Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Feminisme werk nie soos koek nie'
Lauren Schultz.

Ek weet hierdie is ietwat van ’n teer saak vir baie mense, maar dit is die olifant in die kamer waaroor ons moet praat.

Feminisme is gegrond op die beginsel dat vroue geregtig is op dieselfde regte as mans. Ek dink nie dis ’n belaglike versoek nie.

Ek weet met my hele hart daar is steeds in vandag se tyd mense wat feminisme teenstaan en dit is vir my baie hartseer. Ek glo in gelyke regte vir almal.

'Huisvrou-materiaal'

Ek is nou eers 22 jaar oud en ek kan nie beskryf aan hoeveel stereotipes ek al blootgestel is nie.

Nie alle vroue hoort in die kombuis nie en die minderheid van ons is “huisvrou-materiaal”. En nie almal van ons het redding nodig nie.

Stereotipes kom absoluut oral in die wêreld voor. Dit is ongelukkig iets wat ons nooit sal kan keer nie.

Dit laat my bloed kook as iemand aanneem dat ek nie iets kan doen nie omdat ek ’n vrou is. Dit is nie asof vroue mans wil wees of soos mans behandel wil word nie. Ons grootste doelwit is net om ’n punt te bewys dat ons almal gelyk kan wees.

Dit laat my bloed kook as iemand aanneem dat ek nie iets kan doen nie omdat ek ’n vrou is.

Mans word in die algemeen wêreldwyd meer betaal as vroue. Hoekom word ons vaardighede in dieselfde beroep dan so geminag? Ek is altyd heel eerste om iets te doen as ’n man vir my sê ek kan dit nie doen nie. Veral as ek in my hart weet ek kán dit doen en dalk nog beter as ’n man.

Die grootste wanpersepsie van feminisme is dat net vroue feministe kan wees. Hierdie beweging is vir absoluut enige geslag, ras, ouderdomsgroep en nog meer. Mans, kinders, ou mense, almal kan feministe wees, want dit fokus bloot op die feit dat hulle gelyke regte vir almal wil hê, nie alleenlik vir vroue nie.

Die gevreesde oomblik

Ek en my kêrel het so ’n paar maande terug saam met ’n groep mense in Swaziland gaan jag om my eerste bok te skiet.

Ek was ongelooflik bang, want ek weet ek kan skiet, maar die adrenalien kan maklik oorneem. 

My eerste gedagte was: Ek is bang my kêrel sal moet sê sy meisie het met haar eerste probeerslag misgeskiet.

Ek het toe darem nie misgeskiet nie. Ek het die bok met my eerste skoot geskiet.

Die grootste wanpersepsie van feminisme is dat net vroue feministe kan wees.

Ek was so dankbaar vir my kêrel. Hy sal nie maklik aanneem dat ek nie iets kan doen net omdat ek ’n vrou is nie. Hy het my so vol van die bok se bloed gesmeer dat ek naderhand nie meer geweet het of ek sit of staan nie.

En toe kom die gevreesde oomblik nader, nadat ek sewe ure lank met my bloedbesmeerde lyf in die bos geloop het.

Die oomblik, soos wat tradisie dit wil hê, om ’n sekere deel van die bok te eet. En dit was nie die lewer nie.

Ek was ongelooflik trots op myself, want dit is nog ’n stereotipe dat vroue dit nie kan of sal doen nie.

Vroue moet ook hul kant bring

Ek glo nie vroue kan net by die huis sit nie. My ma was baie bevoorreg om dit te kan doen en om my en my sussie self groot te maak. ’n Paar jaar terug kon vroue daardie voorreg bekostig.

Maar in die tyd wat ons vandag leef, waar vroue gelyk wil wees aan mans, moet ons as vroue ook ons kant bring.

LAUREN SKRYF OOK: 'Skool is 'n klug'

Ek wil ook self gelyk gestel word aan mans. Ek wil dieselfde regte en voordele hê, maar dan moet ek ook my kant bring.

So, ek sien uit daarna om elke liewe dag van my lewe my kant te bring om nader te kom aan ’n plek waar almal gelyk behandel word.

Feminisme werk nie soos koek nie. Net omdat ek bietjie meer kry, beteken nie daar is minder vir jou nie.

  • Lauren Schultz is tans besig met haar nagraadse onderwyssertifikaat aan die Universiteit van Pretoria. Sy het reeds 'n BA Tale aan dieselfde universiteit verwerf. Sy kom oorspronklik van Ermelo, Mpumalanga af.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.