SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Die Student
Emigrasie: 'Moenie jou tasse pak, daar ís hoop'
Mieke Hofmeyr
Mieke Hofmeyr.

Oor 20 jaar is dit 2039. Dit is baie ver om te dink vir iemand wat daagliks nog sukkel met die besluit om haar pajamas uit te trek, al dan nie.

As ’n vierdejaarstudent is daar egter ’n harde werklikheid wat my in die gesig staar, ’n werklikheid wat my beter laat verstaan waarom daar iets soos ’n agtste of negendejaarstudent is: Die lewe ná universiteit.

My beeld van “Mieke die volwassene” het deur die jare gereeld verander. Toe ek klein was, was ek natuurlik ’n prinses as ek eendag groot is.

In die laerskool het ek deur my Disney Channel-fase gegaan en sou “Mieke die volwassene” die volgende Hannah Montana gewees het, selfs al kan ek nie sing nie.

Op hoërskool (ja lesers, hierdie fase was tot en met matriek, ek laat sak nou nog my kop in skaamte) het ek deur die One Direction-fase gegaan waar “Mieke die volwassene” met ’n lid van One Direction sou trou en ’n sorgelose lewe sou lei.

Op universiteit het my persepsie van die werklikheid genadiglik verbeter en het ek myself gesien as ’n suksesvolle sakevrou wat die sakewêreld stormloop.

Al wat ek nou sien, is myself in ’n eenkamervertrek, met 20 katte en die stralende vooruitsig van ’n loopbaan in rakpak by die naaste Checkers.

Noudat ek egter aan die einde van my universiteitsloopbaan kom, is hierdie prentjie weer aan die verander. Al wat ek nou sien, is myself in ’n eenkamervertrek, met 20 katte en die stralende vooruitsig van ’n loopbaan in rakpak by die naaste Checkers.

As julle wonder wanneer ek by ’n punt gaan uitkom – ek is amper daar.

Verdraagsaamheid

As ’n jong mens word ek ook gereeld gekonfronteer met die idee van emigrasie. Talle van my vriende se tasse is reeds gepak of hulle is besig daarmee. Hul rede: Suid-Afrika is nie die land waarin hulle wil bly of hul kinders in wil grootmaak nie. Daar is te veel konflik, te veel misdaad, te veel rassespanning en dis net te onveilig.

Ek wil egter weet watter land het nie konflik nie, waar is daar nie rassespanning nie en wanneer dit kom by misdaad, wel daarvan gaan ons nooit ontslae wees nie. Jy is nog nie eens op bl. 10 in die Bybel nie, dan lees jy al jou eerste moord raak.

Die groot rede, volgens my 22-jarige wysheid, waarom so baie mense ongelukkig is in Suid-Afrika, is omdat ons mekaar nie verstaan nie.

Die groot rede, volgens my 22-jarige wysheid, waarom so baie mense ongelukkig is in Suid-Afrika, is omdat ons mekaar nie verstaan nie.

Ons lewe in ’n land met 11 amptelike tale en nog meer verskillende kulture. Elke kultuur bring sy eie idees oor lewe, verhoudings en die mensdom en baie van hierdie idees is teenstrydig.

Ek kom daarom nou uiteindelik by my punt: Hoe wil ek hê moet Suid-Afrika oor 20 jaar lyk? My prentjie sluit beslis nie ’n land sonder misdaad in, met ’n sterker ekonomie en burgers wat elke Woensdagaand bymekaar kom om “Khumbaya” te sing nie.

LEES OOK: 'SA se fondament is wankelrig'

Oor 20 jaar sal ek graag in ’n Suid-Afrika wil bly waar mense mekaar verstaan en daarom verdraagsaam is teenoor mekaar se denkwyses en lewenswyses. Ons gaan altyd van mekaar verskil, ek sal bekommerd wees as ek een oggend wakker word en almal stem skielik saam oor alles.

Die kruks van ’n gesonde samelewing lê daarin dat ons verstaan waarom iemand iets doen en selfs al keur jy dit nie persoonlik goed nie, gun jy daardie persoon hul plek onder die son.

Leer by mekaar

Die jeug is die toekoms van die land. Die student langs jou in die klas of jou buurvrou in die koshuis kan dalk die volgende president wees of die volgende redakteur van die Beeld of die volgende uitvoerende hoof van ’n nasionale maatskappy.

Ons, as die toekoms, moet vandag begin om, wanneer iemand iets doen wat jou ontstel, jouself af te vra waarom hulle dit doen of wanneer iemand se denkwyse van joune verskil, die rede daarvoor uit te vind. Sodoende begin ons nie net mekaar beter te verstaan nie, maar begin ons om ’n denkwyse te kweek wat ons aksies en besluite in die toekoms gaan rig en wat ons eendag aan ons kinders kan oordra.

Ek weet nie wat my toekoms ná universiteit vir my gaan inhou nie, maar ek weet dat ek graag in ’n Suid-Afrika wil bly waar kulturele verskille nie die verskoning vir onverdraagsaamheid is nie.

Ons begin ’n samelewing bou waar jy nie iemand as onnosel of onkundig beskou as hulle iets op ’n ander manier doen nie, maar waar ons by mekaar kan leer en onsself in die proses verbeter.

Suid-Afrika is nie ’n land met die sterkste ekonomie, die meeste geld en die beste leiers nie, maar dit is ’n land vol mense en dit is hierdie mense wat die land gaan maak of breek.

Ek weet nie wat my toekoms ná universiteit vir my gaan inhou nie, maar ek weet dat ek graag in ’n Suid-Afrika wil bly waar kulturele verskille nie die verskoning vir onverdraagsaamheid is nie.

  • Mieke Hofmeyr (21) studeer BA(Kommunikasie) aan die NoordWes-Universiteit en is 'n inwoner van Vergeet-My-Nie. Sy kom oorspronklik van Vanderbijlpark.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.