Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Hoe gaan ek eendag my dogter teen daardie 'ooms' beskerm?
Mizanne Hattingh
Mizanne Hattingh

Ek sukkel om woorde te kry wat by mense in Suid-Afrika se gemoedstoestand pas. Dalk moedeloos en uitgeput?

In September het sosiale media ontplof, mense se frustrasie het oorgekook. Die #AmInext-hutswoord het gevolg en toe #Femicide. Die het egter die #notallmenaretrash-nonsens ook na vore laat kom, waarmee ek reeds my misnoeë uitgespreek het.

My hart klop vandag benoud, want niks het verander nie. Daar is nie skielik meer respek vir vroue en hul lywe nie. Hoe daar na vroue gekyk word, het nie skielik verander nie. Inteendeel, die ongelukkigheid het vir baie ’n punchline geword.

Ek treur oor die vroue van ons land. Ek is bang om ’n dogter in die lewe te bring, want ek weet waardeur ek moes gaan en hoe dit my eie ma se hart oopgeskeur het. Ek wil nie my dogter blootstel aan ooms wat vir haar sê, “Ag glimlag ’n bietjie meer, jy het so ’n mooi mond”, nie.

Indien jy nie die probleem kan insien nie, is jy waarskynlik die oom om wie jong meisies draaie loop.

Indien jy nie die probleem kan insien nie, is jy waarskynlik die oom om wie jong meisies draaie loop.

Ek wil nie hê dat sy in ’n inkopiesentrum moet loop, met oë wat haar klere van haar lyf af probeer skeur nie. Ek wil nie hê sy moet die heeltyd haar aksies verduidelik om mans s’n te regverdig nie.

Ek is gatvol

Ek is gatvol, nie moeg of uitgeput of die een of ander mooi Afrikaanse woord nie. Gatvol. Ek wil nie meer my feminisme aan mense probeer verduidelik wat geen begrip of verdraagsaamheid daarvoor het nie. Ek luister die naweek na ’n storie van ’n werkgewer wat een-een die vroue wat vir hom gewerk het drank ingegee en misbruik het. Die storie is egter nie met woede vertel nie, in teendeel, daar is nie fout daarmee gesien nie.

As jy niks verkeerds sien daarmee om iemand onder die invloed te misbruik nie, lê die fout by jou.

As jy niks verkeerds sien daarmee om iemand onder die invloed te misbruik nie, lê die fout by jou.

Ongelukkig sal te veel mense dink dat die vroue nie soveel moes drink nie, en nie dat die man sy hande moes tuishou nie.

Ek sê nie dat vroue geen verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid moet neem nie, maar te veel en te vinnig word die skuld op hulle gepak, en nie op die kartonboks wat geen respek vir haar of haar liggaam het nie. Iemand onder die invloed kan mos nie ja sê en weet waarvoor hulle ja sê nie? Tog word die vrou nie verdedig nie.

LEES MEER: Waardeer die mans en vergeet van die 'seuntjies'

Ek doen ’n beroep op vroue: Begin saamstaan. Moenie stilbly wanneer ’n man “per ongeluk” aan jou boud vat nie, want kom ons glo nou nie dat perdemis vye is nie – dit was waarskynlik nie ’n ongeluk nie. Groet met die hand as soengroet jou ongemaklik maak. Staan op vir ander vroue, moenie hulle beskuldig dat hulle stories opmaak of dat hulle hul eie pad gekies het nie. Maak jou seuns groot met ’n goeie begrip van toestemming, en nie met die argaïese boys will be boys-denkwyse nie.

Die waarheid is: Jy kan alles in jou vermoë doen om jou dogter te probeer beskerm, maar teistering en verkragting is ’n werklikheid.

Moenie wag dat dit gebeur voordat jou woede aan die brand slaan nie.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.