SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Die Student
‘Ek is bang om ’n onderwyser te word’
Le-Lanie Ludick.

In 2013 het ek aanlegtoetse gedoen om leiding te ontvang vir die dag wat ek my vakke en dan eendag my beroep sou kies. Een van my hoof-voorkeure was dat ek ’n beroep wil kies waarin ek veilig is.

Ek wou glad nie in beroepe in die polisie, weermag of brandweerdiens ingaan nie, omdat my lewe moontlik in gevaar sou wees.

Nooit in my wildste drome het ek gedink dat my toekomstige beroep, die onderwys, nie meer die veilige opsie is vir my nie.

Die veiligheid van onderwysers het ’n bekommernis geword. Onderwysers word aangerand, uitgeskel, gedreig en in een uiterste geval doodgemaak.

Die werklikheid is dat onderwysers nie genoeg regte het om hulself te beskerm teen die enkele leerlinge wat glo hulle is verhewe bo die onderwysers nie.

Wat het geword van leerlinge wat respek toon vir onderwysers? Hoekom is die onderwyser nou onderdanig aan die leerlinge se regte en eise?

Die onderwyser

Onderwys is nie ’n beroep wat ligtelik opgeneem moet word nie.

Dit is nie die beroep wat ek kies omdat ek te dom is om iets anders te studeer of net sport wil afrig nie (dis vir seker nie die rede nie). Dis die beroep wat ek kies omdat ek ’n verskil wil maak in ’n kind se lewe, al is dit hoe klein of groot.

LEES OOK: Leerling slaan skoolhoof in gesig, breek bril

Ek wil nie duisende rande maak of geloof en geprys word vir elke kind wat nou ’n opstel kan skryf omdat ek hulle geleer het nie.

Dit is ook nie ’n eensydige beroep nie.

In die klaskamer moet die leerling eerste geplaas word. Die verhouding tussen ’n onderwyser en die leerlinge is kompleks en uitdagend, maar sonder daardie verhouding is daar geen vertroue of respek nie. Maar hoe kan ’n verhouding gebou word op geen dissipline nie en wanorde in die klaskamer?

LEES OOK: Kyk: Seun gooi water oor onderwyseres

Volgens die wet het onderwysers regte wat hulle kan beskerm teen enige onregte in die werksplek.

Ongelukkig kan die onderwyser hom- of haarself nie beskerm teen die onregte in die klaskamer wanneer ’n leerling hulle vloek of aanrand nie. Die enigste uitweg is om die leerling te verkla en met trots terug te keer na die klaskamer en te wag dat die reg sy gang gaan. Terwyl die onderwyser wag vir geregtigheid, verlekker die klas hulself in die onderwyser se vernedering en die onderwyser verloor waarskynlik die respek wat hy of sy gehad het.

Die leerling

Elke kind in Suid-Afrika het die reg op onderrig. Tesame met daardie reg het hulle ook ’n verantwoordelikheid om skool by te woon en om soveel moontlik te leer in daardie 12 jaar.

Nie al die kinders wat skool bywoon gaan dit geniet nie, maar dit is tog hulle eie verantwoordelikheid om ’n poging aan te wend om te slaag.

Die kinders in die klaskamer kom elkeen egter uit verskillende omstandighede en huishoudings. Die leerling wat met liefde grootgemaak word, sal anders reageer op ’n onderwyser wat skree as die kind wat mishandel word.

Die veiligheid van onderwysers het ’n bekommernis geword. Onderwysers word aangerand, uitgeskel, gedreig en in een uiterste geval doodgemaak.

Ongelukkig word elke leerling ook nie met die ideale maniere en waardes grootgemaak nie. Dit is ook nie te sê dat elke leerling daarop uit is om ’n onderwyser aan te rand nie. Die leerling wat bewus is van sy regte in die klaskamer moet net so bewus wees dat daar verantwoordelikhede is wat met hierdie regte gepaardgaan.

Die leerlinge word daagliks daarvan bewus gemaak hul regte mag nie geskend word nie, maar net so is hulle daarvan bewus dat ’n onderwyser minimale mag het om hom- of haarself te kan verdedig teen die leerling wat gewelddadig in die klaskamer optree.

Die onderwyser en die leerling

Terwyl ons as voornemende onderwysers studeer, word daar geweldig klem gelê op die tipe leerlinge wat die klaskamer gaan betree.

Ons word geleer hoe om elke leerling se omstandighede in ag te neem en hoe om inklusief te wees. Ongelukkig is selfverdediging nie ingesluit in ons kursus nie en daarom hoop ons maar die reg beskerm ons.

Is die onderwyser se regte genoeg beskerming teen die enkele leerlinge wat hul veiligheid bedreig?

Die verhouding in die klaskamer moet bestaan uit wedersydse respek en dit kan dit nie afgedwing word deur een van hierdie partye nie. Die onderwyser moet geleer word hoe om ’n situasie te ontlont en om die gevaartekens raak te sien van die leerling wat nie weet hoe om konflik te hanteer nie.

Net so moet die leerlinge geleer word om hulself te beheer in situasies waar hulle bedreig voel of nie weet hoe om frustrasie te hanteer nie, want sekere leerlinge reageer net op geweld met nog geweld.

Om die onderwys met die polisiediens of die weermag te vergelyk, is oordrywing, maar die mense in hierdie beroepe word opgelei om hulself te beskerm.

Is die onderwyser se regte genoeg beskerming teen die enkele leerlinge wat hul veiligheid bedreig?

  • Le-Lanie Ludick (21) studeer onderwys aan die Noordwes-Universiteit. Sy kom oorspronklik van Walkerville naby Vereeniging.

Is jy 'n student en wil jy R5000 wen? Klik hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.