Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ek is kommin en dis lekker
Nicolette van Schalkwyk.

Ek het eers onlangs besef ek is kommin.

Vir party mense kom die openbaring reeds vroeg in hul lewe. As jy jou in die voorste ry van ’n Steve Hofmeyr- Toeka-tot-Nou-konsert bevind, as jy kaalvoet in die mall loop of as jy maak asof jy verjaar sodat jy ’n gratis roomys by die Spur kan kry.

My katarsis het eers later gekom. Op 23 in ’n stywe restaurant met ’n jong man en sy “Meghan Markle” van ’n meisie. Dis eintlik net ’n Susan, maar haar bene kan internasionaal gaan.

Ek is die derde wiel. Ek reken dis die beste wiel wat jy kan wees. Naas die spaarwiel. Ek beplan om dit op my CV te sit.

Sy is van daardie soort wat nie op gras loop nie of haar wyn ruik voordat sy dit drink en dan kommentaar lewer oor die ondertoon van eikehout en perske. Ek weet nie van watter ondertoon sy praat nie. Ek ruik net slegte keuses en daardie aand in Jeffreys.

Die man herinner my aan ’n hotelsepie. Blokkerig en passief en ek is seker daarvan te veel kontak met hom sal ’n krapperigheid veroorsaak.

Ek kyk gespanne rond. Dit lyk soos die opstanding, so baie wit tafeldoeke is daar.

Ek doop die Constantia-tannie by tafel vier Brenda-Jane. Sy het sekerlik iewers ’n dogter met die naam Zjante-Lizé. Sy is twee perms weg van ’n bles. Mens kan sien sy het in 1904 laas die vermoë gehad om te frons. Alles aan haar is ingevoer. Ek vermoed selfs die sakkies onder haar oë is Gucci.

Nicolette van Schalkwyk.

Die oom by tafel twee staar leweloos na sy vrou asof sy reeds vir die afgelope 30 jaar ’n kopseer het. Of dalk het hy ook die pryse op die spyskaart gesien.

Ek begin liggies sweet. Ek gaan maar net vanaand subtiel aan die tafelpoot suig. Dis al wat ek kan bekostig.

Die prinses se oë dwaal rond op die spyskaart. Die riet praat.

“So, van watter tipe slaai hou jy?”

(Pasta)

“Pastaslaai” (verkeerde antwoord)

Sy kyk na my asof ek in my vrye tyd ander mense se honde skop.

Die man roep die kelner nader en mompel iets in Italiaans. Dit klink vieslik. Ek wonder of hy sy ouma soen met sy mond. Ek bestel maar dieselfde, bloot omdat ek niks anders op die spyskaart kan uitspreek nie.

Eers later besef ek dis spaghetti. Ek sou nie weet nie, die porsie was te klein om agter te kom.

Dit is ’n baie perverse pastasoort, moet ek byvoeg. Ek suig verwoed aan die string deeg, maar dit spring rond buite my mond soos ’n worshond wat op hitte is.

Die rekening kom. Daar gaan my droom van ’n huisie by die see. Ek gaan nou op 90 moet aftree. As ek my linkernier in ’n obskure agterstraat verkoop, sal ek darem genoeg hê vir die fooitjie.

Met die uitstap by die restaurant grom my maag. Ek is teleurgesteld, arm en ek weeg nog steeds dieselfde. As ek daardie prys vir iets betaal, wil ek ten minste vet word daarvan.

Nicolette van Schalkwyk.

Sy groet my. Ek maak ’n klein buiging asof sy een of ander adellike afstammeling is. Dit het net reg gevoel in die oomblik.

Dis eers toe hulle wegry in hul Mercedes-Benz C-klas en vier mans van Checkers (ja, dit raak net beter en beter) my ou Golf moet help stoot dat dit my tref: Ek is kommin. Onherroeplik kommin.

Ek lag soos ’n gans, ek het ’n hele versameling Huisgenoot-binneblaaie en ek het een keer in 2012 in tights Spar toe gegaan.

Ek rol die hele nag in my bed rond. Ek dink terug aan Meghan Markle, die hotelsepie en Brenda-Jane.

Toe onthou ek dit: ’n Oomblik vroeër die aand toe ek my vet vingers in ’n waterglas gedruk en die laaste suurlemoenskyf probeer uithaal het. Ek sien weer die afgryse waarmee “Meghan Markle” na my staar; asof daar dood in die familie is.

Ek lag. Korreksie . . . ek gans.

Hoekom?

Want net vir ’n oomblik besef ek: I wouldn’t have it any other way.

Terloops, die suurlemoen was lekker. Ja, hy was blêddie lekker.

  • Nicolette van Schalkwyk (23) studeer joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom oorspronklik van Bellville. 
Meer oor:  Stellenbosch  |  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.