Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ek is 21 en 'n eerstejaar. Dit beteken nie ek is 'n mislukking nie'
Disheveled woman sits at the computer and crying c

’n Mislukking. Wie ken nou nie die gevoel nie?

Niemand geniet dit om soos een te voel nie, maar ons almal ken dit.

Teen April in my tweede jaar het die gevoel van mislukking my begin onderkry. Ek was ’n meisie met ’n plan. Op 18 het ek gedink ek weet baie van die lewe af. My pad vorentoe was uitgelê en met selfvertroue het ek dit aangepak. Ek het in 2018 regte aan die Universiteit van Pretoria begin studeer. ’n Nuwe stad, nuwe vriende en ’n nuwe lewe.

Carmen Gröpp
Carmen Gröpp

My eerste jaar was uitdagend, maar om ’n student te wees was lekker! Regte was nie ’n maklike graad om deur te trippel nie, maar ek het steeds gedink dis wat ek moet doen. Die onsekerheid was reeds daar, maar dit moet tog normaal wees? Die eerste jaar op universiteit is ’n aanpassing vir die meeste mense.

Teen my tweede jaar het dinge egter lelik begin skeefloop. Die laaste ding wat ek wou doen, is regte studeer en hoe meer ek probeer het om myself te oortuig dat ek net moet vasbyt, hoe erger het dinge geword.

Ek haat dit om nie ’n ding klaar te maak nie. Ek is so grootgemaak en dit was iets waarop ek nog altyd trots was. Ek het vir niemand gesê dis hoe ek voel nie.

Voel soos ’n mislukking

Die gedagte daaraan het my soos ’n mislukking laat voel, al het ek van beter geweet. Ek kon nie eens dink aan studierigting verander nie. Hoe kan ek? Ek is in my tweede jaar . . . soveel tyd en soveel geld is dan verlore en wat sal die mense sê as hulle moet hoor?

Maar aan die einde van die eerste kwartaal het die damwal gebreek toe ek een aand met my ma praat en tussen die trane deur sê ek vir haar dat ek nie meer regte wil swot nie.

Dit was die begin van wat nog ’n onsekere en moeilike tyd in my lewe sou wees. Met die ondersteuning van my ma begin ons toe planne maak. Ek moes besluit wat ek vanjaar gaan studeer. Ek wou nie dieselfde fout twee keer maak nie. Ek het beroepsvoorligting gekry en ons het saam besluit ek gaan my jaar klaarmaak. Ek los nie ’n ding halfklaar nie, so ek gaan vasbyt.

My deursettingsvermoë, emosionele volwassenheid en aanpasbaarheid is nog nooit vantevore so tot die uiterste getoets nie.

Mense sal seker sê dat ek twee jaar van my lewe gemors het, maar wat ek in daardie twee jaar geleer het, sal my altyd bybly. My deursettingsvermoë, emosionele volwassenheid en aanpasbaarheid is nog nooit vantevore so tot die uiterste getoets nie.

Die idee dat ek op 21 weer ’n eerstejaar gaan wees, het soos ’n berg voor my gelê. Weer oor begin terwyl almal om my graad vang en begin met hul honneurs of ’n werk.

My familie en vriende het soveel ondersteuning aan my gebied dat ek nie anders kon as om gemotiveerd te voel om vorentoe te beweeg nie. My ma was my grootste steunpilaar en moes menige aand na ’n tranedal luister terwyl sy 500 km weg is. Sonder haar sou dit ook nie moontlik gewees het nie.

LEES OOK: Kom van daai stoel af en swot ’n bietjie

Ek is nog nie een dag spyt nie. Ek het besef wat hierdie skuif vir my gedoen het en uit watter donker gat dit my getrek het. Ek voel nie meer soos ’n mislukking nie, maar eerder trots dat ek die moed gehad het om te verander wat nie in my lewe gewerk het nie.

Ek weier om te doen waarvoor ek nie ’n passie het nie. Hier is ek nou: ’n 21-jarige eerstejaar. Gelukkiger as ooit tevore.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.