Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Is ek ’n Matie?

In ’n video wat die Universiteit Stellenbosch (US) se studenteraad onlangs uitgereik het, vra hulle verskeie studente en personeellede ’n skynbaar algemene vraag: Is jy ’n Matie?

Nadat ek die video gekyk het, moes ek ’n oomblik nadink. Indien enige Jan Rap en sy maat my hierdie vraag sou vra, veral as hulle van een van die ander groot universiteite in die land is, sou ek met trots my maroen bors uitsteek en hardop “ja” antwoord.

Teen my vierde jaar aan dié Bolandse mekka van hoër onderrig ken ek die woorde van “Dis altyd lente” wat Maandagaande by Varsitybeker-rugbywedstryde gespeel het; ek het al ’n soen in die Laan gesteel en my graad op die groen grasvelde van Coetzenburg gevier.

Universiteit Stellenbosch vier vanjaar die instansie se 100ste bestaansjaar. Foto: Universiteit Stellenbosch

Sedert ek my nagraadse studie in joernalistiek aan die US begin het, het hierdie standaarde waaraan ek myself vir die afgelope drie jaar gemeet het, egter toenemend soos ’n splinter aan my begin krap. Is hierdie tradisionele lysie van arbitrêre aktiwiteite en besienswaardighede dan waaraan ek en ander onsself as “Maties” moet meet? Hang jou vlak van betrokkenheid by hierdie instelling af van die getal inskrywings wat jy op jou “bucket list” kon afmerk as afgehandel? Is dit dan die waardes waarmee jy hier wegstap nadat jy jou koker in die sak gesteek het?

Hoewel hierdie lys vir uitstekende herinneringe en skreeusnaakse foto’s gesorg het, is die waardevolste ding waarmee ek hier sal weggaan, die ontnugtering wat ander studente en die omliggende gemarginaliseerde gemeenskappe vir my gebied het.

In my ervaring kan jou uitkyk op die lewe gevaarlik ingeperk wees wanneer jy in ’n klein, plattelandse gemeenskap grootgeword het. Hoewel dit jou moontlik met ’n verhoogde vlak van menslikheid kan laat, kan dit jou met oogklappe die wêreld instuur.

Matie-wees is nie meer homogeen nie

Sedert my eerste jaar aan die US moes ek herevalueer wat ek van myself en my samelewing dink. Op Stellenbosch het ek geleer om die perspektiewe van ander waarmee ek selde voorheen in aanraking gekom het in te sien. Dit was iets merkwaardig om te beleef. Meer merkwaardig as die getal maroen Varsity Cup-frokkies in my kas of die huisdanswynglase op my rak.

Op Stellenbosch het ek geleer om die perspektiewe van ander waarmee ek selde voorheen in aanraking gekom het in te sien.

Hier kon ek leer wat “Matie” vir nie net ander Suid-Afrikaanse studente beteken nie, maar selfs vir dié wat hul studie internasionaal voortsit. Ek kon uiteindelik insien dat om ’n Matie te wees, ’n idee was wat deur dekades se onregverdige en onregmatige optrede gekenmerk is.

Arleen Stone.

Tog twyfel ek of Matie-wees vandag steeds so homogeen is soos dit tot ongeveer 20 jaar gelede was. Ná bewegings soos #FeesMustFall en organisasies soos Open Stellenbosch se aanspraak op die dekolonisering van die US, skyn daar wel vordering te wees in die kriteria van wat dit beteken om ’n Matie te wees.

Prof. Wim de Villiers, die US-rektor, se belofte om tien van die universiteit se leerplanne te dekoloniseer, maak my optimisties oor ’n herdefiniëring van Matie-skap. Hoewel daar geen waarborg is dat hierdie poging sal slaag nie, dui dit tog hopelik op vernuwende denke en ’n belowende pad vorentoe.

Op die ou end bly een feit staan en ek hoop dat dit vir toekomstige studente ook iets sal wees om oor huis toe te skryf: Dis lekker om ’n Matie te is!

  • Arleen Stone (21) studeer joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en kom oorspronklik van Springbok in die Noord-Kaap.
Meer oor:  Universiteit Stellenbosch  |  Stellenbosch  |  Studente  |  Menings  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.