Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Gille, die moord en die hawelose man wat tot my redding gekom het'
Leroy Jooste
Leroy Jooste

Dit was 1 Januarie 2015. Die begin van ’n nuwe jaar. Om 05:00 skrik ek wakker van gille buite. Toe ons buite kom, sien ons die lyk van ’n meisie wat net daar doodgesteek is. Alle hoop waarmee ek die jaar wou begin, is nes haar lewe op daardie oomblik weggeneem.

Ek moes gereedmaak vir my middagskof, ek moes op Nuwejaarsdag werk. Ek het probeer om myself van hierdie skokkende toneel en herinnering te distansieer, ’n truuk wat ek reeds van kleinsaf bemeester het. Ek het die lang en stil pad Eersterivierstasie toe aangedurf – alleen. Ek was nie regtig in die bui nie, maar daar was net ’n maand oor voor ek met my studie kon begin, so ek moes kophou en deurdruk.

Die een oomblik was ek nog alleen, in gedagte, soos gewoonlik, toe die verskyning van drie figure my gedagtes tot werklikheid terugdwing. Dit was duidelik dat hulle my nie ’n gelukkige Nuwejaar wou toewens nie. Ek het probeer om ’n mate van afstand tussen ons te behou, toe my rugsak van agter geruk word, gevolg deur vuishoue in my lae rug. Toe ek omdraai, het ek op die grond neergeslaan.

LEES OOK: 'Die dag wat drie mans my gekaap en in die kattebak gegooi het'

Dit was seker dom om alleen en ongewapen met drie vreemdelinge, wat seker gangsters genoem kan word, te probeer baklei, maar watter ander keuse het mens as jou lewe bedreig word?

Ek het wakker geskrik, met my kop wat draai, my wenkbrou oopgekloof, gesig bloedbedek, liggaam lam, terwyl ek besig is om aan my eie bloed te verstik. Ná ’n ruk het ek my arm na my rugsak uitgestrek, langs die bebloede baksteen, en ontdek dat my selfoon se battery pap is.

Toe ek om hulp skree, het twee kerkvroue oorkant die pad geloop, maar hulle het vinnig weggestap en my met die woorde “soe sal Satanskind oorkom” toegesnou. Met my werkuniform het ek probeer keer dat die bloed in my oë loop, wat in my toestand ’n onbegonne taak was. My liggaam was vir ’n ruk lam, hoewel die ergste beserings aan my kop en gesig was. Oomblikke later het ek die volgende woorde gehoor: “Mybroe, wat kind? Jy ka mossie soe ko lê oppie Nuwe Djaa nie. Latte man djou ophelp.”

En dis presies wat die hawelose man gedoen het. Ná ’n stryd om my op die been te kry, het hy my na ’n nabygeleë taverne gevat, waar mense met my aankoms gegil het. Die bloed het van my kop en gesig, oor my klere begin loop, dit was nie ’n mooi prentjie nie. Almal het rondgehardloop, ys gekry, terwyl die bergie seker gemaak het dat hulle nie te rof met my werk nie.

Die stemme en gesigte was onbekend, maar die dringendheid in hul bystand was die trekpleister vir die trane wat saam my bloed geloop het. Na ek peanuts en water aangebied is, het iemand aangedring om my huis toe te neem, die bergie het ons vergesel.

Voor my huis het hy my met die woorde gegroet: “Jy gat oriaat wies, mybroe.” Dis ook die woorde waarmee ek myself sedertdien in moeilike tye motiveer. Na ek by die hospitaal was en my kop na twee dae bedaar het, kon ek vir die eerste keer reflekteer – sonder dat my kop wil bars. Ek het myself nog altyd as geestelik beskou, en ek glo dat die teenwoordigheid van die Here en die hoop wat ek in Hom geplaas duidelik sigbaar was in die gebaar van die hawelose man en “alkoholiste” – in plaas van die kerkvroue. Nogal ironies, nè.

Na hierdie gebeure het ek ’n nuutgevonde waardering vir die man op straat ontwikkel, veral diegene wat nooit erkenning vir hul goedhartigheid ontvang nie.

Na hierdie gebeure het ek ’n nuutgevonde waardering vir die man op straat ontwikkel, veral diegene wat nooit erkenning vir hul goedhartigheid ontvang nie.

Dit het my tot die besef gebring dat die waarde van die samelewing nie by die ministers en amptenare gesoek moet word nie, maar by die gewone mens, mense soos ek en jy.

Die hawelose man kon op daardie oomblik besluit het om my waardevolle besittings te vat, ek het immers lam op die teer gelê, maar hy het nie. Sy gesindheid het ook nuwe lewe aan die bekende woorde van emeritusaartsbiskop Desmond Tutu gegee: “Hope is being able to see that there is light despite all of the darkness.”

Hoop het nuwe betekenis

Ek assosieer hoop gewoonlik met ’n emosie of gemoedstoestand, maar ná daardie dag beskou ek dit ook as ’n daad – ’n mens. Hoop hoef nie net ’n abstrakte konsep te wees nie, maar ook ’n handeling en dalk juis wat ons in die donker tye aan mekaar kan bied.

So, deur ’n ekstra kospakkie vir jou buurvrou te maak of haar elektrisiteit te betaal, is reeds ’n poging om hoop te kweek. Daai bergie woon op die straat en in vergelyking met hom is ek materieel gesproke seker welaf, al het ek ook nie veel nie.

Deur die volgende persoon se hoop te wees, hernu jy die hoop binne jouself!

Op daardie oomblik was ek van sy goedhartigheid en menslikheid afhanklik en daarom beskou ek dit ook as die ingesteldheid wat ons altyd met ons moet saamdra.

Hoop kan wonders verrig sou ons dit emosioneel of psigologies bereik, maar ek glo die merkwaardigheid en trefkrag van hoop lê in ons daaglikse uitbeelding daarvan. Deur die volgende persoon se hoop te wees, hernu jy die hoop binne jouself!

  • Leroy Jooste is tans 'n Nagraadse Student (Afrikaans en Nederlands) aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het in Eersterivier, Kaapstad grootgeword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.