Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Eerstejaars: Dis oukei om jou 1ste toets te dop
Mia Bosman
Mia Bosman

Ek het in Pretoria my tassies gepak om BRekLLB aan die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

Baie opgewonde oor die idilliese studentedorpie waarvan almal praat, maar min wetende waarvoor ek myself regtig inlaat.

Ek het ’n paar dinge uit eie ervaring en van my vriende se foute geleer. Ek deel dit graag met ander wat ook ver weg van die huis gaan studeer.

Jy het dalk nou ’n hele paar onderskeidings in die sakkie ná jou matriekeksamen. Jy is vol selfvertroue dat jy slim en ten volle toegerus is vir die nuwe akademiese jaar op universiteit.

LEES OOK: Hoe om jou lewe in jou 1ste jaar te verwoes...

Moet egter nie dink jy gaan dieselfde punte kry of alles vinnig verstaan soos jy op skool het nie. Maak nou al vrede daarmee dat die volume groter is, werk gevra word wat jy nie geleer het of nog ooit van gehoor het nie. ’n Mens hoef ook nie alles onder die knie te hê voor ’n toets soos op skool nie.

Dis oukei om jou eerste toets te dop. Moenie te streng met jouself wees nie. Graadvang is nie vir sissies nie. Sit dit agter jou en beweeg aan. Jy hoef ook nie vir jou ouers daarvan te vertel nie.

Gaan spreek dosente. Al het jy nie regtig ’n vraag nie of al kom jy reeds deur. Hulle onthou jou en sal jou help in nood. Hulle verklap ook dikwels wat belangrik is vir ’n toets sonder dat hulle dit agterkom. Jy het nie nou meer die oulike juffrou op skool wat jou met ’n lepeltjie voer of wat vir jou ’n “veiligvoel”-papiertjie gee wat ’n opsomming van die werk is nie.

Hoe om jou lewe in jou 1ste jaar te verwoes...

Jy moet self ’n afspraak met die dosent maak en self jou baan weg na ekstra hulp.

Verder, steek jou hand op in die klas. Vra iets, antwoord of gee jou opinie. Al is jy hoe ver verkeerd. Waag dit net.

Wees versigtig

Daar is ook ’n paar dinge om voor versigtig te wees. Dit is nie te sê ek was ’n slagoffer of dat jy een gaan wees nie, maar wees maar net bewus en op die uitkyk.

  • Pasop vir pons oftewel punch wat uitgedeel word by kuiers of koshuisfunksies. Jy weet nie wat daarin is nie en dit smaak soos koeldrank. Dit kan jou kop vinnig laat draai.
  • Pasop vir series kyk. Ek het nooit self series gekyk nie, maar ek weet dit is verslawend. Net een episode word twee, twee word drie en voor jy jou oë uitvee is die dag verby.
  • Pasop vir vroegoggendkuier. Na my mening stem jy toe tot gevaar enige tyd ná 24:00 in die dorp. Mense is dronk.

Mense verskil

Wees oop vir verskillende soort mense. Moenie dink almal is soos waar jy vandaan kom nie.

Moet ook nie dink jy gaan jou close vriende van skool, wat almal nou by ander universiteite is, vervang nie. Inteendeel, jy gaan aanvanklik skrik oor hoe mense regtig verskil, veral as jy na ’n ander deel van die land toe gaan. Mense het verskillende agtergronde en verskillende sienings. Moenie dink mense is weird net omdat hulle nie soos jy is nie.

Wees oop vir verskillende soort mense.

Besef jy moet jou eie ma wees. Soos hulle sê: “Mother yourself.” Jy moet self vir jouself sê dis tyd om die selfoon af te sit, dis tyd om te leer, op te ruim en huis toe te gaan. En moenie skrik as jou sjampoeof tandepasta op is nie. Jy moet dit net self gaan koop.

Laastens, dink heeltyd aan en maak gebruik van hulp rondom jou. Jy is nie die eerste of enigste een wat as ’n eerstejaartjie van ver af kom en self moet aanpas in ’n nuwe omgewing nie.

Herinner jouself voortdurend

Van die bogenoemde is vanselfsprekend en jy weet dit klaar. Maar herinner jouself dikwels daaraan, want as jy eers in een van hierdie situasies is, is alle raad skielik vergete. Geniet jou studentejare ten volle, maar ook verantwoordelik.

Tref ’n goeie balans tussen studentwees en grootmens probeer wees.

Jy is egter net een keer ’n student, so geniet ’n behoorlike studentelewe, maar moet niks oordoen nie. Tref ’n goeie balans tussen studentwees en grootmens probeer wees. Voordat jy kans kry om nog ’n keer Leeukop te gaan klim of in die berg te gaan draf of ’n wynplaas te besoek, moet jy terugkom huis toe.

  • Mia Bosman het haar BRekLLB-grade aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy is tans besig met haar BRekHons aan die Universiteit van Johannesburg.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.