Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Hoe dringend is daai WhatsApp van jou regtig?
Alet Janse van Rensburg
Alet Janse van Rensburg

Toe ek jonger was en elke plaashuis nog ’n landlyn gehad het, het ek vir die eerste keer oor die fyn tydsberekening van kommunikasie geleer.

As ek vroegoggend bel, pla ek dalk die mense terwyl hulle ontbyt eet. In die middel van die dag sal daar dalk niemand by die huis wees nie. Oor middagete pla ’n mens nie en ook nie direk ná middagete nie, want dan bel jy dalk iemand uit sy middagslapie uit. So dis veilig om te bel ná middagslapie-tyd, maar voor aandete en die nuus. Na die nuus is dit ook veilig om te bel mits dit nog voor slaaptyd en huisgodsdiens is.

Dit was my eerste inleiding tot kommunikasiekunde as ’n laerskoolkind wat net die bure se kind wou bel op die Telkom-lyn om te vra watter klankwoorde ek moet oefen vir môre se klas. Vandag bestaan daardie kursus nie meer nie. Dit is uitgefaseer en dit wil vir my lyk asof dit nou oukei is om enigiemand op enige (ongeleë) tyd van die dag te kontak.

Studente se biologiese horlosie

’n Student se biologiese horlosie is geherprogrammeer. Stap 01:00 in enige kampuskoshuis op die jolige Pukke se Potchefstroomkampus in en jy sal nog heelwat wakker mense moet groet in die gange. Die herprogrammeringsproses is maklik: voeg een deurnagsessie by ’n daaropvolgende middagslapie en voila! Jy het effektief dag en nag omgeruil en jou slaappatroon is iets van die verlede.

Ek verlang na berekende kwaliteit-kommunikasie, eerder as kwantiteit-kommunikasie.

Dit is skokkend dat ek daardie tyd van die oggend nog ’n hele kortverhaalbundel kan saamstel van die boodskappe wat ek ontvang en omtrent die bykomende podsending kan uitgee van stemnotas van langer as ’n minuut.

Ek snak na my asem as daardie boodskappe nie eens dringend of werkverwant is nie (met “werk” bedoel ek iets waarvoor ek ten minste minimum loon betaal word). Nee – dit was seker iemand wat (nes die laerskool-ek) wil weet oor ’n klas of ’n taak of ’n spertyd. Of (maak jou emosioneel gereed hiervoor) ’n WhatsApp-groep waarop mense daardie tyd van die oggend ’n peiling hou oor wanneer ’n gerieflike tyd sal wees om ’n vergadering te hou, of wat die saak ook al mag wees. Die ironie: skeduleer ’n gerieflike tyd op ’n ongerieflike tyd.

Nee dankie vir grootmaat

Toegegee, ’n mens sit gewoonlik jou “hart-en-long-masjien” (soos my ouers na selfone verwys het voordat hulle self daaraan verslaaf geraak het) op silent.

Maar dan word ek steeds met ’n klomp boodskappe en ’n agterstand wakker en bestee sodoende die eerste 30 minute van my dag daaraan om boodskappe te antwoord of om op die hoogte te kom van die veranderende planne op groepe.

Hopelik bereik dit ook persoonlike kommunikasie en sal mense weer hulself afvra: Is dit werklik nodig om hierdie boodskap te stuur op hierdie ongeleë tyd?

Om mense direkte toegang tot jou persoonlike WhatsApp te gee, maak kommunikasie gerieflik, maar daardie boodskappe het ’n manier om aan te dring daarop om geantwoord te word. WhatsApp en ander platforms waarop persoonlike boodskappe gestuur word, gee ook aanleiding daartoe dat mense vasgestelde afsprake meer geredelik verander.

Ek verlang na berekende kwaliteit-kommunikasie, eerder as kwantiteit-kommunikasie. Ek identifiseer met ’n terugkeer daarna (kwaliteit-kommunikasie) op sosiale media waar besighede groot moeite doen daarmee om nie te veel materiaal te deel nie en om hul inhoud op tye te plaas waarin die gebruikers meer geneig is om die platform te gebruik.

Hopelik bereik dit ook persoonlike kommunikasie en sal mense weer hulself afvra: Is dit werklik nodig om hierdie boodskap te stuur op hierdie ongeleë tyd?

  • Alet Janse van Rensburg is 'n derdejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus. Sy studeer BA kommunikasie en kom oorspronklik van Cradock in die Oos-Kaap.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.