Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ek bly nét hier – vol stof en angs
Colette Combrink Colette Combrink
Colette Combrink

Terwyl ek hier skryf, slaap wildvreemdelinge in die kamer langs my in my ouerhuis – hul kar het iewers naby ons plaas gebreek en toe ek weer sien, daag my pa met ’n lot mense by ons huis op. Ek het meer vleis uit die vrieskas gaan haal en ’n groter pot pap opgesit en so is die dag ’n bietjie makliker gemaak vir mense wat in die moeilikheid beland het.

Drie maande gelede rol ek my kar langs ’n grondpad in die middel van die Karoo, ’n oom laai my langs die pad op en die dorpsmense vou soos watte om my (’n shoutout aan Sutherland en oom Dekker en tannie Magda wat my hart vir ewig het). Hulle verbind my wonde en vee my trane af en help met alles. Die volgende dag toe my ouers opdaag, word hulle net so mooi hanteer.

’n Maand gelede vra ’n nuuskierige tannie op ’n trein my uit oor my studies. Sy sê haar seun gaan Londen toe sodra hy klaar gestudeer het. Ek sê ek gaan nêrens heen nie, en sy skrik haar boeglam. Die tannie kan nie verstaan hoekom ek wil blý nie: “Hoekom sal enigeen dit uit vrye wil doen?” vra sy.

Die tannie jok nie as sy die lys redes opnoem om landuit te gaan nie, en niemand kan daarmee stry nie. Ons land het lyste en lyste vol probleme, waarvan sommige lyk asof dit nooit opgelos gaan word nie.

Ons land het lyste en lyste vol probleme, waarvan sommige lyk asof dit nooit opgelos gaan word nie.

Mense is kwaad en ontsteld oor korrupsie, die staatsdiens, geweld, padvarke, die droogte, ek kan vir ewig aangaan. En elke keer wanneer iemand my vra hoekom ek bly, moet ek ook eerlikwaar al hierdie dinge herevalueer en opweeg en agter my elektriese heining in my huis vol diefwering sit en myself afvra wat ek regtig wil hê hierdie lewe moet wees.

My keuse

My middelklas-onderrok hang ver uit, en ek weet hoe bevoorreg ek is, maar dit beteken ook nie dat ek nog nie hierdie land aan my lyf gevoel het nie. Ek was al die teiken van diefstal en geweld, daar is al haat in my rigting gegooi weens my taal, velkleur en geslag en soms voel dit hulle is dalk reg. Dalk is ek te wit vir Afrika. Maar dan kom ek in die buiteland en besef vinnig dat ek ook ’n bietjie te “Afrika” vir die Weste is.

In Suid-Afrika leer ons dis oukei om anders te wees, dis oukei om jouself te wees – al is jou kultuur heeltemal anders as myne, is daar genoeg plek vir ons albei.

In Suid-Afrika leer ons dis oukei om anders te wees, dis oukei om jouself te wees – al is jou kultuur heeltemal anders as myne, is daar genoeg plek vir ons albei. Om met mense wat anders as jy is om te gaan, leer jou meer as wat jare tussen “jou” mense in ’n homogene samelewing jou ooit sal leer.

So, ek kies dan maar die risiko. Ek kies die risiko van die andersheid. Ek kies die risiko van ruimte en somerdonderstorms en stormagtige politiek. Ek kies die risiko van die grondpaaie in die beeldskone Karoo. Ek kies mý risiko’s, mý dam se eende en mý land se probleme – dan hoef ek nie met nuwe probleme (lees natuurrampe en “Trumps”) opgeskeep te sit nie.

LEES MEER: Daar is hoop! Alles gaan oukei wees

Ek lê en luister na die wind wat huil en wag vir die eerste goeie winterreën – ek kon vanmiddag op die plaas gaan stap en na die sonsondergang kyk. Môre staan ons op en eet ontbyt saam met vreemdelinge wat nou vriende is, ry ek stad toe en wéét ek gaan heel moontlik ’n bietjie ontsteld oor ’n taxibestuurder of twee raak. En ek gaan aangaan – nie omdat “iemand ons uit hierdie gemors moet kry nie”, maar omdat dit ’n voorreg is om elke dag darem te probeer.

Ek bly.

  • Colette Combrink (20) studeer aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Sy is oorspronklik van Ermelo, Mpumalanga.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 of die Noordwes-Universiteit nie.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie oor die #ImStaying-beweging. Studente word gevra om meningstukke te skryf oor hoekom hulle in Suid-Afrika wil bly. Die wenner staan die kans om R5000 te wen.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees nog meningstukke hier.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.