Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ek is trots Afrikaans en my kêrel is swart
Lorinda Pretorius
Lorinda Pretorius

Ek was 19. Vars uit die Afrikaans Hoër Meisieskool, met ’n monochrome perspektief van ras en klas en eintlik maar alles wat hier onder die Afrikason aangaan.

Daar kom hy toe: My donker ridder in ’n wit taxi uit sy huis van sinkplaat.

Sy las is swaar. Generasies se pyn en diskriminasie. Ek wou net sy las ligter maak, maar toe ek weer sien, staan ek met die helfte van die gewig in my (ligter as sy) hande.

Die wêreld wil en sal vir jou vertel hoe kulture en rasse verskil, maar ek wil vir jou sê ons is baie meer dieselfde as wat ons verskil.

Ons almal smag na liefde en gemeenskap. Ons almal wil aanvaar word en vry wees. Ons is almal net mens.

Ek het lief geraak vir sy menswees. Daar is bittermin mense wat my so goed verstaan het soos hy.

Daar kom hy toe: My donker ridder in ’n wit taxi uit sy huis van sinkplaat. Sy las is swaar.

Daar is bittermin mense wat my al soveel geleer het. Saggies het hy aan my hart gevat en my siel gestreel en voordat ek my kon kry, was donkerbruin my gunsteling-kleur.

Dis nie asof ek blind is vir verskillende rasse nie, dit pla my net nie. En nee, ek het nooit gedink “as hy maar net wit was nie” want ek het hom liefgehad, alles wat hy is. En anders as wat mense sou wou glo, is ek tot wit, bruin en swart mans aangetrokke.

Blind vir kleur

Afrikaner, hoekom is jy so blind? Hoekom regverdig jy steeds jou rassisme met ’n enkele Levitikus-vers wat jy uit konteks ruk?

Waar kom die laste vandaan en waarom moet ons dit dra? Wie het besluit dat swart en wit nie ’n goeie mengsel is nie? Wat dan van Oreos, sebras, en donker ink op spierwit papier?

Ek verstaan dat jy dalk nie my storie verder wil lees nie, omdat my ridder volgens jou prentjie van wat sosiaal aanvaarbaar is, nie die regte skakering is nie.

Wees nie bevrees nie. Jou koekiedrukker het gewen en my (én hom) in skerwe gelos.

LEES OOK: Stellenbosch: Die vrees vir die 'swart gevaar'

My donker ridder, my swart held, het in sy taxi geklim en weggery. Hy het sy laste by my gelos en nou sit ek met trane in my oë en vra hoe dit regverdig is? Jy wat my óf hom nie ken nie, het besluit dit is jou reg om af te breek wat jy nie verstaan nie.

Ek was ook eers skepties. Ek het nie gedink my familie sou dit kan aanvaar dat ek verlief is op ’n Xhosa-man van Masiphumelele nie. Ek was reg, die meeste van hulle het nie, maar ek het opnuut besef dat ek net verantwoordelikheid vir my eie besluite kan en moet neem. Of ek nou as “volksverraaier” gebrandmerk word of nie.

Dit is die punt

Ek skryf nie die stuk om jou te ontstel nie, maar om ’n nuwe perspektief oor verhoudings tussen swart en wit te wys.

Ek hoop jy kan opnuut na “gemengde paartjies” kyk en jou meerderwaardigheid afgooi. Ek hoop jy sien die mooi raak van diversiteit en vergeet van die gedagte dat daar die een of ander agenda is om ’n massa-ras te vorm wat die wêreld gaan oorneem.

Ek wil hê jy moet weet ek is nie skaam vir my ras, kultuur of taal nie. Ek wil hê jy moet besef dat ek nooit in ’n verhouding sal wees met iemand net om iets te bewys óf uit wraak teen jou nie. Inteendeel, dit gaan nie oor jou of julle nie. En dit is die hele punt.

  • Lorinda Pretorius (20) studeer BA Sielkunde aan die Universiteit van Johannesburg. Sy het in Naboomspruit, Carolina en Pretoria groot geword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.