onder die juk van barbaarse swart misdadigers. Dit is rassisties tot in die kern.

Ons soek simpatie by buitelandse verregse politici, met gekookte misdaadsyfers, terwyl die werklikheid is dat Suid-Afrikaners van alle agtergronde ernstige, gewelddadige misdaad op buitengewoon hoë vlakke ervaar. My hart bloei vir alle slagoffers van gewelddadige misdaad in ons land.

Die aggressie begin en eindig egter nie by die musiekfeeste en protesoptogte nie, selfs Afrikaanse handelsname se slagspreuke het toenemend aggressief geword: “Geen masker sal ons stilmaak nie”, “Slaan terug”. Die handelsname probeer aanklank vind by ’n woedende, verbitterde volk. In elke slagspreuk is daar ’n subtiele ondertoon van “ons en hulle”.

Simptome van die probleem

Dit is egter slegs simptome van die probleem en nie die werklike oorsaak nie.

Die oorsaak is die Afrikaner se isolasie. Ons skole, kerke en gemeenskappe weier om te akkommodeer en uit te brei. Ons verwerp nie die skadelike dele van ons erfenis nie, ons weier om te erken dat dit bydra tot die verdeeldheid in ons land.

In die laat 1990’s is die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) gestig, met twee ikoniese figure aan die stuur. Aartsbiskop Desmond Tutu en die anti-apartheidsaktivis en teoloog Alex Boraine. Baie kenners het geglo ons moes eerder Nuremberg-styl-verhore gehad het ná apartheid, maar in die gees van vergifnis en versoening het ons leiers herstellende geregtigheid eerder as vergeldende geregtigheid aangegryp (iets waarvoor die Afrikaner ook min waardering getoon het).

Die WVK het meer as 21 000 slagoffers se getuienisse van menseregtevergrype aangehoor. Die stories was dikwels grusaam en hartverskeurend.

Dit het ’n geleentheid vir die Afrikaner gebied om te besef wat werklik gebeur het reg onder hul neuse en om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul aandadigheid aan en rol in so ’n stelsel.

In plaas daarvan het baie Afrikaners die WVK afgemaak as pogings deur die nuwe bedeling om hulle te laat skuldig voel. Ons het ons rug gedraai op die ondervindings van die slagoffers van apartheid.

Minag ander se ondervinding

Vandag nog het baie Afrikaners ’n minagting vir die ondervindings van Suid-Afrikaners van kleur.

Dit was duidelik sigbaar toe die Springbokkaptein en wêreldkampioen Siya Kolisi as deel van die Black Lives Matter-veldtog uitpraat oor sy eerste dae in die Springbokspan, en toe Makhaya Ntini soortgelyke uitlatings gemaak het oor sy dae in die Protea-krieketspan.

Ons minagting vir swart lewens en vir die ondervinding van mense van kleur in wit ruimtes, is ’n negatiewe aspek van ons erfenis. Dus is transformasie in ons land van kardinale belang, veral onder ons jeug, op universiteite en in koshuise – Afrikaners moet hande vat met die res van Suid-Afrika en saam ’n nasie bou.

Die joernalis Max du Preez skryf in sy boek Mymeringe van ’n Gebleikte Afrikaan oor hoe hy en die destydse president van Zambië, Kenneth Kaunda, in die presidensiële woning ontbyt geëet het in die apartheidsjare. Kaunda het aan Du Preez gesê die res van Afrika wag opgewonde om die Afrikaner in Afrika te verwelkom, as hy net apartheid wil beëindig.

Ongelukkig gaan sosio-ekonomiese toestande in ons land agteruit en die Afrikaner gebruik sy ontevredenheid met die huidige regering om nostalgie aan te hits oor die vorige bedeling.

Waarom moet ons ’n misdaad teen die mensdom regverdig slegs omdat ons tans met ’n ondoeltreffende, korrupte regering sit?

Ek glo die Afrikaner moet met ’n proses begin om afskeid te neem van sy rassistiese, nasionalistiese beginsels. Daar sal nooit ware vrede en verdraagsaamheid wees voordat ons dit nie regkry nie en die jonger generasie moet hierin leiding neem. Dit moet gebeur ten spyte van die regering se onvermoë en tekortkominge.

Jesus van Nasaret het die Romeinse Ryk vir ewig verander toe hy die Hebreeuse geloof hervorm het en rondom 2 020 jaar later is daar drie Afrikaanse kerke wat na Reformasie in hulle name verwys. Ons weet nie of Jesus van Nasaret homself sou geïdentifiseer het as ’n Gereformeerde, Hervormde of Nederduits Gereformeerde nie, maar niemand kan ontken dat Hy ’n figuur was wat gereformeer het nie, miskien het hy selfs ook getransformeer.

Dus sê ek: Kom ons volg in sy voetspore.

  • Heinrich Nienbaer studeer tans LLB aan die Universiteit van Pretoria. 
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

  • Meer oor:  Mening  |  Studente  |  Die Student
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.