Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ek het matriek twee keer gedoen'
Brendan Coetzee
Brendan Coetzee

Dit was 2011. Aan die begin van my matriekjaar by die Hoërskool Pretoria-Noord. Ons leuse is “Voor in die wapad brand ’n lig”.

Vir 17-jarige Brendan was al lig wat saak gemaak het, die A-rugbyveld se spreiligte op ’n Vrydagaand wanneer ek vir die eerstespan kon uitdraf. Dit was die lig wat my rigting gegee het. Die lig wat my lewe heeltemal verander het.

Net soos duisende Suid-Afrikaanse laaities, wou ek rugby speel vir ’n lewe, want dan sal ek mos ’n held wees en die wêreld verander. Dit het my alfa en omega geraak, want dan sal ek mos goed genoeg wees.

Min het ek geweet dat my toekomsplanne meer sou verander as Cyril se kabinet.

Nóg ’n jaar op skool?

Dit was veronderstel om die droomjaar te wees. Ek het die stereotipe van “elke Suid-Afrikaner wat rugby speel het net twee pitte” gepas soos ’n handskoen want ek was meer op die sportveld as agter my boeke (jou rapport lieg nie al probeer jy hoe hard daarteen stry). Ewe skielik het die realiteit ingeskop dat ek dalk nie matriek sou maak nie. Skande.

Ewe skielik het die realiteit ingeskop dat ek dalk nie matriek sou maak nie. Skande.

Na ’n handvol gesprekke met my pa, wat my beste vriend is al vandat ek kan onthou, het ek tot oorweeg om teologie te gaan studeer want my punte was laer as Stephen Larkham se woer-woer skepskop in die 1999 Wêreldbeker-halfeindstryd.

Ek was bekommerd. Bekommerd oor hoe dit vir ander mense sou lyk. So tussen my ego en tweede pouse deur het ek skielik nie meer geweet waarheen ek op pad is nie. Dit is toe my pa (het ek al genoem dat jy jou pa moet begin waardeer want hy weet 99% van die tyd meer as jy) die voorstel maak dat ek my matriekjaar moet gaan oordoen.

“Post-matriek? Hoe bedoel Pa dan nou?”

Ek het tot in ’n stadium vir my pa-hulle vertel ek voel geroepe deur die kerk om in die bediening in te gaan. Enigiets om net nie nog ’n jaar op die skoolbanke te sit nie.

Ek het aanvanklik gedink my ouers trek my ’n streep omdat ek matriek net-net geslaag het. Maar hulle was ernstig. Ek het tot in ’n stadium vir my pa-hulle vertel ek voel geroepe deur die kerk om in die bediening in te gaan. Enigiets om net nie nog ’n jaar op die skoolbanke te sit nie.

Min het ek geweet dat die jaar 2012 my hele lewe onherroeplik sou verander.

Spreiligte maak weer sin

Standerton – die plattelandse dorpie amper so klein soos Cheslin Kolbe.

Hier sit ek weer, op skool, kwaad vir die wêreld en almal in hom. Ek het twee weke lank my klere teruggepak in die boks sodat ek kan terugtrek Pretoria toe. Want hier gaan ek nie bly nie.

My ma het my buie geïgnoreer soos wat die Guptas die landswette ignoreer en ek moes vrede maak dat dit my lot gaan wees vir die jaar. Gelukkig het die liewe Here geweet dat Standerton presies die plek is waar ek veronderstel was om te wees.

LEES OOK: JOU BEROEP: Jy hoef nie op 18 al te weet nie

Einde 2012 het aangebreek. Ek is gekeur om LLB regte te gaan studeer aan die Universiteit van die Vrystaat of beter bekend as Kovsies. Reeds ’n dag-en-nag-verskil van die laaitie wat geroepe gevoel het deur die kerk.

Ek het uiteindelik gedink dat ek nou sterk op pad is om ’n prokkie te word, klomp geld te verdien en reg om my droomvrou te gaan ontmoet in die Rosestad. Maar dit was maar net die snelweg wat my vinniger by my droom sou uitkry.

Maar dit was nie die woorde wat my tot stilstand gebring het nie, nee, dit was die uitdrukking op daardie afrigter se gesig van ’n oorweldigende nederigheid

Dit is hier waar ek een Saterdag by ’n Interskole tussen Grey Kollege en die Hoër Jongenskool Paarl op die regte tyd op die regte plek was waar ek een van Grey Kollege se jongerspanne hoor sê: “Coach, dankie dat coach in ons bly glo – we salute you.”

Maar dit was nie die woorde wat my tot stilstand gebring het nie, nee, dit was die uitdrukking op daardie afrigter se gesig van ’n oorweldigende nederigheid. Dit is hier waar ek besef het dat die spreiligte in 2011 nou baie meer sin maak as toe.

Fokus op wat goed is

Ek is sak en pak terug huis toe daardie Desember. In my hart het ek nog altyd geweet waar ek hoort.

Waar gaan jy ’n beter verhoog kry om ’n regte superheld te wees as in die onderwys?

Ek kry elke dag die geleentheid om in die klaskamer en tussen die vier lyne te wees. Ek sien die gesigsuitdrukkings wanneer ons wen en ek is daar met ’n woord van bemoediging as die telbord nie in ons guns is nie.

Wees tevrede met wie jy is want as jy min het soek jy meer, as jy meer het, soek jy nog meer, totdat jy alles verloor, eers dan sal jy besef min was genoeg gewees.

Ek sien die hartseer wanneer ’n kind hard werk en nie die gewensde resultaat kry nie, ek ervaar die pure genot as die bal binne toe hop vir die heelagter wat onder die pale gaan druk. Bietjie vir bietjie en stukkie vir stukkie is die jeug besig om weer my hoop vir Suid-Afrika terug te bring.

My raad aan jou is – volg jou droom, val so nou en dan, maar staan weer op want jy weet nooit watter mens ’n nuwe superheld nodig het nie.

Suid-Afrika het JOU nodig om jou drome te volg, Suid-Afrika het jou nodig om te fokus op dit wat wel goed is in ons land.

Wees tevrede met wie jy is want as jy min het soek jy meer, as jy meer het, soek jy nog meer, totdat jy alles verloor, eers dan sal jy besef min was genoeg gewees.

  • Brendan Coetzee (26) is 'n finalejaar onderwysstudent aan UNISA. Hy is ook 'n onderwyser by die Hoër Tegniese Skool Middelburg. Hy kom oorspronklik van Pretoria-Noord en woon tans in Middelburg, Mpumalanga.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees nog meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.