Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Gesoek: ’n Nuwe kampuskultuur

’n Universiteit is ’n teelaarde vir geestesiektes – dít is al meermale bewys.

Daar is ongetwyfeld ’n ernstige behoefte aan ’n vars benadering, maar daar heers ’n wanindruk dat dit hoofsaaklik die instansie self is wat moet aanpas.

Die studenteliggaam se gevaarlike houding teenoor geestesgesondheid moet egter ewe dringend aangespreek word. Daarsonder sal die universiteit se pogings om hul strukture aan te pas, slegs beperkte sukses hê.

Dit is ’n gegewe dat studente met mekaar sal meeding op universiteit. Daarby is tersiêre onderrig natuurlik meer uitdagend as sekondêre onderrig. Hierdie realiteite, wat nie noodwendig inherent skadelik is nie, het ontaard in ’n ekstreme, verwronge, “vasbyt-en-uithou”-kultuur.

Daar word nie net meegeding om die slimste te wees nie, maar onbewustelik ook om die sterkste te wees. Sukses is om swaar te kry sonder om te knak – of sonder om te erken dat jy geknak het.

Die ideaal is dat ons geestesiektes normaliseer. Depressie en angsversteuring behoort nie as tekens van swakheid beskou te word nie, maar as legitieme toestande wat werklik ’n invloed het op ’n mens se vermoë om te funksioneer.

Die pad wat kampusse geneig is om te volg, is egter ’n gevaarlike tipe normalisering waar ongesonde gewoontes aanvaar en selfs aangemoedig word.

Daar word nie net meegeding om die slimste te wees nie, maar onbewustelik ook om die sterkste te wees. Sukses is om swaar te kry sonder om te knak – of sonder om te erken dat jy geknak het.

Die houding is so diepgewortel dat dit sy lelike kop selfs met die kleinste interaksies uitsteek. Dink net aan die mededinging tussen fakulteite se studente oor wie nou eintlik vir die mees uitmergelende kursus geregistreer is – en dit as ’n bron van trots, eerder as kommer.

Te veel mense dink dit is indrukwekkend as iemand sê: “Jis, broe, ek het agt koppies koffie gedrink en net drie ure geslaap.”

Gegradueerdes spog sonder veel simpatie oor hoeveel mense in hul jaargroep die kursus gedruip het of verleng het. Daar word geamuseerd geglimlag as dosente by die eerste lesing verwys na persone wat die module gedruip het deur te sê: “Ek herken ’n paar gesigte van verlede jaar.”

In so ’n toksiese konteks is dit nie verbasend dat studente nie in staat is om te erken, of eens te besef, dat iets skort nie. Die norm is skeefgetrek in so ’n mate dat talle studente tevrede is om, soos Sisufos, dag ná dag die opdraande uit te stap – sommige kry dit reg, terwyl daar vir baie ander ’n tyd kom waar die klip oor hulle rol. Hierdie kwessies kom wel tydelik in die soeklig as ’n student of dosent sy of haar eie lewe neem. So iets stuur skokgolwe deur ’n kampus, maar ontwaak nie in almal ’n bewustheid van die moontlike gevolge wat hul eie aksies kan hê nie. Selfs vir iemand wat ’n simpatieke hart het, is so ’n gebeurtenis ’n paar maande later so te sê vergete terwyl daar geskinder word oor die HK-lid wat nie die HEMIS-vereistes gehaal het vir hertoelating tot die koshuis nie.

Marietjie Booyens

Dit is waarskynlik nie akkuraat om te sê dat dit “vergete” is nie. Dit is eerder die geval dat min mense so ’n tragedie met alledaagse problematiese handelinge verbind.

Dit sou onredelik wees om die onus te plaas op een persoon om eiehandig verantwoordelik te wees vir ’n ander se geestesgesondheid – ek stel dit glad nie voor nie. Waarvoor ek wel hoop, is dat studente en personeel sal ophou om te bou aan ’n kultuur wat keer dat mense herken wanneer en erken dat iets fout is, wat keer dat mense die broodnodige hulp kry.

Die oplossing begin waarskynlik by ingeligtheid – om te weet watter tipe gedrag skadelik is en om vertroud te wees met die simptome van ’n geestesiekte sodat jy dit in jouself en in ander kan raaksien.

Ingeligtheid het die potensiaal om gedrag te inspireer wat gebou is op deernis en medemenslikheid. Dít is die kampuskultuur wat ons kan, en moet, kweek.

  • Marietjie Booyens (24) studeer LLB aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.