Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ek hoor jou, Steve. Maar verraad teen wie?
Steve Hofmeyr. Foto: Felix Dlangamandla

In 1992 het die destydse president, FW de Klerk, aan wit Suid-Afrikaners ’n referendum gestel om te vra of die wit populasie die hervormingsproses, wat twee jaar vroeër (1990) deur hom begin is, ondersteun.

Dit was om, deur onderhandeling met ander partye, ’n nuwe Grondwet op te stel. Die nuwe Grondwet sou die einde van die apartheidsera beteken. ’n Demokratiese verkiesing vir alle rasse. ’n Nuwe Suid-Afrika.

Die uitkoms van die referendum het die hele land geskok. ’n Ja-stem van ongeveer 68% van die publiek. Die onderhandelinge oor ’n nuwe Grondwet en demokratiese verkiesing kon begin. Dit lei tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994. Die ANC wen die verkiesing en Nelson Mandela word tot die eerste swart president van Suid-Afrika verkies.

Dit klink soos ’n suksesstorie, nie waar nie?

Opinies verskil.

In ’n onlangse Facebook-inskrywing van die sanger (en selfaangestelde politikus) Steve Hofmeyr, “erken” hy dat hy skuldig is aan verraad teen sy nasie en ook hoogverraad teen sy God is.
(Lees hier meer oor Steve Hofmeyr se Facebook-inskrywing).

Waaroor voel hy so skuldig? Oor sy ja-stem in die 1992-referendum. 

(Hy noem ook dat hy dus ja gestem het vir kommunisme, maar weens die belaglikheid daarvan gaan ek hierdie deel ignoreer). 

Hofmeyr is bekend vir sy politieke uitlatings in die openbaar en op sosiale media, en hierdie byvoeging tot sy repertoire van skokstellings het my tot stilstand geruk.

Ek is nie vreeslik ingelig of geïnteresseerd in die politiek oor die algemeen nie en ek dink ook nie as sanger en kunstenaar het ek enige gesag op daardie gebied nie.

Maar die bogenoemde stelling van Hofmeyr strek verder as net politiek. Dit lê halfpad op die gebied van geloof en ook, volgens my, op die gebied van moraliteit.

Vanuit Hofmeyr se kort post kan ek die volgende logiese gevolgtrekkings maak:

1. Hy voel dit was verraad teen sy nasie (of volk) om ja te stem vir ’n nuwe Grondwet en onderhandelings wat uiteindelik tot die einde van apartheid sou lei.

2. Hy voel ook dit was hoogverraad teen sy God om ja te stem vir die bogenoemde onderhandelings en die gevolge daarvan.

Kook die bogenoemde in ’n pot saam en dit wat oorbly van Hofmeyr se stelling, is die volgende:

1. Sy nasie of volk was ten gunste van die apartheidsregering.

2. Sy God was ten gunste van die apartheidsregering.

Alhoewel hierdie dalk ’n oordrywing en selfs ’n vereenvoudiging van Hofmeyr se stelling is, voel ek tog dit is die essensie van sy woorde.

Wat beteken dit dan? Beteken dit dat die wit Suid-Afrikaners (Steve se nasie, soos hy dit noem) ten gunste van apartheid was en steeds is?

Is dié nasie ten gunste van onreg, diskriminasie, segregasie en onderdrukking? Vir my nog belangriker, is daardie nasie dan ook ten gunste van vernedering, verkleinering, mishandeling en ontkenning?

Die vraag staan dan ook; is Hofmeyr se God ten gunste van die bogenoemde?

Die teenargument kan natuurlik gemaak word dat daardie referendum gelei het tot die kwessies waarmee ons land vandag sukkel. Politieke onrus, korrupsie, finansiële agteruitgang, plaasmoorde, rassehaat en lyste probleme.

Tog weet ons dat ’n oplossings vir een probleem dikwels tot nuwe probleme lei; maar is dit nie die proses van vooruitgang nie?

Is dit dan verraad teen ons land waaroor ons moet bieg, of bloot verraad teen ons eie moraliteit?

Ek kan ook nie met oortuiging sê dat die bogenoemde lys van probleme wat die land ervaar, verskyn het ná die 1994-verkiesing nie. Waar mense is, is daar korrupsie en al die ander dinge.

Daar is ’n bekende kopkrapper met die volgende vraag: As jy in die verlede kon teruggaan, sou jy Hitler die baba vermoor?

Dit kom neer op ’n etiese kwessie van jou eie menswees. Sal jy jouself skuldig maak aan moord om ’n tragedie te keer wat later sal gebeur? Of is jy dan ook skuldig as jy niks doen nie?

Maar wat as jy Hitler as baba vermoor en dan uitvind dat daar ’n ander tragedie of oorlog daarvolgens ontstaan het? Het jy dan nie jouself vir geen rede verraai nie?

Hierdie vraag het baie in gemeen met die stelling waarmee Hofmeyr ons konfronteer.

Dit is ’n doolhof, een sonder uitkoms of oplossing.

Om jou eie opinie as die waarheid te stel, is ook om iemand anders hul opinie en waarheid te ontneem.

Almero Welgemoed

Om ja te sê vir een ding, is ook om nee te sê vir die ander ding. Is dit dan verraad teen ons land waaroor ons moet bieg, of bloot verraad teen ons eie moraliteit?

My mense en gemeenskap is nie ten gunste van die regering van voor 1994 se keuses nie. My mense en gemeenskap is ook gekant teen enige vorm van vernedering of onderdrukking, waarvan apartheid onteenseglik ’n voorbeeld is.

My God is nie ten gunste van mishandeling of haat nie. Maar my God is ook nie ten gunste van plaasmoorde en onreg nie.

My mense is nie ten gunste van korrupsie en misdaad nie.

Ek weet nie of daar ’n oplossing is vir die kwessie wat Hofmeyr se stelling aanraak nie.

Wat ek wel wil sê, is:

My mense is nie Steve Hofmeyr se mense nie.

My God is nie Steve Hofmeyr se God nie.

Of dalk eerder:

My mense is jou mense, Steve. Ek ken hulle net anders.

My God is jou God, Steve. Ek ken Hom net anders.

  • Almero Welgemoed (21) studeer sielkundige berading aan Unisa. Hy kom van Bloemfontein af en is ook heeltyds 'n musikant en skrywer. 
Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Die Student  |  Studente  |  Mening  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.