Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ekskuus, waar is jou maniere?'
Colette Combrink
Colette Combrink

Elke situasie waarin ons ons bevind, het onuitgesproke riglyne aangaande sosiale interaksie. Moet byvoorbeeld nie op ’n vol laatmiddagtrein teen die persoon langs jou lê of luidrugtig met iemand op jou selfoon praat nie.

As ’n baba gebore is en regtig nou nie die heel mooiste is wat jy al gesien het nie, sê eerder niks as om uit te wys dat die telgie ’n bietjie meer na sy pa lyk as wat goed is.

In enige situasie, of dit ’n kuier by die huis of ’n kantoor is of ’n gesprek met ’n vreemdeling in ’n koffiewinkel is, is daar sosiale riglyne. Dit geld ook konserte en kunstentoonstellings, en so meer. Dalk selfs meer vir laasgenoemdes, waar die minagting van die sosiale riglyne nie net jouself en die kunstenaar ’n onreg aandoen nie, maar ook ander wat betaal het om daar te wees.

Ek was al meermale as wat ek wou in situasie waar mense eenvoudig geen agting vir algemene maniere het nie. Dalk weet hulle regtig net nie wat dit is nie. Soos die tannie wat ongelooflik trots is op haar kleindogter wat in die universiteit se simfonieorkes speel, en met haar helder selfoonskerm in ’n donker ouditorium elke oomblik op video wil vasvang.

Ek was in vervoering, en selfs al probeer ek dit in 1 000 woorde beskryf, sal ek nie daarin slaag nie.

Ek beland om ’n onverklaarbare rede elke keer agter haar, en wil haar later net help om die video darem in fokus te neem terwyl sy soveel moeite doen en die vier rye mense agter haar verblind. Maar dis nog iets wat ek kan hanteer en selfs in ’n mate begryp.

Wat gaan van ons word?

Ek was onlangs na die Museum Night in Kaapstad. Dié geleentheid word een keer per jaar aangebied om museums dié aand toegankliker en bekostigbaarder vir die algemene publiek te maak. Dit beteken twee dinge: Daar is ’n toeloop van mense, en nie almal is noodwendig die grootste kunsliefhebbers nie.

Albei is verstaanbaar, maar as jy na ’n museum of ’n galery gaan, is daar tog sekere riglyne waarvolgens jy jou moet gedra.

Dit het soos ’n boom of spinnerak oor die muur vertak om die verspreiding en vorming van taal voor te stel.

Ons het in die Zeitz MOCAA gestaan voor ’n ongelooflike kunswerk, wat uit net en verf (en dalk selfs gips) bestaan, alles spierwit, wat pidgins en kreoolse tale voorstel. Dit het soos ’n boom of spinnerak oor die muur vertak om die verspreiding en vorming van taal voor te stel.

Ek was in vervoering, en selfs al probeer ek dit in 1 000 woorde beskryf, sal ek nie daarin slaag nie. Maar toe daag ’n meisie op wat die kunswerk net as agtergrond vir haar Instagram wil gebruik. Haar vriendin staan haar en afneem, met instruksies soos: “Draai nou om en maak asof jy na die ding kyk.”

Ek was reeds ontsteld omdat hulle nie agting vir die betekenis van die kunswerk het nie, maar toe loop die “model-meisie” na die kunswerk en vat, nee betas, dit. Nou is daar ’n spierwit kunswerk in die MOCAA met ongeskikte vingermerke op, ten minste dien dit iewers op Instagram as ’n influencer se agtergrond.

LEES MEER: Respek vir mekaar, is dit te veel gevra?

Ek het vinnig aanbeweeg en voor die interessantste werk gaan staan wat oor die klank van lig, in effek die klank van elektrisiteit, gaan. Daar is drie houtdosies met ligte in, en vir die klankeffek moet die ligte aan en af gaan. Eenvoudige konsep, nè? Wel, toe nie. Ek haal die gesprek aan wat voor die ligte afgespeel het. Meisie: “Toe ek nou net ’n video probeer neem, het die ligte afgegaan, dink jy dis stukkend?” Kêrel: “Nee, ek dink dis maar net die kuns daarvan.”

Die klank van my hart wat breek oor die oningeligtheid oor kuns, en net die feit dat mense nie eens probeer om dit te verstaan nie (pro tip: lees die klein papiertjie, gewoonlik net links van die kunswerk), het die res van die gesprek uitgedoof.

Wat gaan van ons kuns (met die vuil vingermerke op) word?

Ek besef ek kla ’n bietjie met die witbrood onder die arm, maar die eenvoudige durf wat mense het om geen respek vir kuns te hê nie, gaan my verstand heeltemal te bowe. As jy dit kon bekostig om op ’n Donderdagaand in ’n galery in die Waterfront uit te hang, kan jy dit bekostig om basiese respek vir die geleentheid, die kuns en die mense om jou te hê.

Ek weet ons lewe in ’n baie gemakliker era, en ek is dankbaar dat ek nie handskoene en ’n hoed na elke geleentheid hoef te dra nie en dat ek tee uit ’n beker kan drink, maar as basiese maniere en etiket nie meer deel is van ons verwysingsraamwerk nie, wat gaan van ons word? Wat gaan van ons kuns (met die vuil vingermerke op) word?

  • Colette Combrink (20) studeer aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Sy is oorspronklik van Ermelo, Mpumalanga.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 of die Noordwes-Universiteit nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees nog meningstukke 
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.