Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Hoekom lyk almal se selfies deesdae dieselfde?

Sy lê effens terug en staar kamma-droomverlore in die verte. Haar hare val oor die kussing soos goue golwe. In haar hand is ’n selfie-stok met ’n iPhone vasgeklem en ’n dieppers fluweelagtige doek dien as die agterdoek vir haar foto. Moenie vergeet van die venster wat net mooi genoeg sonlig deurlaat vir die perfekte beligting nie. (Dit word bewerkstellig met die hulp van die drapeersel wit kant oor die gordynreling) Sy draai die koppie op die goue tafeltjie langs die bank waarop sy lê effens na regs. Neem die foto. Sy sit skielik regop, bespeur die foto. Perfek! “Just rolled out of bed. Ugh Mornings! #nofilter #lovemylife” lees die onderskrif op Instagram.

Dié komiese toneel speel af in Jake Kasdan se Jumanji: Welcome to the Jungle (2017), ’n verwerking van die oorspronklike Jumanji-film (1995). My plan is egter nie om ’n stuk te skryf waarin ’n film geresenseer word nie. Ek gebruik bloot dié omskrywing van hierdie toneel, omdat dit só herkenbaar is. Die meeste mense, en waarskynlik minstens alle Instagram-gebruikers, sal die ritueel wat in dié toneel uitgebeeld word, herken – of jy al die nuutste Jumanji gesien het of nie. Dis die neem van ’n Instagram-waardige-selfie-ritueel.

Instagram-gesig

Dít is die tipe sosiale media-ritueel waaroor die skoonheidgeskiedkundige Rachel Weingarten nadink wanneer sy in ’n onderhoud met HuffPost vertel hoe modegiere in die verlede meestal van geografiese ligging, etnisiteit, ras en gender afgehang het. Daarteenoor word die meeste mense deesdae (byna oormatig) as gevolg van die internet aan wêreldwye gestandaardiseerde modegiere blootgestel. Die gevolg hiervan is iets wat die kenners gedoop het tot “Instagram face”, oftewel Instagram-gesig, of Instagram-grimering (“Instagram makeup”) – ’n konsep wat verwys daarna dat die gesigfoto’s (selfies) van die gewildste Instagram-gebruikers, onder andere beroemdes soos Kylie Jenner en Ariana Grande, byna identies begin lyk.

Die meeste van dié gewilde Instagram-gebruikers poseer op dieselfde manier vir foto’s, hul grimering is min of meer dieselfde, hul uitrustings grens aan identies en die foto’s is dikwels uit dieselfde kamerahoek geneem. Gewoonlik word dié beeld ook afgerond met ’n onderskrif – ’n ry emotikons en die een of ander motiverende aanhaling of ’n opsomming van die bui waarin die betrokke persoon is (met die goeddeurdagte uiteinde: “MOOD” as onderskrif).

Skoonheidstandaarde

As gevolg van hierdie gebruikers se wêreldwye beroemdheid het dié gesig van Instagram nou die norm geword. Tussen grimering en Facetune (’n iOS-toepassing soortgelyk aan Photoshop), is die gehomogeniseerde uitdrukking van skoonheid besig om al hoër standaarde te stel aan Instagram-gebruikers met ’n belangstelling in die nuutste modegiere en ’n behoefte om in te pas. Om dié rede is baie mense onder meer en meer druk om te konformeer tot die skoonheidstandaarde van die gewildste Instagram-voorkoms.

Die druk om te voldoen aan belaglike sosiale norme soos die nuutste Instagram-modes en -grimeertegnieke, word ook van ’n al jonger ouderdom afgedwing.

Die meeste mense sal dié voorkoms herken – die perfek geronde swart oogomlyning, die volronde neutrale kleur lippe, en die noukeurig versorgde wenkbroue. Hierdie voorkoms is, volgens Weingarten, juis so gewild omdat dit eerstens deur die internet baie toeganklik gemaak word. Tweedens is dit ’n voorkoms wat gepas is vir mense wêreldwyd – ongeag velkleur of nasionaliteit. Derdens is heelparty mense in elk geval deesdae nie meer so gebonde aan hul etnisiteit, ras of gender soos in die verlede nie, wat verder bydra daartoe dat toenemend meer mense eerder tot die gewilde skoonheidstandaarde pleks van kultureel-spesifieke standaarde konformeer.

En laastens het die meeste mense ’n sterk behoefte aan sosiale aanvaarding wat dikwels daartoe lei dat hulle konformeer om by die groter groep in te pas.

Verloor sin van self

Hierdie gestandaardiseerde Instagram-skoonheidsverwagtinge is problematies. Terwyl dit daartoe kan lei dat sommige mense ’n (valse) sin van solidariteit met die groep voel, kan dit egter terselfdertyd ook veroorsaak dat mense hul sin van self verloor, omdat hulle alewig besig is daarmee om aangepaste weergawes van hulself vir sosiale media-gebruik te skep.

Elzanne Coetzee.

Dit raak veral ’n probleem as in ag geneem word dat ’n groot aantal Instagram-gebruikers jongmense is. Die druk om te voldoen aan belaglike sosiale norme soos die nuutste Instagram-modes en -grimeertegnieke, word ook van ’n al jonger ouderdom afgedwing. Jongmense voel dikwels soveel druk om te konformeer dat hulle byna kompulsief begin verstel aan hul aanlynpersoonlikheid. Dit kan op die lange duur lei tot negatiewe emosies en hoogspanning, omdat hul identiteite regstreeks verbonde is aan die herhaaldelike pogings om te voldoen aan die verwagtinge daargestel deur sosiale media-platforms en die gewildste gebruikers van dié platforms.

Jy word nie foutloos wakker

Ek probeer egter nie om kritiek uit te spreek oor gewilde Instagram-gebruikers en ander beroemde persone of hul Instagram-profiele nie. Nog minder is dié stuk ’n poging om die sosiale media-gebruik van jongmense aan te val. Sosiale media het gekom om te bly en die gebruikers daarvan kan nie verkwalik word vir die gebruik van hul privaat Instagram-rekeninge nie. Dit is ook nie die geval dat alle Instagram-beroemdes noodwendig hul rekeninge gebruik om oppervlakkige skoonheidstandaarde af te dwing nie. Dit is net belangrik om te onthou dat die meeste van ons nie foutloos wakker word nie. En dat dit oukei is.

  • Elzanne Coetzee (23) is tans besig met haar meestersgraad in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom oorspronklik van die Weskus.
Meer oor:  Menings  |  Selfies  |  Sosiale Media  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.