Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Gamers, staan saam! E-sport word gróót in SA

Tradisionele sport is al duisende jare met ons, maar dit het ’n nuwe mededinger – e-sport.

E-sport is al dekades aan die gang en groei elke jaar met rasse skrede.

DF Luttig
DF Luttig.

Hoewel dit lankal baie gewild is oorsee, moes Suid-Afrika ’n bietjie opvang.

Vandag sit ons in ’n baie interessante posisie waar die verbetering van tegnologie-infrastruktuur en die groei van videospeletjies plaaslik meer organisasies en borge toegelaat het om in te koop in die konsep van mededingende videospeletjies.

Dit word ook reeds op verskeie platforms uitgesaai.

Ongelukkig het baie van ons vandag nog ’n ouderwetse idee van videospeletjies en dis nie vreemd om selfs jong mense te hoor praat van gamers as ’n klomp nerds nie.

Dit het onder meer te doen met ’n stigma rondom die persoon wat videospeletjies as ’n tydverdryf (wat nog te sê van ’n sport) beoefen: Hulle word gesien as enkellopend, sosiaal ongemaklik en as mense wat nie so graag omsien na hul higiëne nie.

Vandag sit ons in ’n baie interessante posisie waar die verbetering van tegnologie-infrastruktuur en die groei van videospeletjies plaaslik meer organisasies en borge toegelaat het om in te koop in die konsep van mededingende videospeletjies.

Dié stereotipe is natuurlik die uitsondering eerder as die norm. Ek het ’n bietjie met groot, invloedryke name in die bedryf gesels om hul opinies oor e-sport te kry.

Drie Suid-Afrikaanse gamers, Hein “Zethanias” Labuschagne, Jessica “MissLadyJay” Maij en Nick “HoldenZA” Holden, is dit eens dat die groot bloeitydperk waarop gamers in Suid-Afrika al geruime tyd wag, hier is.

Dit kan dus net goed wees om vertroud te raak daarmee sodat jy kan saampraat wanneer e-sport volgende keer op die kassie uitgesaai word.

Nou wat presies is sport met ’n “e” vooraan?

Die naam sê dit als – dit is elektroniese sport, met ander woorde, om videospeletjies as ’n sport te speel.

Hoewel dit oorspronklik in Amerika ontstaan het, het die konsep in die laat 1990’s tot vroeë 2000’s posgevat in Suid-Korea om e-sport-spelers op die verhoog te plaas soortgelyk aan glanspersoonlikhede.

LEES OOK: My vakansie wat ek nie kon Instagram nie

Hulle was hul tyd vooruit deurdat speletjies soos StarCraft gelei het tot die stigting van professionele spanne en borge, asook wedstryde wat uitgesaai is op televisie, terwyl ’n groot skare in teaters/stadions toegekyk het hoe die e-sport-supersterre meeding op ’n verhoog vol flikkerende ligte en allerlei katoeters om mense geïnteresseerd te kry.

Toe waai die bohaai oor na Europa en Amerika, met speletjies soos Counter Strike, Dota 2 en League of Legends.

Skaars 20 jaar later en dis nie meer vreemd om gereeld toernooie te sien met ’n wenprys van meer as $1 miljoen nie. Dota 2 se “The International” het in 2018 ’n totale pryspoel gehad van $25,53 miljoen (sowat R333 miljoen!).

Kuro “KuroKy” Salehi Takhasomi is die e-sportspeler wat die meeste geld verdien het tot nog toe – ’n allemintige $4 miljoen, en hy is maar 26 jaar oud. E-sport sal na raming teen 2021 al die grootste sportligas in Amerika, behalwe die NFL, uitstof in terme van kykersgetalle.

Om ’n e-sportspeler te word is wel nie maklik nie. Soos tradisionele sport verg dit ook ure se oefening en dit kan jare vat om te bemeester.

Om ’n e-sportspeler te word is wel nie maklik nie. Soos tradisionele sport verg dit ook ure se oefening en dit kan jare vat om te bemeester.

Die gemiddelde speler is tussen 25 en 27 jaar oud. Daar is hordes videospeletjie-titels en toernooie waaraan ’n mens kan deelneem, en jy hoef ook nie ’n professionele speler te wees om mededingend te speel nie.

Dit is nie vreemd om bestuurders, afrigters, sportsielkundiges en fiksheidinstrukteurs as deel van jou span-opset te hê nie.

Tussendeur al die ggs en ez pz’s (omgangstaal in wedstryde) klink alles goed en wel, maar hoe lyk dinge plaaslik?

Stand van e-sport in Suid-Afrika

Die totale prysgeld in plaaslike e-sport was in 2018 byna R4 miljoen – en dit is sonder om al die borge in ag te neem.

Omdat mense oorsee reeds deur die jare gesien het wat werk en wat nie, kan ons baie by hulle leer en sodoende gouer op ’n hoër vlak kom.

E-sport in Suid-Afrika was ’n paar jaar gelede nog klein, maar met die groei van videospeletjie-konvensies soos rAge en Comic Con, en die opkoms van die “geek”-kultuur, het e-sport groter standvastigheid begin kry.

LEES OOK: Seks, selfdood en slimfone: Studente trap nie meer op eiers nie

VS Gaming (voorheen die Telkom Digital Gaming League) hou al die afgelope paar jaar ’n liga wat afsluit met ’n jaarlikse kampioenskap in Johannesburg waar die beste spelers en hul multi-speletjieorganisasies (Multi-Gaming Organisations, oftewel MGOs) meeding om prysgeld wat elke jaar net al hoe meer word.

In 2018 het hulle saam meer as R3 miljoen toegeken aan videospeletjie-titels wat hulle aanbied, waar wenners van die groter speletjies tot R200 000 kon verdien per span, en selfs kleiner titels soos Rocket League se pryspoel meer as R50 000 was.

VS Gaming is maar net een voorbeeld – daar is ’n klomp ander toernooi-organiseerders wat geld bied vir die beste in ons geweste.

HoldenZA (29), een van die mede-eienaars van die African Cyber Gaming League (ACGL), wat gereeld e-sport-toernooie aanlyn of as ’n byeenkoms in die vorm van ’n LAN hou, sê e-sport in Suid-Afrika het ’n geweldige groei beleef in die laaste twee jaar.

VS Gaming (voorheen die Telkom Digital Gaming League) hou al die afgelope paar jaar ’n liga wat afsluit met ’n jaarlikse kampioenskap in Johannesburg waar die beste spelers en hul multi-speletjieorganisasies (Multi-Gaming Organisations, oftewel MGOs) meeding om prysgeld wat elke jaar net al hoe meer word.

Hy glo toegang tot die toernooie moet maklik wees vir die gewone ouens. Hy sê toegang kan bewerkstellig word deur aanlyn toernooie te hou (met al hoe meer veseloptiese kabels, het al hoe meer mense internet van ’n hoë gehalte) en byeenkomste soos ekspo’s en konvensies verseker dat baie mense op een slag deel kan word van e-sport.

Die snelle groei word ook onder meer toegeskryf aan die impak van sosiale media wat help om die persepsie van die publiek oor speletjies te verander, sê MissLadyJay (23), wat al jare lank deel is van e-sport en tans ’n Gwent-speler vir Energy Esports is.

Zethanias (43), eienaar van Raving Mad Gamerz, wat konsentreer om e-sport uit te brei in Suid Afrika deur verskeie toernooie en ligas, sê die wye dekking van e-sport op platforms soos Twitter, Twitch, YouTube en televisie help om dit toeganklik te maak.

DStv het selfs nou ’n kanaal genaamd Ginx eSports TV wat 24/7 inhoud uitsaai wat te doen het met videospeletjies en e-sport.

DStv het selfs nou ’n kanaal genaamd Ginx eSports TV wat 24/7 inhoud uitsaai wat te doen het met videospeletjies en e-sport.

Stromers wat platforms soos Twitch gebruik om hul eskapades regstreeks aan ander te wys, beleef ook ’n skielike groei in Suid-Afrika.

Al hoe meer stromers begin nou om geld te verdien deur aanlyn skenkings en salarisse van organisasies te kry, asook borge.

Hoewel dit nog nie regtig algemeen is dat mense hul werk sal los vir stroming nie (soos oorsee), is ons vir seker vinnig op pad daarheen.

Maar baie mense wonder of jy ’n loopbaan uit e-sport kan maak in Suid-Afrika.

LEES OOK: Reik na die sterre, maak foute en leer soveel jy kan

MissLadyJay huiwer om te sê ja. Daar is tans net nie genoeg borge en gereelde toernooie nie.

HoldenZA stem saam. Hy dink ons is oor die algemeen in ’n greep tussen amateur en semi-professioneel, waar selfs die beter spelers steeds op ’n tradisionele salaris moet staatmaak om hulself te onderhou.

Hy voeg by daar is nog net ’n handjievol betaalde of gekontrakteerde spelers, maar skaars vyf jaar gelede was daar geen sulke spelers nie.

Zethanias meen om te groei, moet vennootskappe gebou word en groot organisasies moet begin betrokke raak waar nie net spelers nie, maar ook ondersteuners deel is van die opwinding wat met e-sport gepaardgaan.

Die fokus

Dit sluit natuurlik aan by wat ons kan leer by ons eweknieë oorkant die water. Die fokus moet wees op sowel ondersteuners as spelers.

Zethanias is oortuig daarvan dat dit juis die ondersteuners is wat gaan help om die groei plaaslik te versterk.

Die fokus moet wees op sowel ondersteuners as spelers.

Hy sê dat dit nie vreemd is om oorsee tot $500 te betaal om ’n toernooi by te woon as ’n toeskouer nie, en dis juis toeskouers wat sal help belê in die toekoms van e-sport hier by ons.

HoldenZA stem saam dat ons baie kan leer uit wat in die buiteland gebeur. En hoewel die glans en glorie die einddoel is, moet ons daaraan werk om e-sport so toeganklik as moontlik te maak.

Waarskuwing

Hy waarsku daarteen om te kyk na die massiewe skares, uitspattige verhoë en sakke vol geld oorsee en dit dan dadelik hier te wil hê. Dit is nie onmiddellik haalbaar nie, maar is iets waarna ons moet streef.

Onlangs was daar ook die sukses-storie van die organisasie Bravado Gaming wat hul Counter Strike Global Offensive (CS:GO)-span Amerika toe gestuur het vir ’n paar maande.

Ongelukkig het hul geld opgeraak en hulle moes terugkom na Suid-Afrika waar hulle ’n nuwe span gaan bou.

Bravado het in ’n gaming-huis gebly en elke dag geoefen en aan Amerikaanse toernooie, aanlyn en regstreeks voor ’n skare deelgeneem.

Aanvanklik was dit maar moeilik vir hulle, maar hulle het sukses behaal deur te kwalifiseer vir die DreamHack Winter-toernooi in Swede en het daar ’n tweede plek behaal. (Wie sal ooit die Twitch-boodskap “Sirkuleer die avokadopeer om Bravado te help” vergeet?)

Hulle het ook die DreamHack Mumbai-titel verower en tot die 21ste plek op die wêreldranglys geskuif.

Ongelukkig het hul geld opgeraak en hulle moes terugkom na Suid-Afrika waar hulle ’n nuwe span gaan bou. Vier van die vyf spelers kon vir ’n Amerikaanse organisasie teken om verder in Amerika te bly en aan te hou om Suid-Afrika se naam in die internasionale landskap te vestig.

Inklusiwiteit

Inklusiwiteit is vandag ’n belangrike gonswoord en dit geld ook e-sport. Daar is verhale soos die Ekasi Esports-klub in Soweto wat op die oomblik ’n top-span het in CS:GO.

Tans verskyn al hoe meer vroulike spelers op die toneel, maar daar is nog ’n pad om te stap.

Vir my is nog ’n voordeel van e-sport dat dit die geleentheid bied vir mense om deel te wees van ’n gemeenskap wat om verskeie redes nie kan deelneem aan tradisionele sport nie.

MissLadyJay sê toe sy voorheen Call of Duty (CoD) mededingend gespeel het, is sy as ’n vroue-gamer nie altyd met ewe veel respek behandel nie, maar al hoe meer vroue raak nou betrokke by CoD.

Zethanias sê dat sulke persepsies en gedrag moet verander.

HoldenZA stem saam met MissLadyJay en sê “vroue-verteenwoordiging in die Suid-Afrikaanse landskap is aan die groei. Dit is te danke aan die vroue wat reeds wys dat dit nie net ’n manneklub is nie.”

Hy dink as al hoe meer vroue begin deelneem, sal dit ander motiveer om betrokke te raak.

Vir my is nog ’n voordeel van e-sport dat dit die geleentheid bied vir mense om deel te wees van ’n gemeenskap wat om verskeie redes nie kan deelneem aan tradisionele sport nie.

LEES OOK: Is jy 'n keyboard-soldier?

Baie mense is fisiek nie aangelê om aan buitelug-sport deel te neem nie.

In die Suid-Afrikaanse videospeletjie-gemeenskap is Guilio “Coolguy6316” Solito baie bekend. Spierdistrofie is by hom gediagnoseer toe hy ’n kind was.

Hy is tans in ’n rolstoel en kan nie sy vingers gebruik nie, maar dit het hom nie gekeer om ’n manier te vind om aan e-sport deel te neem en sy passie uit te leef nie.

Hy is nie net ’n aktiewe deelnemer nie, maar ook ’n bekende bywoner van verskeie elektroniese konvensies. Toe hy onlangs dringend ’n operasie moes ondergaan, het die gemeenskap binne 48 uur meer as R50 000 vir hom ingesamel.

Selfs ouers raak meer ondersteunend, en Zethanias vertel hoe ’n ma by ’n onlangse toernooi gesê het dat sy “tot die einde van die wêreld sal vlieg om haar seun, wat ongelooflike potensiaal het, te ondersteun”.

En dis dié soort inklusiwiteit wat maak dat e-sport ’n tuiste vir almal kan wees, ongeag ras, kultuur, geslag, geloof of fisieke vermoëns.

Selfs ouers raak meer ondersteunend, en Zethanias vertel hoe ’n ma by ’n onlangse toernooi gesê het dat sy “tot die einde van die wêreld sal vlieg om haar seun, wat ongelooflike potensiaal het, te ondersteun”.

Soos die lyn tussen tradisionele sport en e-sport besig is om te kwyn, is e-sport nou in ’n begunstigde posisie waar ’n nasie se aandag toegespits is op wat volgende gebeur.

En dis fantasties dat enigeen betrokke kan raak om groei te help bewerkstellig.

Daar is selfs sprake dat dit in die nabye toekoms deel gaan word van die Olimpiese Spele. Is dit nie ’n wonderlike vooruitsig nie?

Bronne: ESPN, News24, Scholar Works, Statista, VSgaming, Business Insider, ESportEarnings en EsportCentral.

  • DF Luttig (24) doen sy meestersgraad in Kliniese Sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy kom van Kaapstad.
  • Wonder jy hoe studente se koppe werk? Lees meer meningstukke hier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.