Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Eendrag se nuwe prim is nie wit nie... So What?

Liam Cloete en Tristan Lewis is onlangs verkies as die manskoshuis Eendrag by die Universiteit van Stellenbosch se eerste bruin primarius en onderprimarius. Hul koshuismaat, Juan Steyn, vertel.

Liam Cloete en Tristan Lewis. Foto: Verskaf
Liam Cloete, Juan Steyn en Tristan Lewis. Foto: Verskaf

Die Universiteit Stellenbosch is nie meer dieselfde plek as wat hy een, twee of tot selfs drie dekades gelede was nie. Maar ondanks menige probeerslae – bekgevegte oor taalbeleid, eksklusiewe inklusiwiteit en ’n apolitiese studenteraad wat blyk net politieke partye te verteenwoordig – het hier nie eintlik aardskuddende verandering plaasgevind nie.

Ek moet bieg, dit is moeilik om veranderinge raak te sien terwyl jy nog studeer: Rustige aande in die Akker smelt saam tot gespanne aande voor die boeke, en voordat jy jou oë kan uitvee, sit jy met ’n graad en sonder werk.

Ek is in my sesde jaar op Stellenbosch en ek sou sê dit is net-net lank genoeg vir my om die inkrementele verandering raak te sien op kampus – volgens my pa is dit ook darem nou lank genoeg en miskien moet ek maar dié jaar klaar swot.

Vir ’n halwe dekade het ek die voorreg gehad om in die manskoshuis Eendrag te kon woon. Hulle noem my ’n Goue Arend, en ek kom reeds in aanmerking vir Sluiper van die Jaar. In ’n tydperk dat die gemiddelde student net vir drie of vier jaar in ’n koshuis kan woon, is dit glo nogal ’n prestasie.

Vir drie uit die vyf jaar het ek in ons huiskomitee gedien, en ondanks my verbete probeerslae kon ek nooit die huis oortuig dat ek dit waardig is om primarius te wees nie. Ek sou dit wou toeskryf aan ’n klomp faktore, maar in alle eerlikheid sou ek dit net wou doen vir die status en nie om die huis te dien nie.

Die dinamiese rol van ’n primarius in Eendrag is nog elke jaar bepaal deur wat die huis benodig. In my derde jaar het ons geen sosiale geleenthede by Eendrag gehou nie, bloot omdat ons ’n vrot kultuur gekweek het. Dit was nie ’n kwessie van of die universiteit gaan ingryp nie, maar eerder wanneer.

Ek het onder ’n fantastiese primarius gedien wat gesorg het dat samehorigheid die wagwoord word, en elkeen van sy opvolgers was ’n toonbeeld van karakter, styl en trots.

(Ek hoor hulle bepaal in Huis Marais die primarius op grond van wie die langste baard het, maar dit kan bloot ’n gerug wees).

’n Nuwe primarius

Ons het onlangs ’n primarius gekies wat ek sou beskryf as die hardwerkendste, mees deurdagte en intelligentste student in aktuariële wetenskappe, ’n kranige sportman en een van natuurlikste leiers wat absolute vreugde vind daarin om ander te bemagtig.

Liam het belowe hy stel homself verkiesbaar om die huis te leer wat dit beteken om foute te maak en te leer daaruit, om mense te bemagtig en om leiers te ontwikkel. Hy wil ook leiers kweek wat relevant en nodig is.

Elkeen is ’n leier – van ’n vaderfiguur tot ’n uitvoerende hoof – en Liam Cloete wil elkeen só ontwikkel.

En dit is presies hoe ek hom aan ander beskryf. Ek vertel van sy werketiek en dat hy net vier ure per aand slaap sodat sy dag langer kan wees en hy meer kan bereik.

Hy het op sy eie ’n program vir leierskap geskryf wat mense gaan bevoordeel wat hy nog nie eens ontmoet het nie met die ontwikkeling van die moderne leier as fokus. En het jy geweet, hy sêr ook?

Die feit dat hy ’n ander velkleur het as ek, is nie eens noemenswaardig nie – ek sal veel eerder bekommerd wees oor die feit dat hy ’n Namibiër is.

Sy luitenant, Tristan Lewis, ag ek en die res van Eendrag net so hoog; die enigste verskil tussen hom en Liam is hul manier van leiding neem.

Juan Steyn.

Eendrag het nou sy eerste bruin primarius gekry. En ek is verheug dat dit nie ’n opskudding veroorsaak het nie. Ja, ’n paar wenkbroue is gelig by die aankondiging, maar nie omdat ons primarius nie ’n generies Afrikaanse naam het nie.

Ek dink dis eerder omdat almal weet al drie kandidate was ewe sterk en ewe geskik vir die rol. Maar Eendrag in 2018 en 2019 het Liam Cloete aan die stuur nodig.

Dit vat niks weg van diskriminasie en rassehaat wat nog volop is in ons samelewing nie. Dat ons nie meer iemand kwalifiseer op grond van sy velkleur nie, is egter tog ’n aanduiding dat die nuwe generasie Suid-Afrikaners gereed is om vorentoe te kyk eerder as om hul blik op die verlede te vestig.

Beproef alles, en behou die goeie – en Liam Cloete is die room van die room.

  • Juan Steyn (24) is 'n finalejaar LLB-student aan die Universiteit Stellenbosch. Hy kom oorspronklik van Bellville.
Meer oor:  Universiteit Stellenbosch  |  Menings  |  Die Student  |  Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.