Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ek voel onveilig in ons land'
Dominique Fuchs
Dominique Fuchs

Dis ’n idilliese dag in Hermanus en ek wil die laaste somersonstrale geniet. Maar ek voel onveilig soos ek hier in my swembroek sit op ’n verlate strand in Hermanus.

Ek het my handdoek op ’n strategiese punt gegooi sodat ek die hele strand kan dophou. Ek kyk kort-kort op van my boek, net om veilig te wees. Al hierdie dinge doen ek onbewustelik.

Toe ek ’n paar jaar gelede in Oostenryk was, het ek nie so gevoel nie. In die middernagtelike ure het ons drie meisies alleen deur die strate gestap huis toe.

Ons ry trein, ons verken die stad. Sonder om bang te wees of oor ons skouers te loer. Ek kan nie daardie lieflike gevoel van vryheid vergeet nie en ek smag permanent daarna.

Hoekom wil ek dan hier leef?

My ouers en hul ouers het dit anders ervaar. Hulle kon in die strate speel tot laataand en misdaad was in baie gebiede nie ’n kwessie nie. Wat as ek eendag kinders het en angstig raak elke oomblik wat hulle nie onder my wakende oog is nie? Hoekom sal ek kinders in só ’n omgewing wil grootmaak?

Hulle kon in die strate speel tot laataand en misdaad was in baie gebiede nie ’n kwessie nie.

Ek wil verken op my eie terme. Ek wil nie heeltyd iemand saamsleep net om veiligheidsredes nie. ’n Mens verdink almal van die ergste – ’n persoon wat effens verslons lyk, kan ’n potensiële misdadiger wees, hoewel daar ’n groter moontlikheid is dat dit jou professor of buurman kan wees.

Hoekom wil ek leef in ’n land waar ek konstant bedreig voel en altyd die ergste verwag? Is dit verkeerd om só te dink of is dit ’n veiligheidsmeganisme?

Ek sal emigreer vir dié rede

As ek gaan draf, vat ek meestal my pepersproei saam en kyk heeltyd om my rond. Ek kan nie werklik ontspan of dagdroom nie. Wanneer vreemde mans verby my stap, is ek dadelik op my hoede. As ’n vrou verbyloop, groet ek haar (meestal). Ek moet ook eers mooi dink wanneer ek laataand flieks gaan kyk by die Pulp-fliekteater in Die Neelsie.

Kan ek die geniet van die fliek opweeg teen die onrustige gevoel wat ek ervaar as ek in die pikdonkerte alleen moet terugstap koshuis toe?

Ek is ontsettend lief vir my land, die joviale mense en die beeldskone natuur, maar veiligheid is die groot rede waarom ek Suid-Afrika vaarwel sal toeroep.

En ja, mans ervaar dit anders. Maar ek sal wraggies emigreer net weens dié rede – veiligheid. Om te weet ek kan vrou-alleen ’n plek verken. Ek is ontsettend lief vir my land, die joviale mense en die beeldskone natuur, maar veiligheid is die groot rede waarom ek Suid-Afrika vaarwel sal toeroep.

Ons voel nie opsetlik so nie, dit gebeur instinktief. Die Suid-Afrikaanse samelewing het dit in ons menswees ingeprent. Maar wil ons regtig die res van ons lewe met ’n wolk van onveiligheid oor ons kop leef?

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.