Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Europa so anders, tog so eenders

Ek het geen oplossings nie, maar ek het ook geen verskonings nie.

Toe ek van die vliegtuig afklim op die Schiphol-lughawe, Amsterdam, besef ek dat ek vir die volgende 16 dae geen ongerepte natuur sal sien nie. My horisonne bestaan nou slegs uit ou geboue en eentonige plat landskappe. Dis ’n ander tipe wonderlik, maar ek gaan lieg as ek sê ek mis nie die Suid-Afrikaanse natuur wat ek tuis as vanselfsprekend aanvaar nie.

Die natuur is nie die enigste ding van Suid-Afrika wat ek as vanselfsprekend aanvaar nie. Die ander ding is ons politiek.

Die wêreld is selfs meer universeel en “globaal”as wat ek gedink het. Ek is nie so spesiaal soos wat ek gedink het nie en my land is nie so uniek nie.

Ek is op ’n kursus van 16 dae in Gent, België. Dis ’n Nederlandse kursus oor Nederlandse taal en kultuur. Dis baie intensief en op die oomblik is dit baie warm in Europa. Maar ek leer ontsettend baie.

Ek het ingeskryf vir die kuns- en letterkundeklasse, maar min het ek geweet hoeveel perspektief ek sou kry op Suid-Afrika se samelewing en my eie rol daarin.

Dag twee het ons geleer oor al die kunstenaars wat Nederland eis as hul eie. (Nederland is so ’n klein land dat as jy twee weke in Nederland gewoon het, word jy sommer beskou as ’n Nederlandse kunstenaar.) Een van hierdie kunstenaars is Marlene Dumas, die Suid-Afrikaner wat visuele kuns aan die Universiteit van Kaapstad en sielkunde aan die Universiteit van Amsterdam gestudeer het. Sy is nou een van die bekendste oorspronklik Suid-Afrikaanse kunstenaars wat wêreldwyd hoog aangeslaan word.

Marlene Dumas.

Ons het haar kunswerk Black Drawings behandel. Dis ’n groot samestelling van sketse van gesigte in ink en kwas op papier. Links bo in die hoek is die enigste wit mens: ’n Jong meisie wat haar hand uit skaamte voor haar gesig hou. Soos die dosent die kunswerk uitlê, voel ek hoe my wange rooi word. Ons moes almal voordat die klas begin het, sê wat ons nasionaliteit is.

Dumas se kunswerk gaan oor die identiteit van ’n jong wit meisie in Suid-Afrika en die skaamte van bevoorregting. Ek besef dat ek nog nie genoeg daaroor gedink of gedoen het nie. Hierdie bevoorregte posisie waarin ek gebore is, is soos die dogtertjie in die kunswerk, iets waaragter ek eerder wil skuil as om iets daaraan te doen.

Die klas oor Dumas se kunswerk is een van vele konfronterende oomblikke wat ek op die kursus gehad het. Oomblikke wat ek nie verwag het nie. Ek het verwag om stroopwafels te eet en Belgiese bier te drink en nou en dan te kyk na bekende kuns van kunstenaars van vroeër.

’n Soort déjà vu-oomblik

Op dag drie kom Vincent Merckx, ’n skrywer, ’n praatjie doen oor sy debuutboek De man die niet schoot (Die man wat nie skiet nie).

Dit gaan oor ’n man met ’n pistool wat in Antwerpen aankom. Hy rig sy pistool op vele mense, maar hy skiet nooit nie. Die res van die boek is dan ’n surrealistiese vertelling van hoe twee mense, op wie die man sy pistool gerig het, die trauma hanteer.

Dit is juis ’n interessante boek omdat hy die boek begin skryf het voor die selfmoordbomaanvalle in Brussel in 2016 en na aanleiding van die terroristeaanval op die kantoor van die satiriese tydskrif Charlie Hebdo in 2015 in Parys. Die boek gaan dus oor die aanwesigheid van magte in die mense van Europa se daaglikse lewe, maar breër gesien handel dit oor ’n angs vir ’n onsigbare vyand.

Vir die tweede keer gedurende die kursus het ek ’n soort déjà vu-oomblik. Ek het die gevoel dat die boek iets van die angs beskryf wat baie mense in Suid-Afrika ervaar, maar nie sommer in woorde erken nie. Ek begin ook agterkom dat van die dinge in Suid-Afrika wat ek as uniek beskou eintlik universele emosies is. In Europa is dit dalk ’n nuwe soort ervaring, maar dit het tog vir my ooreenkomste met Suid-Afrika.

Korda-uitstaling. Foto: Aletta Simpson
Korda-uitstaling. Foto: Aletta Simpson
Korda-uitstaling. Foto: Aletta Simpson
Korda-uitstaling. Foto: Aletta Simpson
Korda-uitstaling. Foto: Aletta Simpson
Korda-uitstaling. Foto: Aletta Simpson

Ek het nou twee dae lank by ’n Belgiese organisasie as ’n waarnemer gewerk. Die organisasie is in beheer van die bewaring van sewe van Gent se geskiedkundige bakens. Die kantoor is in ’n ou gebou langs ’n kerk wat nou ook as ’n museum gebruik word. Op die oomblik is daar ’n uitstalling van Alberto Korda, Beauty and Revolution, in die museum. Korda is ’n Kubaanse fotograaf wat Fidel Castro, eertydse Kubaanse president, tien jaar lank gevolg het. Sy foto van Che Guevara, die guerrillaleier in die Kubaanse revolusie, is seker een van die bekendste foto’s ter wêreld. In die uitstalling kan jy die oorspronklike foto’s besigtig, maar snaaks genoeg is dit nie vir my die hoogtepunt van die uitstalling nie.

Die hoogtepunt is ’n dokumentêr wat ek tuis ook sou kon kyk en op ’n gemakliker stoel. Ek weet nie presies wat die dokumentêr se naam is nie, maar dit is ’n onderhoud met ’n ou Korda wat ongelooflik eerlik oor sy lewe praat.

Hy vertel dat hy nog altyd gedink het daar is min dinge so mooi soos die vroulike figuur.

Daar is ongelooflike treffende modefoto’s op die tentoonstelling. Sy eerste ateljee was oorkant ’n casino waar hy die foto’s geneem het. Elke dag as hy huis toe stap, het hy langs duur motors verbygestap en tussen die duur motors het hy arm mense sien bedel. Hy het hierdie kontras begin vasvang in sy foto’s, of soos hy dit stel: “Ek het foto’s geneem van die dinge wat my hart breek.”

Aletta Simpson.

Twee van sy stories het vir my baie bekend geklink. Hy het eendag gesien hoe ’n vrou met twee klein kinders in haar arms langs ’n Mercedes staan en bedel. ’n Ander dag het hy ’n meisietjie gewaar wat ’n stomp soos ’n pop vashou: “Hierdie dogtertjie het nog nooit in haar lewe ’n regte pop vasgehou nie.”

Die foto van die meisietjie is in 1955 geneem, in Kuba, maar dit klink soos ’n verhaal van Suid-Afrika in 2018.

Ek het twee dinge van myself geleer die afgelope paar dae. Die wêreld is selfs meer universeel en “globaal”as wat ek gedink het. Ek is nie so spesiaal soos wat ek gedink het nie en my land is nie so uniek nie.

Ek het nog nie en sal nooit genoeg kan skryf, sê, maak, doen of teken om die pyn in my oor die onreg in Suid-Afrika te kan genees nie. Ek kan ook nie die onreg self genees nie – ek het geen oplossings nie.

Al klink dit nie so nie, is albei hierdie dinge ongelooflik bevrydend. Uiteindelik beteken dit ek het niks om te verloor nie. Ek het geen oplossings nie, maar ek het ook geen verskonings nie.

  • Aletta Simpson (20) studeer BA Geesteswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom oorspronklik van Brackenfell in die Kaap.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.