Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Hoe keer ons dat werkloos, moedeloos word?
Shaznay Henney

Werkloosheid is een van die menigte sosio-ekonomiese kwessies wat Suid-Afrika in die gesig staar.

Statistieke Suid-Afrika het in 2018 gesê 58% van werklose Suid-Afrikaners is tussen die ouderdom van 15 en 34 jaar oud. 7,3% van dié groep is gekwalifiseerde en reeds gegradueerde persone wat eens op ’n tyd vir hulself ’n blink toekoms in die land voorgestel het.

Geagte leser, ’n mens kan jouself net indink watter terneerdrukkende uitwerking dié krisis op talle talentvolle en opgeleide jong mense moet hê.

Ten spyte van die hoë werkloosheidskoers wat soveel Suid-Afrikaners bedreig, was daar in 2016 meer as een miljoen studente geregistreer aan tersiêre instellings oor Suid-Afrika heen.

Hoop vir verhoogde indiensneming

Dié hoopvolle studente meen dat hul kans op indiensneming effens verhoog sal word deurdat hulle werkgewers sal kan oorreed dat hulle hul sout werd is aangesien hul jare op universiteit kan getuig van selfdissipline, deursettingsvermoë en soms selfs verdraagsaamheid.

Daar bestaan vele teorieë en argumente oor waarom werkgewers so gekant is teen die aanstelling van pas gegradueerdes. Een is dat ervaring in die werkplek so belangrik is dat dit eenvoudig nie oorgesien kan word nie.

Werkgewers se behoeftes verander ook gereeld en diskriminasie gegrond op ras, ouderdom en vakgebied moet ook nie oor die hoof gesien word nie.

Diegene wat reeds die arbeidsmark probeer betree het, meen egter dat hulle juis vir poste aansoek doen wat noem dat die kandidaat se vaardighede maar net op intreevlak hoef te wees, maar dan weggewys word omdat hulle in daardie stadium nie genoeg ervaring opgedoen het nie. Werkgewers se behoeftes verander ook gereeld en diskriminasie gegrond op ras, ouderdom en vakgebied moet ook nie oor die hoof gesien word nie.

Die bogenoemde is slegs enkele argumente oor waarom die Suid-Afrikaanse jeug steeds nie deur die staat indiensneming gewaarborg kan word ná die voltooiing van hul studies nie.

LEES OOK: 'Werkloosheid vernietig die siel'

Dus argumenteer hierdie meningstuk dat ’n groot aantal van ons land se sosio-ekonomiese kwessies hul oorsprong in die werkloosheid van jong mense vind.

Dié groep mense is veronderstel om die waarskynlikste te wees om aangestel te word, nie omdat hul mooi en oulik is nie, maar omdat hulle deur tersiêre instellings opgelei is om positiewe en nodige vaardighede tot die werksplek te kan bydra. Die gehalte van dié onderrig is debatteerbaar, maar ter wille van die argument sal dit vir eers opsy geskuif word.

Kry die regte vaardighede

Dit bring my dan tot die punt van hierdie meningstuk: Suid-Afrika oor 20 jaar moet ideaal gesproke minder onsekerheid en meer gewaarborgde indiensnemingsgeleenthede vir jong gegradueerdes kan voorsien.

’n Mens hoor dikwels dat die jeug die toekoms van die land in hul hande dra, maar die werkloosheidsyfer getuig beslis nie daarvan nie. Inteendeel, dit dra by tot ’n groep moedelose jong mense wat stelselmatig geheel en al opgee op die toekoms van ’n land met soveel potensiaal, en gevolglik hul potjie elders (en internasionaal) gaan krap.

Suid-Afrika oor 20 jaar moet ideaal gesproke minder onsekerheid en meer gewaarborgde indiensnemingsgeleenthede vir jong gegradueerdes kan voorsien.

Werkloosheid onder die Suid-Afrikaanse jeug is natuurlik gekoppel aan die stand van die land se ekonomiese groei en in alle eerlikheid is dit ironies dat diegene wat die nodige mensekapitaal probeer verkry het, werkloos is ná jare se opofferings, uitgawes, bloed, sweet en trane.

Kenners meen natuurlik dat dié kwessies hokgeslaan kan word indien politieke leiers hul fokus sou stel op die aanmoediging van universiteite om studente toe te rus met die nodige vaardighede om indiensneming, maatskappye en ook die ekonomie te bestuur en te beheer.

Bygesê is dit nie te sê dat studente agteroor moet sit nie. LinkedIn, ’n sosiale netwerk wat daarop gemik is om werkendes (en werkloses) met werkgewers in kontak te bring, het eenmaal ’n artikel geplaas dat dit van uiterste belang is om in ag te neem hoe die toekomstige arbeidsmark sal lyk wanneer ’n mens kies wat om te studeer.

LEES OOK: 'SA se fondament is wankelrig'

Jong, hoopvolle studente moet (ten minste) oorweeg of die kwalifikasie van hul keuse hulle van sagte en beroepsvaardighede sal voorsien – dit is immers waarna hedendaagse werkgewers op soek is.

Ten slotte is dit geensins maklik om die ideale Suid-Afrikaanse prentjie te skilder nie, maar ek dink tog dat iemand in pres. Cyril Ramaphosa se oor moet fluister dat baie van sy drome moontlik met talentvolle, toegeruste en hardwerkende jong mense (oor sowat 20 jaar) gerealiseer kan word.

  • Shaznay Henney (20) studeer tans BA (Sosiale Dinamika) aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is ook 'n HK-lid van Nerina Dameskoshuis.
  • Wonder jy wat studente dink? Lees meer meninstukke hier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod


Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.