Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
#I'mStaying: Ponde weet nie wat 'n braaibroodjie is nie
Thornton Fincham. Foto: Martin de Kock
Thornton Fincham. Foto: Martin de Kock

Ek ken jou nie, tannie in Checkers, maar met jou laaste rande kan jy steeds ’n glimlag bekostig terwyl jy vir my ’n plastieksak aangee vir my goeters. Jou goue tand en goue hart maak my hart warm. Jy laat my bly.

Ek ken jou nie, seuntjie in die Spar, maar wanneer jy my met glinsterende oë vra om die Coco Pops vir jou van die rak af te haal, doen ek dit. Jou Spider-Man-hemp en held-hart maak my trots. Jy laat my bly.

Ek ken jou nie, rugbyma wat luidkeels langs die veld vir jou Springbokkie moed inpraat om die ander span se grootste ou te tackle. Jou Deep Heat-hande en jou omgee-hart laat myne vinniger klop. Jy laat my bly.

Daar is baie redes vir ’n 23-jarige man om sy sak te pak en ’n groener weiveld te gaan soek. Ek kan aan 1 000 redes dink om die taxi wat voor my indruk op Ou Johannesburg te groet, of die ou flieks op e.tv vir ponde of dollars te verruil.

Goed wat geld nie kan koop nie

Die ding is, ponde weet nie wat ’n braaibroodjie is nie. Dollars kan nie pap maak en pak gee soos Maria nie. Euro’s kan nie slaptjips in ’n halwe brood indruk en dit ’n midnight snack noem ná ’n aand se gekuier saam met pelle op die Strip, in Bohemia of op die Bult nie.

Die ding is, ponde weet nie wat ’n braaibroodjie is nie.

Die jen weet nie hoe ’n ATKV-oord se warmwater-swembad jou hande laat verrimpel ná ure se swem saam maats wat jy gister ontmoet het nie.

Visplakkies en ’n Liefde Wen-hemp kry jou in by ’n kroeg langs die strand en die alombekende “Aweh bruh” van die kroegman met die lang hare laat julle na boesemvriende klink. Dis die Kyles van Plettenbergbaai en die Thabo’s van Bryanston wat my laat bly. Dis ouma se 7de Laan-omnibus en ’n Blou Bul-grappie by enige braai in enige dorp in die land. Maar ernstig nou, daar is altyd tyd vir ’n Blou Bul-grappie.

LEES OOK: SA, jou lekker ding!

Nie net Checkers-tannies en Spider-Man-seuntjies of rugbyma’s maak dit die moeite werd om hier wortel te skiet nie. Dis die feit dat almal van hulle, wanneer dit saak maak, ’n chesa nyama kan geniet terwyl ons die Afrika-son sien ondergaan aan die einde van die dag.

Grondboontjiebotter-toebroodjies en koffie met kondensmelk. Dit is wat my laat bly. Oros en sonsteek by ’n swempartytjie in gr. 5. Dit is wat my laat bly. Coke met roomys bo-op en opmaak-verjaardae by die Spur. Dit is wat my laat bly.

Bly wie jy is

Jy sien, die regte helde in ons land is die mense wat ek nie eens ken nie. Dis die mense wat sonder om toestemming te vra, opstaan en elke dag hul eie maak. Hulle is hulle, en hulle maak ons. Die reënboog van onbekendes maak ons ’n eenheid en sonder elke kleur sou ek makliker by O.R. Thambo se deure kon inloop.

Nie almal ken die Checkers-tannies en die rugbyma’s in ons nege provinsies nie, maar dalk is jy een. Ons weet steeds nie wat die laaitie in die Spar met die Spider-Man-hemp se naam is nie, maar dalk het jy hom ook in ’n Joyland raakgeloop.

Ek ken jou nie, maar om hemelsnaam, bly net jy.

As dit gebeur, stop en sê vir hulle dankie, dankie dat hulle is wie hulle is. Sonder hulle en sonder ons sou die reënboog vaal en leeg gewees en niemand sou wou bly nie. Jy wat jouself is, beteken dalk veel meer as wat jy besef: jou kleur, kleur die ander in . . . en dit laat almal bly. Ek ken jou nie, maar om hemelsnaam, bly net jy.

  • Thornton Fincham (23) studeer onderwys aan die Universiteit van Pretoria. Hy kom oorspronklik van Krugersdorp af.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie oor die #ImStaying-beweging. Studente word gevra om meningstukke te skryf oor hoekom hulle in Suid-Afrika wil bly. Die wenner staan die kans om R5000 te wen.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Imstaying-Beweging  |  Imstayingdiestudent  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.