Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Is ek dalk volgende?
Elani Nell
Elani Nell

Vermis, verkrag, vermoor.

Hoeveel moet nog seergemaak word voordat iemand ons stem hoor? Ek en duisende ander studente het Dinsdag swart aangehad. Swart, want ons rou. Dis mos hoe jou studentelewe moet wees?

Oral waar ek gaan, sê almal dat ek veilig moet wees, na myself moet kyk en nie vir ’n oomblik in ’n vreemdeling se rigting moet kyk nie. Jy moet mense te alle tyd laat weet waar jy is en seker maak dat jy nie in ongewenste situasies beland nie.

Wanneer het dit so erg geword? En hoekom is ons tevrede daarmee? Wanneer gaan iemand iets daaraan doen – en wat as ek die volgende slagoffer is?

My hart breek soos ek die stories lees van jong vroue wat verkrag en vermoor word, in stukkies opgekap word. Dit klink vir my soos ’n nagmerrie en ek wil nie glo dat dit regtig in ons daaglikse lewe gebeur nie.

Ek is so moeg daarvoor om op Facebook te sien hoeveel mense vermis is, hoeveel verkrag word en hoeveel vermoor word.

Hoe kan ’n mens keer dat jy nie die volgende slagoffer is nie? Ek is bevrees jy kan nie, want die siek mense daar buite raak net al hoe slimmer en skelmer.

Hoekom word daar niks aan hulle gedoen nie, hoekom word dit aanvaar en misgekyk?

Ek is so moeg daarvoor om op Facebook te sien hoeveel mense vermis is, hoeveel verkrag word en hoeveel vermoor word. My hart breek.

Die alewige vrees

Dan kry ’n mens natuurlik die mense wat sê: “As sy maar net nie so ’n kort rokkie gedra het nie. Sy het gevra daarvoor.”

Askies?

Van wanneer af vra jou tipe kleredrag vir iets? Weer eens mis ons die punt dat iemand siek agter alles sit, dat iemand siek nie sy gedagtes kon beheer nie en dat iemand siek net sy kans afgewag het. Siek.

Ek is bang om pizza te gaan koop skuins oorkant my huis, want netnou sien iemand my en dink ek is ’n maklike target.

Ek is bang om alleen kampus toe te loop, al bly ek net 700 m van die hek af. Ek is bang om alleen Menlyn toe te gaan of selfs net Pick n Pay toe wat nie eens 1 km van my huis af is nie. Ek is bang om pizza te gaan koop skuins oorkant my huis, want netnou sien iemand my en dink ek is ’n maklike target.

Want dit is wat ons as jong vroue geword het, ’n target. Baie van my vriendinne deel in my vrese en hul vrese strek nog verder. Hulle is bang om te gaan draf op LC de Villiers, hulle is bang om op Lynnwood te parkeer en hoofhek toe te stap. Hulle is bang om Gautrein-stasie toe te stap van die kampus af en hulle is net in die algemeen bang.

’n Kwessie van tyd

Dit help nie om jou foon en beursie by die huis te los nie, want dit is ongelukkig nie wat hulle soek nie. Hulle soek jou. Hulle is soos vampiere in die nag en hulle soek jou bloed. Dit is net ’n kwessie van tyd totdat dit jou beurt is.

Maandagaand 2 September stroom die boodskappe in op ’n bekende Instagram-blad se story. Meisies begin vertel oor hoe hulle in bekende plekke aangerand is, maar te bang was om iets te sê. Nog boodskappe stroom in en nog meisies vertel oor hoe en waar vreeslike dinge met hulle gebeur het, en hoe hulle weerloos gelaat was.

LEES OOK: Vrouemaand: Hoekom is ons bang om ons stemme te laat hoor?

Die boodskap wat my die meeste ontstel het, was oor ’n meisie wat by die strip (’n klomp kuierplekke in Lynnwood) gekuier het en vertel het hoe ’n ou met haar begin flirt het. Sy het dit nie as vreemd gesien nie en hom net geïgnoreer en verder saam met haar vriende gekuier. Hy het haar later gevolg tot in die badkamer en haar vasgedruk en met ’n mes aangehou totdat sy vriend ook by die deur ingekom het. Toe het hulle haar verkrag en gewaai . . .

Laat dit insink. Laat dit jou tref.

Waar lewe ons en wat gaan aan met ons mense? Ons dra swart en rou oor dié wat nie meer met ons is nie en oor dié wat seergemaak is en permanente emosionele skade opgedoen het.

My hart klop in my keel. Wanneer is dit ek?

Maar ons kan net swart dra en ’n paar keer probeer skree dat iemand ons moet hoor, dat iemand ons nood moet raaksien. Ek twyfel of dit gaan werk.

My hart klop in my keel. Wanneer is dit ek?

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.