Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Gaan Cyril sy beloftes nakom?
Emily O'Ryan
Emily O'Ryan

Op 5 September het pres. Cyril Ramaphosa die land toegespreek, ’n toespraak waarin hy 20 beloftes aan Suid-Afrika gemaak het, 20 stappe wat die regering gaan doen teen geslagsgeweld. In hierdie toespraak het Ramaphosa so opreg geklink soos ’n geoefende stemboodskap.

Ons kan September 2019 op twee maniere onthou: Ons sal óf die 20 reaktiewe beloftes van die regering onthou, óf die daadwerklike stappe wat gedoen is teen gendergeweld in ons samelewing. Ons rol as opgevoede samelewing is om ons regering verantwoordbaar te hou. So kan ons ons toekoms verander.

‘Moes’- en ‘kon’-stellings

Ons as burgers sien die toewyding van die president raak. Die nasionale lys met die name van al die oortreders, en die staat wat parool en borgtog vir seksmisdade gaan teenstaan, is alles prysenswaardige idees. Maar dit klink maar soos tydelike oplossings.

As ’n mens dieper kyk na hierdie beloftes van die president, sien ons dat hy dit aan die parlement oorlaat om van besluit tot aksie oor te gaan (soos wat ons demokrasie verwag). Al die stellings was “moes”- en “kon”-stellings. Dit kan mense moontlik paai, maar dit beteken nog nie dat ons die druk op die regering kan verslap nie.

Vroue word elke dag deur mans geteister. Die laaste paar weke was maar hoofsaaklik ’n tydperk van rou en trane vir die bekende en onbekende slagoffers, net omdat hulle jonk of vroulik is. Ons lees met groot hartseer van vroue soos Jesse Hess en Natasha Conabeer.

Ons dink aan al die moorde wat ons vir soveel jare onderdruk het – in en uit die media, ons dink aan vroue soos Anni Dewani en Reeva Steenkamp.

Ons dink aan al die moorde wat ons vir soveel jare onderdruk het – in en uit die media, ons dink aan vroue soos Anni Dewani en Reeva Steenkamp. Die beroep op die regering deur die burgers van die land om te reageer op misdade teen vroue en kinders is ’n ernstige een wat ’n spertyd, fundering en verantwoording verdien.

Die burgers van ons land is die grootste aandeelhouers – ons het dit gesien met die optog na die parlement en die daaropvolgende beloftes van die president.

Ons die landsburgers

Die president het onder meer belowe om ’n nasionale program in skole in te stel om geslagsgeweld te beveg. Die president het ook belowe dat daar geld vir die minister van finansies toegeken gaan word vir die nasionale beweging teen geslagsgeweld.

Nadat vroueorganisasies dit aangevra het, het die president belowe dat daar meer rehabilitasieprogramme in tronke sal wees en dat bestaande programme herstruktureer en vermeerder sal word om die kwessie van gewoonteoortreders te pak. Hoe gaan ons die regering verantwoordbaar hou, nadat ons al hierdie beloftes gehoor het, veral omdat daar geen sperdatums bekend gemaak is nie?

Geen sperdatums, geen aanspreeklikheid

Die uitdaging met Ramaphosa se 20 beloftes is dat nie een daarvan aanspreeklikheid of ’n sperdatum stipuleer nie. Die enigste belofte met ’n tydraamwerk was die belofte dat daar nog 11 howe vir seksuele misdrywe in hierdie boekjaar ingestel gaan word.

Geen maandelikse inligtingsessies oor die stappe wat die regering gaan doen teen geslagsgeweld is aangekondig nie. Ook geen ondersoeke na insidente van geslagsgeweld of suksesvolle stappe teen geslagsgeweld nie.

LEES OOK: ’n Noodkreet vir Suid-Afrika

Daar is ook geen omvattende plan om die polisie te verbeter nie. Die polisie se stadige, negatiewe reaksie teenoor vroue wat klagte indien, moet in ag geneem word. Dit is alles idees wat prof. Jonathan Jansen binne ure per e-pos aan my voorgestel het. As die regering werklik voorkomend wil optree, moet hy sperdatums en kanale vir aanspreeklikheid aankondig.

Nog ’n voorbeeld is dat Ramaphosa namens die regering belowe het dat sistemiese uitdagings gepak gaan word. Dit sluit agterstallige sake, vertragings met DNS-toetse en die beskikbaarheid van verkragtingstoetse by polisiekantore in. Sonder ’n sperdatum en verduideliking van hoe burgers staatsamptenare aanspreeklik kan hou, is hierdie beloftes amper tevergeefs.

Katastrofe

Ons president wat enkele maande gelede vir Suid-Afrika gevra het om te droom van ’n sneltrein regdeur die land, is hierdie laaste paar weke gekonfronteer met die werklikheid van ’n nasie se pyn.

Die seksuele teistering en dood van vroue in die afgelope paar weke en jare is nie net ongeregtigheid nie – dit is ’n katastrofe.

Die seksuele teistering en dood van vroue in die afgelope paar weke en jare is nie net ongeregtigheid nie – dit is ’n katastrofe.

Voor ons nog kan kyk na Cyril se droom van die vierde nywerheidsrevolusie, moet ons eers toesien dat ons reg tot lewe beskerm word, en dat vroue en kinders menswaardig behandel word. Kanale vir aanspreeklikheid en sperdatums is ononderhandelbaar. Die rol van ’n aktiewe samelewing in hierdie konteks, het pas begin.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.