Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ek hoop nou nie ek gee aanstoot nie, maar . . .
Schalk Bezuidenhout
Schalk Bezuidenhout. Foto: Martin de Kock

Soos ek hierdie Word-dokument oopmaak en na die wit bladsy staar, is ek bang.

Ek wil oor moeilike onderwerpe skryf en ek wil ook oor dieselfde onderwerpe grappies maak, maar dis deesdae ’n moerse dobbelspel net om woorde op papier te sit.

Soos om joga tussen ’n klomp landmyne te doen. Soos om oorskiethoender wat ’n paar dae oud is te eet. Soos om aan jou vriendegroep te erken dat jy elke nou en dan nog na Michael Jackson luister.

Ek dink ons leef in die sensitiefste tyd nóg. Dis die era van woke. Dis nie net dat almal heeltyd aanstoot neem nie . . . dis dat almal heeltyd wíl aanstoot neem.

Ons sit elke grap, elke meme, elke artikel, elke toespraak soos ’n wetenskaplike onder ’n mikroskoop. Ons bestudeer dit in die hoop dat ons tog ietsie sal vind waaroor ons op ’n passievolle manier ’n opinie kan hê.

En as ek sê passievol bedoel ek PASSIEF*KK*NVOL! Asof ons die Magic Johnsons van aanstoot is. Daardie vorige sin is opsigself seker op een of ander vlak aanstootlik. Ek weet nie hoe nie. Maar glo my, iemand sal ’n manier vind om aanstoot te neem.

Miskien iets soos: “Hoekom gebruik jy Magic Johnson as ’n voorbeeld, Schalk? Hoekom nie Tiger Woods nie? Is Magic nie al deur genoeg nie? Nou moet hy nog as punchline dien in een van jou patetiese Netwerk24-artikels?”

Dis mos lekker om gekrenk te wees. Dan kan jy nou soos die Social Justice Warrior wat jy is jou duimpies blou twiet en rustig gaan slaap wetend dat jy vandag ’n verskil gemaak het.

In die leeukuil

Ek het vanjaar opgetree by die Johannesburg International Comedy Festival.

Daar was baie internasionale komediante wat ook opgetree het en die fees reël toe ’n uitstappie na ’n leeupark. Ek het eintlik saamgegaan omdat ek gedink het dit sal ’n goeie geleentheid wees om met komediante van oral in die wêreld te network en hopelik ’n paar kontakte vir toekomstige internasionale optredes op te bou.

In die proses van networking en leeus beland daar toe ’n video op Instagram van waar ek ’n welpie vryf. En ek gaan nie lieg nie . . . DIT WAS AMAZING OM DAAI WELPIE TE VRYF HY WAS SO CUTE!

SCHALK SKRYF OOK: 'Geld is darem maar ’n afskuwelike ding'

Al die cuteness in die wêreld kon my egter nie red van die sh*tstorm in die comment section nie. Ek haal een van die kommentare aan: “Agenee @schalkiebez! Ek is baie teleurgesteld in jou. Jy moes surely van beter geweet het en al van die hele bedryf gehoor het. Not cool. Not funny. Not a joke.

Ek was baie naïef as dit by leeuparke kom en in die proses het ek besef dat dit nie ’n cool ding is om te ondersteun nie en as dit so aanhou gaan ons nooit Lion King 3 sien nie.

Ek het ’n fout gemaak en ek het iets daaruit geleer. Maar stuur ’n WhatsAppie, man. Dis mos nie nodig om elke persoon wat ’n fout maak met digitale klippe te stenig nie?

Ek het ’n fout gemaak en ek het iets daaruit geleer. Maar stuur ’n WhatsAppie, man.

Dis mos nie nodig om elke persoon wat ’n fout maak met digitale klippe te stenig nie?

Bill Cosby vs. Jack Parow

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Sekere foute is groter as ander. Mense is deesdae geneig om alles oor dieselfde kam te skeer en hulle wil hê dieselfde gevolge moet vir almal geld.

Maar die Bill Cosby-situasie is nie dieselfde as Jack Parow wat einde verlede jaar ’n meme op sosiale media geplaas het waarin die woord “m*ffies” verskyn nie. Ons leef in wat hulle noem ’n cancel culture – geen verlossing vir enigiemand nie.

In die Jack Parow-geval sal dit beteken dat jy hom unfollow op sosiale media en al sy musiek van jou foon af vee of sy CD’s verbrand (as jy ooit nog enigiets het wat ’n CD kan speel). En as jy twee-uur in die oggend dronk in ’n klub is en ’n Jack Parow-liedjie begin speel, dan bestel jy maar daai Ubertjie.

Dis mos nie nodig om elke persoon wat ’n fout maak met digitale klippe te stenig nie?

Ja, dit was dom van Jack Parow om daardie meme te post. Ja, daar was mense wat aanstoot geneem het, selfs seergemaak is.

Maar om te probeer om hom permanent uit die geskiedenisboeke uit te vee? Ek weet nie . . . miskien is ek te sensitief oor mense wat sensitief is.

Ons aanstoot is ook maar skynheilig

Natuurlik moet ons aanstoot neem. Natuurlik moet ons mense uitwys wat net pleinweg beledigend is.

Maar as ek volgens die beginsel geleef het dat ek iemand sal afskryf as hulle iets kwytraak wat nie polities korrek is nie, dan het ek nou nie meer ouers gehad nie. Hel, ek sou myself lankal moes afskryf!

Hou ook in gedagte dat, as dit by aanstoot kom, is ons almal skynheilig. Jy neem aanstoot omdat die kwessie na aan jou is.

Mense sê offensive sh*t. Dis deel van die lewe. Probeer iemand reghelp en rehabiliteer eerder as kruisig en kastreer.

Die Anglo-Boereoorlog-grappie gee jou aanstoot omdat jou ouma se ouma dalk in daardie konsentrasiekampe dood is. Maar ’n halfuur vroeër was jy besig om jou gat af te lag vir die materiaal oor Hitler en Michael Jackson.

Mense sê offensive sh*t. Dis deel van die lewe. Probeer iemand reghelp en rehabiliteer eerder as kruisig en kastreer.

Ek hoop van harte dat hierdie stuk jou nie aanstoot gegee het nie.

  • Schalk Bezuidenhout (27) is 'n komediant en 'n gasskrywer vir Die Student. Hy het drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer en kom oorspronklik van Kempton Park.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.