Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Gaan SA oor 20 jaar nog staan?
Mart-Marie Serfontein
Mart-Marie Serfontein

Hoe wil ek hê moet Suid-Afrika oor 20 jaar lyk? Ek voel byna dis pessimisties, maar vir my sal dit genoeg wees as daar nog ’n Suid-Afrika is wat stáán.

My eerste wens sou wees dat Suid-Afrika ’n eenheid bly, dat die reënboognasie sal aanhou skyn, maar as ek vir meer kan vra . . .

’n Mens kan maklik sê niks het in die afgelope 20 jaar vreeslik baie verander nie, so hoekom sal iets in die volgende 20 jaar veel meer verander? Ek dink nie dis heeltemal reg nie. Ja, baie dinge het dieselfde gebly, maar daar is soveel méér wat intussen verander het!

En een van daardie dinge wat ek sien, is insig en begrip, veral tussen rasse en kulture. Apartheid was ’n kloof in ons gemeenskap. Nee, skrap dit: ons kon nie ’n gemeenskap hê nie, want ons het niks gemeen gehad nie. Ons het aan weerskante van die kloof gestaan en mekaar bot aangestaar – niemand weet eintlik iets van mekaar nie.

Kom uit kringloop

1994 en alles wat dit vir ons beteken het, was die brug wat ons eindelik met mekaar help verbind het, die brug tot ’n beter insig. Ons kon ongebonde met mekaar begin kommunikeer en ons stories uitruil. Ons het nie altyd gehou van wat ons gekry het nie, maar ons het die stories gehoor en dit gebruik om ons uitkyk op die wêreld aan te pas.

Ek glo volledig in die gesegde: “Mense vrees dit wat hulle nie verstaan nie.”

Ek glo dit is wat ons die afgelope 20 jaar doen, en dat dit steeds die ding is wat ons vorentoe sal vat.

Ek glo volledig in die gesegde: “Mense vrees dit wat hulle nie verstaan nie.” En omdat ons iets vrees, wil ons onsself daarteen beskerm, en die beste manier is om jouself daarteen te verdedig. Niemand reik uit na mekaar nie, en so bly die samelewing op een plek staan.

LEES OOK: Cyril, moet vrees dan nou deel van ons DNS word? 

Met ander woorde, almal is die hele tyd aggressief teenoor mekaar, maar dit is letterlik ’n geval van “dis nie jy nie, dis ek”.

Sodra ons daardie houding kan verbreek en die mite kan verslaan dat ons (wie ook al “ons” is) die slagoffer is, kan ons uit die kringloop kom.

As ek verstaan waar jy vandaan kom (letterlik en figuurlik), en jy kan verstaan waar ek vandaan kom, en ons rondom dieselfde braaivleisvuur kan sit en praat en begrip bou, dan kan ons nêrens ander as vorentoe nie.

Vra die vrae

Die jeug moet nie bang wees om vir mekaar vrae te vra nie. Ons loop so katvoet rondom mekaar, bang om iemand te ontstel, bang om te lyk of ons nie weet nie. Ek sien dit gereeld op kampus, selfs in my eie gedrag.

Ek wil oor 20 jaar ’n land sien waar almal weet, waar almal verstaan.

Ons is veronderstel om reeds te weet en as ons nie weet nie, dan rol die oë en word ons van alle kante af uitgetart. Dit lei daartoe dat ons letterlik te bang word om opregte vrae te vra en sodoende bly ons opgesluit in ons eie onkunde – gedeeltelik weens ander mense se negatiewe reaksies en gedeeltelik omdat ons ons eie beeld wil red.

Jy kan eenvoudig in geen omstandighede lyk soos iemand wat nie weet wat klop nie.

Dus moet ons, die jeug, onder mekaar ’n kultuur van opvoeding skep. Vertel jou storie, help om ander mense se wanpersepsies reg te stel. Wees geduldig – met ander en jouself. Dit is nie ’n resies nie, dit is slegs ’n pad wat ons almal saam stap, in die hoop dat niemand agtergeblewe bly nie.

Oor 20 jaar sal ons saam kan bly in ’n samelewing wat gekweek is uit gesprekvoering en dialoog met mekaar.

Ek wil oor 20 jaar ’n land sien waar almal weet, waar almal verstaan. Twitter-uitbarstings en kampusvoorvalle sal ’n ding van die verlede wees, want niemand sal meer kwaad wil stook of iemand anders uittart nie.

Oor 20 jaar sal ons saam kan bly in ’n samelewing wat gekweek is uit gesprekvoering en dialoog met mekaar. Ek glo dat dít die soort vrede is wat die grondwetskrywers in gedagte gehad het.

  • Mart-Marié Serfontein (21) studeer BA Regte aan die Universiteit Stellenbosch. Sy werk ook vir Die Matie as teksredakteur. Sy kom oorspronklik van Kaapstad.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.