Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ek droom van 'n SA sonder plaasmoorde'
Dominique Fuchs
Dominique Fuchs

My begeerte, soos byna alle Suid-Afrikaners is om oor 20 jaar in ’n Suid-Afrika met minimale geweld, werkloosheid en ongelykheid te leef. Ook dat Suid-Afrikaners meer begrip het vir die diverse kultuur- en taalgroepe in ons land. Ek wil my nie oor 20 jaar op Mars bevind omdat dit die enigste uitweg is nie.

In die afgelope 20 jaar het Suid-Afrika groot spronge gemaak. Dis só maklik om vasgevang te raak in al die slegte dinge, maar daar is altyd meer goed as sleg.

Ons het nie ’n diktator, burgeroorloë, militante groepe en absolute chaos in ons land nie. Ons land is nie perfek nie, maar dit funksioneer. Daar is nie hongersnood soos in Jemen of weeklikse skietvoorvalle by skole soos in Amerika nie. Ons president se hande is dalk nie heeltemal skoon nie, maar hy snou nie sy teenstanders kinderagtige dinge in die publiek toe nie en is ook nie ’n chauvinis nie. Inteendeel, hy ken die helfte van die kabinetsampte aan vroue toe.

Oor 20 jaar sal ek wil sien dat Suid-Afrikaners hulle hartlikheid, warmte en vriendelikheid behou het. Daar is ’n oopheid eie aan Suid-Afrikaners wat ’n mens verskriklik mis as ’n mens oorsee is. In lande soos Oostenryk en Duitsland is die mense maar bra nors en bot.

Plaasmoorde moet iets van die verlede wees, verkragting moet uitgewis wees en daar moet vertroue in die polisie wees.

Plaasmoorde moet iets van die verlede wees, verkragting moet uitgewis wees en daar moet vertroue in die polisie wees.

Verder moet korrupsie ook uitgewis word. Dié bal is reeds aan die rol gesit deur die Zondo-kommissie en nie-winsgewende besighede soos Corruption Watch.

Alle poste, in die parlementêre, sport- of werksfeer, moet verkry word uit meriete en nie op grond van velkleur nie.

Kinders moet van jonk leer

Die goue vraag is altyd hoe. Hoe kan ons Suid-Afrika daadwerklik verbeter? Ons kan dalk nie self ’n reusagtige invloed hê om die land se armoede hok te slaan of die polisiediens te verbeter nie. Ons moet net klein begin, ’n klomp klein stukkies Lego’s bou een groot Millennium Falcon.

Daar is dikwels konflik tussen verskillende kultuur- en taalgroepe omdat ons mekaar nie verstaan nie. As ons meer van verskillende groepe se tradisies en kulture leer, sal alle Suid-Afrikaners mekaar beter kan verstaan en sal daar ’n groter kans wees om in harmonie te kan saamleef.

Ons moet net klein begin, ’n klomp klein stukkies Lego’s bou een groot Millennium Falcon.

Dit sal verskriklik verrykend wees as elke skoolgaande Suid-Afrikaner drie of meer van Suid-Afrika se 11 amptelike tale onder die knie moet kry. As daar in vakke soos lewensoriëntering geleer kan word van elk van die 11 amptelike tale, hul kultuur en tradisies, sal dit verrykend wees. In geskiedenis kan geleer word van die verskillende kulture se herkoms in Suid-Afrika.

As ons weet wat in die geskiedenis gebeur het, sal ons mekaar soveel beter kan verstaan. Inklusiwiteit en ’n dieper verstaan van jou medemens sal op hierdie maniere bevorder kan word.

Ken geskiedenis – goed én sleg

Aan die jeug, dit is ons taak om ons kinders op te voed. Opvoeding is nie net beperk tot skole nie. Ons sal ons kinders moet leer van Suid-Afrika se geskiedenis. Die goeie én die slegte. “Monkey see, monkey do.” Deur ons voorbeeld sal ons kinders se gedrag bepaal word.

Suid-Afrikaners moet ook ophou om veralgemenings te maak oor mense van dieselfde ras of kultuur. Só sal aanvaarding aangehelp word. Alle witmense is nie ritmeloos nie, alle bruinmense is nie gebore dansers nie en alle swartmense is nie luidrugtig nie.

LEES MEER: Suid-Afrika, sy is ons s’n

Ons kan ook nie net aanskou hoe ongeregtighede plaasvind nie, ons moet iets daadwerkliks daaraan doen. In ons generasie is die nuwe in-ding om alle ongeregtighede wat in die wêreld plaasvind op jou Instagram-status te deel. Bewusmaking is fantasties, maar doen jy regtig iets daaraan? Tel jy plastiek langs die straat op en help om strande skoon te maak, of is jy maar net ’n prater en nie ’n doener nie? Of is jou blaf groter as jou byt?

Voorwaarts mars – kom ons doen iets sodat dit nie vir ons nodig is om oor 20 jaar op Mars te bly nie.

Wyse woorde uit die mond van die skrywer Paulo Coelho: “Die wêreld word verander deur jou voorbeeld, nie deur jou opinie nie”.

  • Dominique Fuchs (19) studeer BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.