Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Gedeelde geskiedenis van môre lê in ‘grys areas’

Geskiedenis is maar ’n snaakse ding.

Of dit nou vir politieke mag of sosiale propaganda is, dit word jare lank lank al rondgegooi om ’n agenda te dien.

Die apartheid-establishment het uitstekend daarin geslaag om Suid-Afrikaanse geskiedenis só skeef te trek, en die verskeie geskiedenisse van mense uit mekaar te hou, dat ons tot vandag toe sukkel om by ’n gemene geskiedenis uit te kom.

Die teenvoeter hiervoor, wat sogenaamde balans moet bring in ons historiografie, is soms om ’n skeefgetrekte struggle-geskiedenis te vertel, of om met groot politieke blindekolle na die afgelope 24 jaar van ons land se geskiedenis te kyk.

Tog, tussen die historiese warboel deur, is ons generasie op ’n plek waar ons ’n gesamentlike geskiedenis kan skep – meer as generasies voor ons. Dit kan gebeur op twee vlakke: ons geskiedbeskouing van die verlede en in die skep van ’n toekomstige geskiedenis.

Ons huidige geskiedbeskouing is belangrik. Geskiedenis as vakgebied is nie altyd so gewild onder mense van die jonger generasie nie, veral nie Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Dit kan wees omdat opvoeders op verskeie vlakke dit baie vervelig maak, of omdat dit oor die jare heen in die openbare sfeer ’n verpolitiseerde vakgebied is.

Die twee kampe

Diegene van ons wat wel belang stel in geskiedenis, val dikwels in twee kampe: internasionale politieke geskiedenis soos byvoorbeeld die Tweede Wêreldoorlog of wie het vir JFK vermoor; óf ’n verwronge volksgeskiedenis.

Dit is belangrik dat die laaste kamp van nader bekyk word. Dié fokus op geskiedenis is gewoonlik deurspek met mitologie en ’n binêre oordeel van historiese gebeure. Dink maar aan die mitiese simboliek van Bloedrivier of die binêre oordeel oor Winnie Mandela.

Dit is belangrik dat ons die grense van ons geskiedbeskouing verbreed.

Dit pas ook mooi in die raamwerk van “ons” en “hul” geskiedenis ongeag wie die “ons” of wie die “hulle” in dié geval is. Die “ons” sien gewoonlik “hul” geskiedenis as ’n interessantheid, ’n periferale geskiedenis tot jou eie. Sommige mense glo byvoorbeeld die geskiedenis van Suid-Afrika het in 1652 begin, terwyl ons goed bewus is van nomadiese groeperings en koninkryke wat lank voor Oom Jan hier aangekom het. Die Europeërs se aankoms in die Kaap is net die begin van ’n gedeelte van ons geskiedenis. Die prekoloniale Suid-Afrika het ’n ryk geskiedenis besaai met sterk leiers, gesofistikeerde sosiale strukture, en mense met idees.

Dit is belangrik dat ons die grense van ons geskiedbeskouing verbreed. Die Eurosentriese geskiedbeskouing help ons nie as ons ons eie mense wil verstaan nie. Net so kan ’n radikale Afrosentriese geskiedbeskouing daartoe lei dat ons blindekolle vir ons geskiedenis ontwikkel en dat ons op arbitrêre maniere probeer wys dat Afrikane beter is as Europeërs.

In so ’n opset kan die gravitas van Afrika se geskiedenis verlore gaan. Ons sal van ander mense moet leer oor hul perspektief op geskiedkundige gebeure. Die verlede geskied in verhouding met verskeie aspekte soos groepe mense met mekaar, leiers met volgelinge, of mense met die omgewing. Dit help as ons met ons diverse verlede die geskiedenis kan ondersoek van en saam met ander mense.

Die geskiedenis van die toekoms

Die tweede vlak waarop ons generasie ’n gemene geskiedenis kan skep, is hoe ons die geskiedenis van die toekoms skep. Dit wil sê hoe ons vandag die geskiedenis maak wat ons in die toekoms vir ons kinders en kleinkinders gaan vertel.

Ons kyk gewoonlik vas in die groot gebeure en individue van die verlede as ons praat oor geskiedenis. Paul Kruger, die Mfecane, Winnie Mandela, die Grensoorlog, die Groot Trek, Vlakplaas, die afskaffing van slawerny, en so kan die lys aangaan.

Groot gebeure en mense, belangrik soos dit is, kan soms ons aandag aftrek van die geskiedenis wat in die grysheid gebeur. Ons generasie moet seker maak dat ons in daardie grysheid begin floreer. Ons deel verskillende ruimtes op ’n intiemer vlak as die generasies voor ons. Ons kampusse, klasse, en koshuise is waar ons begin skep aan ’n geïntegreerde storie.

Ons Suid-Afrikaanse samelewing is nog nie werklik so gestruktureerd dat ons stories maklik geïntegreer kan word nie. Tog moet ons die ruimtes wat ons wel deel, verantwoordelik gebruik om aktief te bou aan ’n toekomstige geskiedenis.

Ruhan Fourie.

Ons moet wel versigtig wees.

Gebeure soos die 1994-verkiesing, die Sokkerwêreldbeker van 2010, of die onlangse #ZumaMustFall-beweging kan gebeure wees wat ons generasie blind maak vir ons verantwoordelikheid in die grys gebiede. Dié groot gebeure gaan gewoonlik gepaard met ’n element van goedkoop en tydelike euforie, en telkens is dit wit Suid-Afrikaners wat ontnugter is ná die tyd. Populisme en politieke napratery het egter ook deur die jare vir ons swart en bruin landsburgers vals gehoop gegee.

Die huidige grys areas is waar ons geskiedenis van die toekoms lê – nie in goedkoop politiek nie. Hoe ons ons paaie loop met medeburgers wat soms gesien word as “hulle”, gaan baie belangrik wees in hoe ons toekomstige geskiedenis lyk.

Dit is nie ’n roep na goedkoop diversifisering van Suid-Afrikaanse geskiedenis nie. Dis ’n poging om ons generasie bewus te maak van ons bestaande geskiedbeskouing en hoe ons ons verantwoordelikheid teenoor toekomstige Suid-Afrikaners nou moet begin ernstig opneem. Daar is nie plek vir sogenaamde tokenism in die proses nie. Ons moet intensioneel wees oor die storie wat ons saam met ander Suid-Afrikaners wil skryf, op gelyke voet, en met verantwoordelikheid teenoor ons verlede, hede, en toekoms.

  • Ruhan Fourie (25) is besig met sy doktorsgraad in geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy kom oorspronklik van Uitenhage in die Oos-Kaap.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.