Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Het ons van Mandela se drome vir SA vergeet?
Leandri Louw
Leandri Louw

“The power of education extends beyond the development of skills we need for economic success. It can contribute to nation-building and reconciliation.”

Dit was die woorde van oudpres. Nelson Mandela 23 jaar gelede. Mandela het ’n droom gehad vir Suid-Afrika, en hy het die belangrikheid van onderwys en opvoeding vir hierdie droom gesien. Is hierdie droom van een van die grootste leiers in Suid-Afrika bewaarheid?

Op 13 Junie 2039 wil ek terugkyk op hierdie rubriek wat ek geskryf het en “ja” kan antwoord op hierdie vraag. Ek wil kan sien hoe ons onderwysstelsel verander het om kinders, tieners en studente te leer van respek en liefde. Die probleem lê egter daarin dat dit nie iets is wat ’n handboek of lesing ’n mens kan leer nie.

Onderwysers leer jou waardevolle lesse

Respek en liefde is van die kernbeginsels wat nodig is vir nasiebou en versoening. Mense is gou om die invloed van onderwysers en dosente te onderskat. Die lewenslesse wat hierdie mense vir hul studente leer, is onbeskryflik. By my Afrikaansonderwyser het ek geleer hoe om verlies te hanteer en hoe om te bly staan, al dwing die lewe jou op jou knieë. My musiekjuffrouens het my geleer hoe om in myself te glo en hoe om hard te werk vir dit wat ’n mens wil hê.

In die verbruikerstudieklas het ek geleer dat die meeste foute reggemaak kan word en ek het besef hoe belangrik vriendskap is.

In die verbruikerstudieklas het ek geleer dat die meeste foute reggemaak kan word en ek het besef hoe belangrik vriendskap is.

My wiskundejuffrou het my geleer: “Ek kan!” Ek moet net probeer. My Engelsonderwyser het my geleer om dieper te dink as wat my neus lank is. My biologiemeneer het my gewys hoe om meer om te gee oor ander mense as oor myself (al kos die stres oor sy matrieks wat nie leer nie heel moontlik sy gesondheid).

Niks van hierdie uiters belangrike lesse sou ek geleer het in ’n handboek nie. Ons land kort meer onderwysers wat omgee en vir leerlinge wys hoe om respek te hê, nie net vir die mense van wie jy hou nie, maar ook vir die mense van wie jy niks hou nie. Dít is wat ons land nodig het en wat ek 20 jaar van nou af sal wil sien. Suid-Afrika kort meer onderwysers wat mense wys hoe om lief te hê, eerder as om op hulle te skree elke keer as hulle ’n fout maak.

Kweek liefde en respek

Ek wil egter ook vandag ons onderwysstelsel beskuldig. Onderwysers doen soveel meer werk as dit waarvoor hulle betaal word. Ek vra nie dat daar ’n periode vir respek by die klasrooster gevoeg word nie. Ek vra eenvoudig dat onderwysers betaal word na aanleiding van hul belangrikheid in ons land se toekoms. Sonder onderwysers sou ons land ’n katastrofe wees.

As onderwysers jong mense moet leer van respek, moet hulle die nodige respek kry vir die werk wat hulle doen.

Ek wil egter ook ’n uitdaging aan leerlinge en studente rig. Gee vir jou onderwyser of dosent die respek wat hulle toekom. Hulle bestee baie van hul tyd om jou op te lei en jou toekoms te verseker. Sien dit raak en hanteer hulle altyd met respek, en ek kan jou belowe jy sal meer respek as mens kry.

LEES MEER: Kan Cyril ons onderwysstelsel red?

Ek wil ook vir al die toekomstige onderwysers vra: Leer jou studente die belangrikheid van onvoorwaardelike respek en liefde. Wees vir hulle ’n voorbeeld van dit wat jy wil hê hulle moet word en wees geduldig met hul foute. As onderwyser is die toekoms van Suid-Afrika ook in jou hande.

Aan almal wat nie onderwysers wil word nie: Sien die belangrikheid van onderwysers raak en leer die jeug hoe om meer respek en omgee vir onderwysers te toon. Jy hoef nie ’n onderwyser te wees of kinders van jou eie te hê om ’n rolmodel te wees van hoe ’n mens iemand respekteer nie.

Ek glo saam met Mandela in ’n Suid-Afrika waar die noodsaaklikheid van die onderwysstelsel raakgesien word in nasiebou en versoening. Suid-Afrika het die potensiaal om ’n land te wees van liefde en omgee tussen alle mense. Ek glo in ons land se toekoms. En jy?

  • Leandri Louw (18) studeer musiek aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom oorspronklik van Mosselbaai af.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.