Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Hoe kan ek op 21 voel dat ek reeds misluk het?'

vector illustration in flat style

Sover het ek nog altyd alles volgens die reël gedoen. Ek was ’n getroue leerling op skool, het al my vakke deurgekom en dalk net so een of twee keer probeer bank voordat ek te bang geraak het en kop uitgetrek het.

Ek was ’n sissie.

Ek was pligsgetrou, hardwerkend en het aan sport deelgeneem. Ek het seker gemaak my punte is goed genoeg vir universiteit, want as die tannies eers begin vra “en wat gaan jy volgende jaar doen’’ moet daar mos ’n geoefende antwoord wees, alhoewel ek seker is dat jou ouers te trots was en eerste wou noem dat hul dogter volgende jaar op die Universiteit Stellenbosch gaan studeer.

Hier staan ek nou. Derdejaar met hoofvakke in sielkunde, isiXhosa en Engels, maar ek het nie die vaagste benul waarheen ek op pad is nie. Ek weet fisies nie wat ek wil doen nie. Ek sou nie iets anders wou studeer nie en weet dat die vakke wat ek het, beslis dinge is waarin ek belangstel.

Rozanne Bester
Rozanne Bester

Die probleem is egter dat dit nie ’n werktitel bevat nie. Ek studeer nie en stap uit met die titel van onderwyser of dokter nie. Hel, pel, ek kan voel hoe my maag elke keer val sodra die tannie en oom nou vra “en waar beplan jy om volgende jaar te werk’’, want om eerlik te wees tannie, ek wonder self.

Ek dink daar word al so vroeg van kinders verwag om te weet wat hulle vir die res van hul lewe wil doen. Daar is kinders in gr. 9 wat nie eens die verskil tussen ’n dokter en ’n doktor ken nie, maar vakke moet gekies word en in matriek moet sussie weet waarheen sy op pad is.

Daar is soveel druk op die jeug van vandag, soos jou ouma sal sê, dat ons konstant op ’n gejaag is na die beste wees, want onthou, die beurs gaan nie homself ontvang nie.

Ons is bang vir mislukking en om mense teleur te stel. Daar is hierdie “socially constructed idee’’ dat jou lewe in ’n tydlyn en volgorde moet verloop van skool, naskoolse studies, werk, trou en huis opsit, wat onnodige stres op ’n mens se skouers sit.

Ek glo dat daar ’n doel in elkeen se lewe is, en nes daar nie ’n vaste ouderdom vir trou of kinders kry is nie, so is daar ook nie vir wanneer jy besef waar jou geesdrif lê nie. Net omdat jy op een en twintig met ’n graad agter jou naam nie weet wat jy wil doen nie, beteken dit nie jy het misluk nie. Daar is mense wat eers op die ouderdom van vyftig hul passie besef, nes ander weer op die ouderdom van sestig dalk vir die eerste keer die liefde van hul lewe ontmoet. Dit is ook oukei.

So my vraag is: Hoekom al daardie druk op ’n agttienjarige sit net sodat hulle op een en twintig voel hulle gaan ’n werk moet doen wat hulle moontlik gaan haat, “want wat gaan die mense dink as boetie by die huis sit ná universiteit’.’

Sukses en geluk lyk anders vir almal en daar is nie ’n tyd aan verbonde nie. So, my medemaats wat nie weet wat hulle met die res van hul lewe gaan doen nie, ons is in dieselfde bootjie, maar ook dis oukei. Daar is nie ’n tyd verbonde aan geesdrif nie, jy gaan dalk nou net ’n jaar ekstra saam met jou ouers moet Binnelanders kyk, want jy bly nog onder hul dak.

  • Rozanne Bester studeer BA taal en kultuur aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.