Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
#I'mStaying: 'Bly in SA, maar moenie stilbly nie'
Dianri Wessels
Dianri Wessels

As jy my ’n jaar gelede sou vra of ek in Suid-Afrika wil bly, sou my antwoord sonder twyfel gewees het: “Definitief nie.”

Die misdaad, ekonomie en politiek het ’n tol op my begin eis en ek kon nie vir my ’n toekoms in die land sien nie. My houding het egter ’n 180 °-draai gemaak danksy ’n vakansie-internskap. Ek gaan definitief nie landuit nie. Ek bly om te bou!

Ek het in die Julie-vakansie ’n arbeidsverhoudinge-internskap by Solidariteit gedoen. Die internskap het nie net my horisonne verbreed ten opsigte van vakbonde en arbeidsverhoudinge nie, maar ’n totale ander wêreld het ook vir my oopgegaan.

Ek kon weer droom oor ’n toekoms vir my in Suid-Afrika. In my tydperk daar, het Solidariteit sy #BouOmTeBly-veldtog bekend gestel.

As jy my ’n jaar gelede sou vra of ek in Suid-Afrika wil bly, sou my antwoord sonder twyfel gewees het: “Definitief nie.”

Dié veldtog het my so gemotiveer dat ek besluit het dat ek móét bly. Ek moet in Suid-Afrika bly om te help bou!

Ruwe diamant

Suid-Afrika is ’n beeldskone land met baie potensiaal. Dit is tans ’n ruwe diamant waaraan daar so ’n bietjie geskaaf en geskuur moet word.

Ek wil help bou aan ’n Suid-Afrika waar ek en ander Suid-Afrikaners in ons beroepe van krag tot krag gaan terwyl ons kinders op skool floreer. Ek wil help bou aan skole waar ons kinders onderrig van goeie gehalte in hul moedertaal ontvang. Ek wil ook help bou aan ’n veilige Suid-Afrika met topklas- mediese sorg.

Ek wil ook help bou aan ’n veilige Suid-Afrika met topklas- mediese sorg.

Suid-Afrika moet nie net vir ons Afrikaners ’n beter plek word nie, maar ek wil help bou om vir almal ’n beter Suid-Afrika te gee.

Solidariteit bou om te bly en dus wil ek bly om te help bou.

Dit gaan ons niks baat om in verskillende rigtings dwarsoor die wêreld te gaan nie.

Dink jy regtig jy gaan tuis voel in ’n ander land? As jy nie meer tuis in Suid-Afrika voel nie, gaan jy vir seker nie tuis in ’n ander land voel nie.

Die gras is regtig nie groener aan die ander kant nie. Dus moet ons almal ons hande vuilmaak en saam help bou aan ’n belowende Suid-Afrika.

Hoekom moet ons bou?

Ons bly in ’n beeldskone land met die mooiste natuur, lekkerste mense en die mees diverse kulture, maar ongelukkig laat die staat ons in die steek.

Dus is dit nodig om self die sement en bakstene te vat, ons moue op te rol en te help bou. Talle mense skrik en is huiwerig wanneer hulle die terme “selfbestuur” en “privaat” hoor.

LEES OOK: Hier kom die donker nag vir SA

Die privatisering en verbetering van dienste is glad nie ’n nuwe neiging nie. My ouers is albei in staatshospitale gebore, maar ek is in ’n private hospitaal gebore. Ek was in ’n Afrikaanse staatskool en die kans is groot dat my kinders ongelukkig nie in ’n Afrikaanse staatskool onderrig sal kan word nie.

Gelukkig is dit geen probleem nie, want teen daardie tyd sal daar bekostigbare private skole wees.

As die staat dus die land in die steek laat, moet ons nie moed opgee en die land verlaat nie. Ons moet self verantwoordelikheid neem en help bou sodat almal blywend vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika kan leef.

Moet jou nie aan die boelies steur nie

Die #IMSTAYING-groep op Facebook het al amper 750 000 lede. Almal het hul eie redes waarom hulle in ons reënboog-nasie wil bly en dit maak my hart bly om hul positiewe stories te lees.

Dink net die verskil wat gemaak kan word as al dié mense saamstaan en help bou aan ’n voorspoedige Suid-Afrika. Hoe meer mense aktief besig raak met gemeenskaps-opheffing, skenkings aan die regte organisasies gee en plaaslike ondernemings ondersteun, hoe sterker gaan die fondasies van die bouwerk wees.

Dit is nie nodig om te vlug van die land se probleme nie, jy sal in elk geval nooit heeltemal kan ontsnap van al die probleme nie.

Bly in Suid-Afrika. Maar moenie stilbly nie. Maak jou stem dik en help om van Suid-Afrika ’n beter plek te maak.

Die bouery gaan nie altyd maanskyn en rose wees nie. Daar sal altyd Lesufi’s, Malemas en ander boelies wees wat die planne wil pootjie. Dus moet die bouers nooit moed verloor nie. Ons bou nie net vir ons generasie nie, maar vir die talle wat nog kom.

#IMSTAYING met net een doel, naamlik om te help bou!

  • Dianri Wessels (21) is 'n derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy studeer BCom menslikehulpbronbestuur. Sy woon al haar hele lewe in Pretoria en het gemartikuleer aan die Hoërskool Garsfontein. Sy sing tans ook in die Tuks Camerata.
  • Meningstukke is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie oor die #ImStaying-beweging. Studente word gevra om meningstukke te skryf oor hoekom hulle in Suid-Afrika wil bly. Die wenner staan die kans om R5000 te wen.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Imstaying-Beweging  |  Imstayingdiestudent  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.