Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Hoekom is 'oujongnooi' 'n vloekwoord?
Danette Bruwer
Danette Bruwer

Dis Dinsdag. Ek het die heeldag prakties gehad. My scrubs is glad nie so gemaklik soos in Grey’s Anatomy nie. My voete is seer, my vriendelikheid is al ’n paar uur gelede op nes my petrol en my geduld is laer as my bankbalans.

Ek wou vinnig by ’n kruidenierswinkel inhardloop vir ’n paar pakkies 2-Minute Noodles en toiletpapier. Ja, toiletpapier. Dit is iets wat altyd op is en two-ply is al duurder as brood.

“Wil jy nou meer, Danette, is dit jy?” hoor ek van agter my in een van die gange.

“Maggies, Ingrid, hoe gaan dit?” (Ek wou eerlikwaar nie weet nie.)

“Goed en jy? Ek en Johan is verlede maand verloof. Maar genoeg van my, wat vang jy als aan?”

“Ag, wonderlik! Met my gaan dit goed, dankie. Nou in my derde jaar. Ek sweet bloed, maar ek is dankbaar vir elke oomblik. (Ek wil die meeste van die tyd opskop, as ek eerlik moet wees.) Nog nie verloof of so iets nie, maar daar is tyd vir als, jy weet?” (Ek wil nie binnekort trou nie, maar kom ons wees nou maar “normaal” en beskaafd).

Waar ander op 21 ’n graad in die sak het en hul lewensmaat op kampus raakgeloop het, het ek die korporatiewe wêreld en platteland agtergelaat om ’n eerstejaarstudent te word op Tuks.

Ai, hoeveel sulke gesprekke het ek nie al gehad nie. My tydlyn het ’n bietjie anders uitgedraai as die norm. Waar ander op 21 ’n graad in die sak het en hul lewensmaat op kampus raakgeloop het, het ek die korporatiewe wêreld en platteland agtergelaat om ’n eerstejaarstudent te word op Tuks. Armer as ’n student wat per ongeluk heel naweek op R1-shots by Aandklas gekuier het, maar met soveel hoop en verwagtinge vir my toekoms.

’n Ander perspektief

Deesdae word ek na meer ooievaarsteepartytjies en troues toe genooi as beer bong-garagepartytjies. Waar ek snags die kers aan albei kante brand agter boeke, doen my vriende aansoek vir huislenings en beplan Europese wittebrode. Ek was maar nog altyd ’n meisie met westerse perspektiewe.

Deesdae word ek na meer ooievaarsteepartytjies en troues toe genooi as beer bong-garagepartytjies.

Ander meisies het gedroom van ’n ridder op ’n wit perd terwyl ek my naam iewers wou agterlaat en nie net by Home Affairs waar my van verander is of in die skoolstelsel waar ek my kinders ingeskryf het nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het niks teen dié leefstyl nie, maar ék wou net nog altyd meer bereik as die stereotipes waaraan jong vroue so gereeld onderwerp word.

Ek wil ’n dorp of stad kies as huis nie omdat my verloofde daar woon nie, maar omdat ek uitsien na ’n avontuur. Rond toer in my laat twintigs sonder ’n kind op elke heup. Kulture en plekke ervaar, alleen of saam met vriende. Myself in diepte leer ken voordat ek my aanstaande en dié se familie vir ewig moet leer ken.

’n Eensame pad

Mense stel my gereeld aan ’n ouer neef of vriend voor. “Dis tyd, Danette. Jy gaan sien, oor vyf jaar gaan jy bel met ’n spoggerige ring aan jou vinger,” of “Jy sal nog jou happily-ever-after vind”.

 LEES MEER: Om te trou is nie alles nie

My genade, Marelize, lyk ek nie klaar oorstelp van vreugde nie? Dis vreesaanjaend en Bybels oneties om ’n vrou as oujongnooi in te dink. Ek dink Suid-Afrika se politieke spel en die “lieflike” petrolprys moet ’n groter bekommernis wees.

Let wel: Dié soort lewe is in sekere opsigte baie eensaam. Jy moet dapper en dikvellig wees. Dis veeleisend om ’n vrou te wees wat nie die wêreld se beeld van vrouwees wil najaag nie. Die pad is soms ondraaglik lank en goedkeuring is min. Nietemin wil ek vir jóú, jong vrou, wat groter drome as ’n Kook en geniet-indeks het, sê dis hoog tyd om die definisie van vrouwees in die moderne era te herskryf. Maak dit van jou ’n feminis, ’n “foutiewe vrou”, of die onderwerp op familiereünies?

Vet weet, maar kom stap saam met my.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.