Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Hoekom is ons presidente heeltyd so oud?
John F. Kennedy

Dr. D.F. Malan het in die ouderdom van 74 eerste minister van Suid-Afrika geword. Adv. J.G. Strijdom het hom opgevolg toe hy 61 jaar oud was. Dr. H.F. Verwoerd was 56 toe hy die leisels ná Strijdom se dood oorgeneem het.

Adv. John Vorster was 50 toe hy Verwoerd opvolg. P.W. Botha was 62 toe hy die laaste eerste minister geword het. F.W. de Klerk was 53 toe Botha bedank en hy president geword het.

Nelson Mandela was 75 toe hy in 1994 president geword het. Thabo Mbeki was 56 toe hy in 1999 die leisels oorneem. Kgalema Motlanthe was net ’n waarnemende staatshoof. Jacob Zuma was 67 toe hy president geword het en Cyril Ramaphosa 66.

So wat daarvan?

Hoekom so oud?

Waarom moes Suid-Afrika die laaste sewe dekades deur politici van ’n gevorderde ouderdom bestuur word? Terwyl dit verwag word dat ’n gewone burger teen 65 moet aftree en sy herfsjare begin geniet ná ’n leeftyd van werk en die opbou van ’n pensioenfonds, is dit duidelik dat daar ander reëls vir politici is. Hoekom is dit ’n probleem? So ’n politikus het jare se ondervinding en wysheid.

Maar ek sien die saak anders.

Ou stryde

Met jare se diens in die politiek het verkose politici onopgeloste sake en vendettas oor tergende kwessies. Deur hul optrede is dit duidelik dat die ouderdomsverskil so groot is dat die politieke leiers ’n onvermoë het om die jonger burgers se vrese en denke vir die toekoms heeltemal te begryp. Sodoende word regulasies ingestel wat daardie jonger generasies ondermyn.

Het die eerste vier Nasionale Party-staatshoofde nie hul anti-Britse en anti-Semitiese neigings saam met hulle gebring toe hulle hul ampte aanvaar het nie? Was dit nie Verwoerd wat in 1937, toe hy redakteur van Die Transvaler was, die begeerte uitgespreek het dat regstellende aksie ingestel moet word teen Engelssprekende en Joodse Suid-Afrikaners nie? Wat is die kans dat hy minder anti-Brits of anti-Semities was teen 1958?

Ek smag na ’n leier soos John F. Kennedy vir Suid-Afrika.

Indien sy begeerte tot optrede sou lei, sou dit generasies van jong Engelssprekende en Joodse Suid-Afrikaners, wat self geen kwaad aan Verwoerd of die NP gedoen het nie, heeltemal ondermyn. Gewoonlik is die teenargument dat dit dié bevolkingsgroepe was wat voorheen meer voordele geniet het as Afrikaners sedert die sluiting van die Vrede van Vereeniging.

Dit was dalk so, maar watter generasie het voordeel getrek?

Sekerlik nie die Engelssprekende of Joodse Suid-Afrikaner wat toe nog jonk was teen die tyd van Verwoerd se verkiesing nie. Nog ’n teenargument is dat hulle voordeel getrek het omdat hul ouers en hul gemeenskap beter geleenthede vir ontwikkeling gehad het en ook die vermoë gehad het om die geld in die land na hul ondernemings te kanaliseer. Is dit die prins se skuld dat hy in ’n koninklike familie gebore is? Sekerlik nie, maar met bejaarde staatsmanne wat hul vyande vroeg in hul lewe gekies het, is dit amper onmoontlik vir hulle, soos wat die geskiedenis telkemale bewys, om logies en regverdig na die hele bevolking te kyk.

Apartheidswette gebruik

Ironies genoeg maak die ANC dieselfde fout met elke staatshoof wat uit hul geledere kom. Die ANC het nog nie besef dat hulle met verskillende generasies in hul bevolking te doen het nie. Nie net maak die ANC-regering nog gebruik van wette wat in die Nasionale Party se tyd aanvaar is nie, maar die ANC volg steeds beleide wat twee dekades gelede opgestel is. Toe daardie beleide opgestel is, was die millenniërs nog klein en glad nie bewus van die dade van die Nasionale Party sedert 1948 nie. Nou dat die millenniërs volwassenheid bereik het, moet dieselfde beleide hulle in hul fleur benadeel.

Obsessie met ras

Veronderstel twee millenniërs wat toevallig met verskillende velkleure gebore is, het sedert 1994 hul skoolloopbaan saam begin. Hulle moet dieselfde kurrikulum bemeester, het die kans gekry om aan dieselfde sportligas deel te neem en om ’n reeks ampte in hul skool te beklee wat aan hulle spesifieke magte toegeken het. Kom ons veronderstel verder dat hulle na dieselfde universiteit toe gaan en dieselfde graad behaal.

Wanneer Suid-Afrika gelei kan word deur ’n nuwe, jong, konstruktiewe generasie met ’n pligsbesef en sonder vendettas, sal die land eers kan aanbeweeg. Sal dit regtig ’n verbetering wees

Weer eens verkry elkeen dieselfde invloede van eksterne bronne. Dan kom die dag wanneer hulle vir dieselfde pos aansoek kan doen. 20 jaar later en die besluit kan nie geskoei word op verdienste nie, as gevolg van die obsessie wat die ANC, net soos die vorige regerings, met ras het.

As gevolg van beleide wat in die vroeë 1990’s opgestel is om die bevoordeeldes van die apartheidsera te na te kom, is diskriminerende beleide van die regerende party steeds in werking vir generasies van Suid-Afrikaners wat nie deel gehad het aan die onderdrukking wat uit die Nasionale Party se apartheidswette gevloei het nie.

Die ANC sien steeds niks daarmee verkeerd nie en hul jeugliga sal ook nie ’n ander mening as die ringkoppe verwoord nie. Rasionele Suid-Afrikaners wat verstaan dat die nuwe generasie nie gyselaar gehou kan word vir die dade van die voorvaders nie, kan natuurlik ’n probleem daarmee sien.

My stelling is duidelik: Wanneer Suid-Afrika gelei kan word deur ’n nuwe, jong, konstruktiewe generasie met ’n pligsbesef en sonder vendettas, sal die land eers kan aanbeweeg. Sal dit regtig ’n verbetering wees?

Trudeau tot Malema

Miskien sal dit so wees. Ander lande soos Kanada en Georgië het reeds jong staatshoofde en ministers gehad wat nie alleenlik jonk en energiek is nie, maar ook hoogs gekwalifiseerd vir die werk wat hulle moet doen. Die Kanadese kabinet onder Justin Trudeau, ’n millenniër, het ministers wat ervaring, institusionele kennis en ’n aanvoeling vir die Kanadese jeug het. Georgië se eerste minister, Mamoeka Bachtadze, is pas verkies en hy is die land se eerste staatshoof uit die millenniër-generasie. Hy is 36 jaar oud!

Ek smag na ’n leier soos John F. Kennedy vir Suid-Afrika. ’n Man wat ideale prakties in geleenthede kon omskep, van ’n man op die maan tot die stigting van die Vredeskorps.

Ongelukkig sal die kritiese wysvingers na iemand soos Julius Malema wys om die punt te maak dat die jeug nie opgewasse is om ’n land op ’n rasionele en regverdige manier te lei nie. Wie kan hulle blameer as ’n jong vuurvreter banale en ontstellende snert kwytraak wat sy ondersteuners nóg meer soos slagoffers laat voel?

Emile Coetzee.

G’n wysheid in grysheid

Maar nie almal van ons is soos hy nie. Sommige van ons droom van radikale verandering van die staat en die status quo. Die uwe is ’n uitgesproke federalis. Maar soos wat dinge nou lyk, met ’n korrupte regering wat diep in die skuld is en die infrastruktuur inmekaar laat tuimel, misdaad en werkloosheid wat elke jaar die hoogte in skiet, is dit duidelik dat daar geen wysheid in die grysheid was, of is nie. Wat het ek as millenniër om na uit te sien in die 2019-verkiesing? Nóg vier jaar waarin ek en my welvaart afhanklik is van die minimale guns uit die kantoor van ’n bejaarde staatsman wat nog sukkel met die spoke van sy verlede. Vergewe my minagting, maar daar is redes daarvoor.

  • Emile Coetzee (31) is ’n student in geskiedenis aan die Noordwes-Universiteit. Hy is besig met sy meestersgraad en doseer ook deeltyds in dié vak. Hy kom oorspronklik van Pretoria.
Meer oor:  Julius Malema  |  Jacob Zuma  |  Studente  |  Die Student  |  Menings  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.