Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Groter begrip nodig vir immigrante
Elizabeth Visser

Suid-Afrikaners maak gereed om oor sowat drie maande nasionale en provinsiale regerings te kies . . . en soos verwag, begin die politici al hoe mooier speel om kiesers se regte snare te prikkel.

Hulle stof grootliks ou beleide af, met beloftes oor grond, opvoeding en die ekonomie.

Maar daar is ’n nuwerige beleid wat vanjaar opvallend vlak op die lippe van die politieke debat lê: Een wat handel oor die kwessie van immigrasie.

Deur die geskiedenis het mense gemigreer op soek na voedsel, veiligheid, vryheid en geleenthede – maar die wêreld, en die Afrika-vasteland, veral, ervaar tans een van die grootste, mees diverse migrasies nóg.

Baie Suid-Afrikaanse burgers – oor die ekonomiese en rassespektrum heen – is ongemaklik met dié immigrasievlakke en gevolge… en die politici ruik bloed. Dit blyk dat al hoe meer politici dus geregverdig voel om, soos Stephen Grootes skryf, immigrasie en xenofobie as rooivleis na hul ondersteuningsbasis te gooi.

‘Ons’ en ‘hulle’

Die DA het verlede jaar aangekondig dat “immigrasie” ’n kritieke plek in die party se manifes sal opneem,

terwyl ANC-leiers soos Bongani Mkongi, adjunkminister van polisie, die mening geopper het dat buitelanders in Suid-Afrika ongewens bly.

Só ’n beleid vind aanklank hier, waar daar ’n oorheersende beskouing is dat “ons” absoluut oorweldig word deur buitelandse burgers, en dat menige van ons land se maatskaplike probleme – soos misdaad, werkloosheid, ongelykheid en armoede – waarskynlik aan “hul” toenemende teenwoordigheid in ons samelewing toegeskryf kan word.

LEES OOK: VERKIESING: 'Kom ons red SA uit die kloue van die verlede'

Al is dit hoe gerieflik om immigrante te belas met al Suid-Afrika se ongesteldhede, is dit belangrik om na ’n paar feite te kyk.

Eerstens móét ons erken dat daar werklik probleme (soos menseregteskendings en korrupsie) op ons grense voorkom en dat ’n persentasie laag geskoolde Suid-Afrikaners inderdaad met vlugtelinge en migrante sonder wettige dokumente om sekere werkgeleenthede meeding.

Africa Check wys in sy analise daarop dat die werklike syfers baie laer is as wat die skrikwekkende stories voorgee.

Eerstens móét ons erken dat daar werklik probleme (soos menseregteskendings en korrupsie) op ons grense voorkom en dat ’n persentasie laag geskoolde Suid-Afrikaners inderdaad met vlugtelinge en migrante sonder wettige dokumente om sekere werkgeleenthede meeding.

Trouens, slegs 3% tot 5% van ons totale bevolking bestaan uit buitelanders.

Dus, om ’n sentiment van vrees en uitsluiting te kweek oor hierdie kwessie is bloot ’n afleiding – die tipe afleiding wat in 2008 altesaam 58 mense se lewens in die land gekos het, en wat in 2016 tot Brexit en Amerika se verkiesing van Donald Trump gelei het.

Tweedens, buitelanders word vinnig daarvan beskuldig dat hulle Suid-Afrika se veiligheid, voorspoed en maatskaplike kohesie bedreig.

Gevolglik klou stywer vas aan ons grense en nasionale identiteite… maar ek vermoed dat ons skandelik swak ingelig is oor wat gedwonge migrasie eintlik behels, en waarom mense nogtans kies om dié weg te volg.

LEES OOK: Moet ek liewers oorsee gaan werk?

Jy vaar nie sommer goedsmoeds die see in op ’n enjinlose boot (sonder kos, geld of enige waarborg van oorlewing) omdat jy avontuurlustig voel nie.

Jy bring nie tien jaar deur sonder jou familie in ’n tent tussen Ethiopië en Kenia omdat jy daarvan hou om alleen te kampeer nie.

Jy sit nie jou al jou spaargeld in ’n smokkelaar se sak – wat dalk nog spoorloos daarmee gaan verdwyn – omdat jou Nuwejaarsvoorneme was om meer vertroue in die mensdom te hê nie.

Mense vlug nie omdat dit lekker is nie

In ’n reeks onderhoude wat ek verlede jaar met vlugtelinge in Kaapstad gevoer het, het ek tussen die tjips en koeldrankyskaste van ’n winkel in die middestad gesit en luister hoe ’n jong Somaliese vlugteling – so oud soos ek – van sy kinderjare in Mogadisjoe vertel.

Van hoe hy op die strand sokker gespeel het (soms onderbreek deur gewapende bendes); hoe hy saam met sy pa gewerk het aan ’n draaiboek (buiten een jaar toe sy pa lank van dreigende stamleiers moes wegkruip) om nader aan sy rolprentdrome te kom; en van sy hoop om eendag so opgevoed soos sy pa te wees.

Ek sê nie die antwoord is om van ons grense ontslae te raak nie. Daar is ongetwyfeld ’n menigte ekonomiese, administratiewe en politieke voordele vir samelewings wat funksionele grense het.

Vandag swot hy aan die KSUT, maar eers nadat hy 21 dae lank alleen op vlug was, met net ’n paspoort en ’n baadjie.

Jy sien, mense trek – of vlug – nie hierheen bloot omdat dit lekker lyk nie.

Mense hulle skeur hulself los van hul tuiste omdat hulle hier ’n toekoms vir hulself kan sien. Punt.

En tog, die manier waarop ons migrante en vlugtelinge beskou – as indringers van ons welsyn – word die beskerming van ons grense bó die beskerming van dié mense beklemtoon.

Ek sê nie die antwoord is om van ons grense ontslae te raak nie. Daar is ongetwyfeld ’n menigte ekonomiese, administratiewe en politieke voordele vir samelewings wat funksionele grense het.

LEES OOK: 'Ons moet SA meer waardeer'

Maar in die afwesigheid van ’n antwoord vir die probleem, soos ons dit aan die ontvangkant ervaar, moet ons die kwessie pak oor hoekom miljoene mense verkies om – teen die agtergrond van ’n groot persoonlike risiko’s – grense oor te steek (lees “Home” van die Somaliese digter Warsan Shire) en moet ons akademici, wetgewers, joernaliste, ekonome ens. werk aan kreatiewe oplossings daarvoor.

Intussen moet ons samelewing daarna streef om ons harte en denkwyse teenoor vlugtelinge en migrante op grondvlak te verander . . . want so onproduktief soos dit is om suinig besitlik oor ons grond te wees, is dit onproduktief – en onregmatig – om suinig te wees in ons beskouing oor wie die reg het om in ons geleenthede en gemeenskappe te deel.

Ons laat toe dat mites, vooroordele en blinde patriotisme ons – en ons verkose leiers – ons grondwetlike plig laat versaak om die menswaardigheid van kwesbare individue te beskerm.

Ons laat toe dat mites, vooroordele en blinde patriotisme ons – en ons verkose leiers – ons grondwetlike plig laat versaak om die menswaardigheid van kwesbare individue te beskerm.

En dis jammer, want ons almal verloor in so ’n wêreld.

As burgers het ons die reg en die vryheid om te stem vir verantwoordelike leiers – leiers wat verstaan dat ons ’n kapasiteit en ’n roeping het vir veel meer as om ons hulp en empatie af te baken by mense wat ons geloof, tradisies, en agtergronde deel.

Heg meer waarde aan mense

Die toekoms van ons land hang nie af van die ondeurdringbaarheid van ons grense nie, want wat is ons land, indien nie gemeet aan sy waardes van inklusiwiteit, respek, diversiteit, gelykheid en geregtigheid nie?

LEES OOK: 'Nee, ek wil nie emigreer nie'

Burgerskap is uiteindelik maar ’n wetlike skepping… so ons moet onthou dat ons meer waarde, beskerming en aanvaarding moet heg aan mense as aan die grense wat rondom hulle getrek is.

Want jy sien, nes dit vandag onmoontlik is om rassisme aan ’n kind te regverdig, sal dit eendag – indien dit nie reeds so is nie – onmoontlik wees om te verduidelik waarom iemand anders behandel moet word, bloot as gevolg van die geografiese koördinate waarin hulle gebore is.

Bronne: Daily Maverick, DA Immigration Plan, Africa Check, Netwerk24.

  • Elizabeth Visser (22) doen tans haar meestersgraad in geskiedenis aan die Universiteit van Kaapstad. Sy kom oorspronklik van Pretoria.
  • Wonder jy hoe studente se koppe werk? Lees nog meningstukke hier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram! 

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.