Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ghoemas: Hou op om Afrikaans as politieke speelbal te gebruik
Dianri Wessels
Dianri Wessels

André Schwartz het nie net ’n ereprys vir sy lewensbydrae gekry nie. Hy het ook loshande die beste toespraak gelewer.

Schwartz het by vanjaar se omstrede Ghoemas-toekenningsaand eer gebring aan Afrikaans, ons “ma”. Ek wens dat elke Afrikaner dié toespraak kan hoor.

Volgens André is Afrikaans “vroulik”. Sy is ’n ma. ’n Ma wat vir ons elkeen lief is en wat na ons wil kyk. Sy is fyn, intelligent en sterk. Maar selfs ’n ma kan net soveel druk vat. Ons behandel nie ons ma reg nie, sê hy. André het egter niks gesê oor die “landlord” waar sy haar blyplek huur nie.

Wat ons gedrag betref, slaan Schwartz die spyker op die kop. Ons mishandel ons eie ma deur haar as ’n politieke speelbal rond te gooi. Hoe kan ons dit toelaat om te sien hoe ons ma seerkry en verrinneweer word?

Ons Afrikaners is ’n gesin met die mooiste ma in die wêreld. Ons het die vermoë om ’n prentjiemooi gesin te wees, aangesien ons lief vir mekaar is en dieselfde kultuur het. Die konflik tussen ons broers en susters (met ma in die middel) is besig om te veroorsaak dat die gesin uitmekaarval.

’n Ma kan nie kant kies nie. Sy is lief vir al haar bloedjies. Dus is dit onregverdig om haar in die middel van al die huismoles te plaas. Ons elkeen is geregtig op ons eie opinies en vryheid van spraak.

Die vraag is: Hoe verskil ons?

Ons ma het ’n ruim gees. Sy verstaan ons. Sy hou van ons uiteenlopende sterk standpunte. Ons dink. Ons redeneer. Die probleem kom egter wanneer ons té emosioneel en passievol oor ons standpunte raak en mekaar, en nie mekaar se standpunte nie, wil bykom. Dis dan wanneer ons ons ma se welstand en gesondheid begin toets.

Ons slaan deure toe

Wanneer die ryk verhuurder sy gewig begin rondgooi, is die vet in die vuur. Hy verstaan nie ons gesin se dinamika nie. Eintlik het hy niks daarmee uit te waai nie. Hy hoef hom nie met enige van ons uiteenlopende standpunte te vereenselwig nie. Sy ongevraagde geboelie het ons gesin verder erg verdeel. Nie oor ons liefde vir mekaar nie, maar wat die beste vir onsself, ons ma en ons gesin is.

Ons dink en reageer heeltemal verskillend. Sommige skree op mekaar. Ons raak kwaad vir mekaar. Ons slaan deure toe. Ons ma krimp ineen.

Wat moet ons dan doen? Redeneer op die sosiale media. Moenie baklei en slegsê nie. Dis so maklik om met jou vinnige vingers ander Afrikaners sleg te sê omdat hulle na die Ghoemas gaan.

Ons sal sekerlik nooit ’n eenvormige strategie hê om ons ma se belange te bevorder nie. Die belangrikste vir ons ma is juis dat ons met mekaar praat, redeneer en stry. Dis ’n gesin. Ons mag mekaar nie boikot of ignoreer nie. Dan het ons nie meer die lewendige gesin wat ons ma laat glimlag nie. Dit gaan net ’n kwessie van tyd wees voordat sy knak.

Skoenmaker, hou jou by jou lees

Wat moet ons dan doen? Redeneer op die sosiale media. Moenie baklei en slegsê nie. Dis so maklik om met jou vinnige vingers ander Afrikaners sleg te sê omdat hulle na die Ghoemas gaan. Hulle is mos verraaiers en jy gaan al hul albums brand. So met ander woorde: Die kunstenaar is ’n verraaier omdat hulle ander kunstenaars in ons mooi taal wil vereer? En jy help met die verrinnewering van ons taal deur om Afrikaanse CD’s te vernietig?

LEES OOK: Afrikaanse musiek: Ons is nie almal so nie

Voordat jy weer ’n twiet uitstuur, dink weer! André Schwartz het dit so mooi gestel: “Stop dit! Kom kuier vir my op my plaas. Kom ons bliksem mekaar as dit nodig is. Maar bly weg van die media.” Kom ons doen ons baklei persoonlik en nie in die openbaar nie.

Afrikaanse kunstenaars moet liewers nie hulself met politiek besig hou nie. Skoenmaker, hou jou by jou lees. As jy sing, sing. (Hieroor het ek en van my gesinslede hewig verskil. Die ander standpunt is: Dis hul grondwetlike reg om dit te doen. Die verhuurder moet hom uit ons gesinsake hou!)

Maar ek voel as jy toneel speel, speel toneel. Hou tog net verby om jou lyf politikus te hou. Gebruik jou talente om ons taal te vier en te verheerlik. Ons kan nie meer negatiwiteit bekostig nie.

Kom ons kyk na ons ma, asseblief.

  • Dianri Wessels (21) is 'n derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy studeer BCom menslikehulpbronbestuur. Sy woon al haar hele lewe in Pretoria en het gemartikuleer aan die Hoërskool Garsfontein. Sy sing tans ook in die Tuks Camerata.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.