Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Glo my, jou omstandighede bepaal nie jou toekoms nie'

A man who runs to the end of the mountain

Ek is gebore op ’n plaas net buite Villiersdorp. My lewe het nie maklik begin nie. My ma was lank ’n enkelouer, totdat die Here my kom seën het met ’n stiefpa, die perfekte vaderfiguur.

Van kleins af moes ek werk en ek moes aanvaar dat ek verwerp is. Aanvanklik was daar baie vrae, maar ek het vroeg besef dat die swaarkry karakter bou. Ek moet dankbaar wees vir wat ek het en hard werk vir wat ek in die lewe wil hê. Dit het my ook geleer om onafhanklik te wees en om nie op mense te vertrou nie, maar eerder net op God.

Ek het my laerskoolloopbaan in ’n skool op die plaas voltooi. In hierdie tyd is ek baie onregverdig behandel. Onderwysers het my vermoë en prestasies op sport- en akademiese gebied misgekyk en my nooit by die prysuitdelings daarvoor vergoed nie. Ondanks alles, het ek gefokus gebly, hard gewerk en geweet waarheen ek op pad is en wat ek wil bereik.

Jevano Sampson
Jevano Sampson

Tyd het aangebreek dat ek hoërskool toe moes gaan en ek is by ’n Model C-skool geregistreer. Hier het ek baie uitdagings in die gesig gestaar, die hoof van die skool het my geoordeel en bedenkinge gehad oor my weens die laerskoolhoof wat ’n slegte verslag oor my geskryf het. My skoolloopbaan was vir my baie belangrik, want ek wou mense verkeerd bewys en wys dat ek, ’n plaasseun van Villiersdorp, my drome kon volg en dit bereik.

Soos die jare aangegaan het, het die onderwysers en hoofde van die hoërskool ontdek wie en wat ek werklik is. En in my matriekjaar het ek by verskeie universiteite aansoek gedoen om te gaan studeer.

Vir die tydperk van November tot Desember was ek by vrugtepakkers aan diens met die hoop dat die universiteite my wel sal kontak en selfs met die hoop dat die maatskappy vir my studie sou betaal. Hier het ek die hele Desember gewerk, behalwe Kers- en Nuwejaarsdag en ook sonder enige bonus.

Die volgende jaar kry ek ’n brief van aanvaarding by Elsenburg wat vereis dat ek Februarie al moet kom registreer en met my studie begin. Die blydskap was oorweldigend.

Ek het die eienaar van die maatskappy waar ek in diens was daarvan verwittig, maar hy was nie bereid om met my studiegeld te help nie. Hy het gemeen hy is nie my pa nie. Ek moes met ’n teleurgestelde hart die nuus aan my ouers oordra.

Ek wou die werk los, maar moes voet by stuk hou, want ek wou nie die jaar mors nie. Met my inkomste kon ek ten minste finansiële druk op my ouers verlig.

Op 26 Februarie 2017 het Kovsies my gekontak met die nuus dat ek aanvaar is weens my goeie resultate. Ek moes die 28ste aanmeld vir klasse. Die nuus was werklik wonderlik en ek het van oor tot oor geglimlag.

Ek het voor ’n kruispad gekom. Ek het besluit om aan te hou, want ek is glad nie iemand wat so gou moed opgee op my toekoms en drome nie.

Toe my ouers die nuus hoor, het hulle onmiddellik reëlings getref vir my om daar te kom. My ouers het hul werkgewer vir ’n lening gevra, maar dit het slegs die koste gedek vir my om daar te kom. Ek het intussen aansoek gedoen by NSFAS vir ’n beurs.

Die volgende dag het ons vertrek na Bloemfontein en na ’n volle dag se ry moes ons weer terug Villiersdorp toe, omdat ek nie ’n beurs gehad het nie.

Op pad terug het ek die Here se liefde en plan vir my bevraagteken, want hoekom moet ek deur soveel dinge gaan en werk niks dan vir my uit nie. Ek het toe in hierdie donker tyd besluit om steeds positief te bly, hard te werk en te hoop en vertrou dat dinge wel beter gaan word.

Ek het voor ’n kruispad gekom. Ek het besluit om aan te hou, want ek is glad nie iemand wat so gou moed opgee op my toekoms en drome nie.

Ek het vol teleurstelling teruggekeer werk toe en het ook begin om ekstra klasse in wiskunde te gee. Toe het ek besluit om ’n klein onderneming te begin wat vis en visprodukte verkoop, asook skoonmaakmiddels.

Ek het onderwys as loopbaan oorweeg en het aansoek gedoen by die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (die KSUT). Later die jaar het ek terugvoering gekry en is aanvaar om die daaropvolgende jaar (2018) te kom studeer.

My ouers het weer hul trots gesluk en hul werkgewer gevra vir finansiële hulp. Hulle het ingestem om vir my verblyf te betaal, maar ongelukkig nie vir my studie nie. Dit was vir my steeds ’n groot seën, want ek het gevoel elke bietjie help en ek was verskriklik dankbaar.

Ek het in 2018 met my studie begin by die KSUT Wellington en dit was swaar eerste paar maande, finansieel en oor die algemeen. Later die jaar het ek gehoor dat my aansoek om ’n Rupert-beurs suksesvol was. Dit was die beste nuus ooit. Dit het vir ons gesin soveel beteken, want dit het onmiddellik soveel spanning van ons afgehaal.

My onderneming het ook goed gedoen en ek kon daardie inkomste as sakgeld en vervoergeld gebruik.

Omdat ek op ’n plaas woon en vakansies op die plaas werk, het ek ’n liefde vir boerdery ontwikkel. Ek het besluit om ’n klein varkboerdery te begin om my passie uit te leef en ook om omstandighede te verbeter. Dit was vir my opnuut ’n uitdaging en dit was ’n plesier en ’n ongelooflike gevoel om met die diere te werk. Ek het intussen my eerstejaar suksesvol voltooi met agt onderskeidings uit die 13 vakke.

My varkboerdery het ek begin met net twee varkies. Ek moes myself leer van die boerdery. My ander onderneming het my baie gehelp om my veeboerdery op die been te kry.

Vroeg in 2019 het ek nog ’n sog aangekoop omdat my liefde en passie vir vark- en veeboerdery as geheel ontwikkel het. Toe ek met my tweede jaar begin by die KSUT, het dit baie beter gegaan met my en my ouers en huishouding.

Die Rupert-beurs het sowel my studie as verblyf gefinansier, danksy my eerstejaarspunte.

My tweedejaar het ek voltooi met sewe onderskeidings uit tien vakke en ek is ook gekies om in die studenteraad te dien. Ek is as ondervoorsitter verkies.

Ek wil graag jong mense en studente aanmoedig om deur te druk en die regte besluite te neem. Jou omstandighede bepaal nie jou sukses of toekoms nie.

In Desember 2019 het ek terugslag met my varkboerdery gekry – my sog het gevrek net nadat sy kleintjies gekry het. Die teleurstelling was baie groot en ek wou die boerdery los. Maar weer het boerdery my geleer dat mens eers gaan misluk en gaan verloor voordat jy wen.

Die slegte ervaringe moet jou boerdery as geheel net beter maak. Jy moet innoverend dink en aanhou en bereid wees om te leer, dis hoe ek net beter en beter gaan word in wat ek doen.

Ek is nou in my derdejaar en my onderneming het ongelooflik uitgebrei. Ek het nou ook vleisprodukte bygevoeg en het drie varkies aangekoop. Ek wag ook nou om in die volgende paar dae kleintjies van my eie sog in die boerdery te verwelkom.

Ek het ook ’n klerereeks, Boerseun by Hart, begin. Dit is geskep vir bewusmaking van plaasmoorde, die belangrikheid van boere, plaaswerkers en plase en om plaaslewe as leefstyl uit te beeld.

Ek is vandag dankbaar vir alles wat ek deurgemaak het, goed en sleg. Dit het my die mens gemaak wat ek vandag is. Ek is ’n onderwysstudent in my derdejaar, motiveringspreker en ’n boer. Om te boer is ’n leefstyl en nie ’n ras, geslag, geloof of kultuur nie.

My toekomsplanne is om onderwys te voltooi, kommersieel te boer met vee en gewasse en om later ’n graad in veekunde of boerdery te verwerf.

Ek wil graag jong mense en studente aanmoedig om deur te druk en die regte besluite te neem. Jou omstandighede bepaal nie jou sukses of toekoms nie.

  • Jevano Sampson studeer onderwys aan die KSUT. Hy kom oorspronklik van Villiersdorp.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.