Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Is ek te groot vir my klein skoene?
Pierré Müller
Pierré Müller

In ons wêreld vandag waarin die moontlikhede oneindig is, is dit vir ons jonger generasies besonder moeilik om onsself te vind en daardeur ons stem te vind.

Aan die een kant verwag die wêreld nie veel van die Millenniërs nie. Tog, aan die ander kant is daar diegene wat wel iets van ons verwag en is ons die onbegonne taak opgelê om te onderskei tussen wanneer ons op dun ys beweeg of klaar oor hete kole trippel.

The world is our oyster: Ons word ons aangemoedig om jonk te wees en die beste van ons lewe te maak, maar daarenteen ook te alle tye van ons ouderdom bewus te wees en ons, sonder uitsondering, daarvolgens te gedra.

Telkemale moet ons hoor hoe ons te groot vir ons skoene is. Ons onervare opinies en weerlegbare opvattings is omstrede, problematies en te modern.

Die dubbele standaarde is net te veel. Ek is egter bevrees dat ons voete vandag groter is as wat mense s’n vroeër op dieselfde ouderdom was.

Verwysingsraamwerk

Die omgewing waarin ons grootword, speel ongetwyfeld ’n groot rol in ons ontwikkeling. Dit het in die verlede en dit geld vandag nog.

Die grootste en beduidendste verskil tussen destyds en vandag is tegnologie (meer spesifiek, die toegang tot inligting).

Ons weet meer en vergroot ons verwysingsraamwerk eksponensieel. Dit kan ons veel meer doen as wat ons ouers kon (al sou hulle ook wou).

Die ideaal was dat kinders gesien en nie gehoor word moes nie.

Dit wil vir my voorkom, en ek mag verkeerd wees, of jong mense in die verlede ’n baie onderdaniger en versigtiger houding gehad het wat hul menings betref.

Vroeër was inligting nie so maklik beskikbaar nie. Sosiale media en bronne verseker dat ons ingelig bly. Ons kan nie anders as om opinies te vorm oor dinge wat ons raak nie. Ons is ook nie bang om dit, selfs in “meer volwasse” geselskap, uit te spreek nie.

Ons voete is vandag so groot omdat ons groter skoene moet volstaan.

Ons, anders as mense van vroeër, moet vir onsself dink, want niemand anders kan dit vir ons doen nie. En dit gesê, wil ek nie op tone trap nie.

Dit wil vir my voorkom, en ek mag verkeerd wees, of jong mense in die verlede ’n baie onderdaniger en versigtiger houding gehad het wat hul menings betref.

LEES OOK: Millenniërs: 'Ons is ’n generasie wat vryheid bo alles stel'

Niks is te gewaagd of radikaal is geopenbaar nie. Vandag moet ons egter self besluit wat maak sin en wat nie.

Waarmee ons saam stem en waarmee ons liewer nie geassosieer wil word nie en, om misverstande te voorkom, dit duidelik te maak.

‘Nat agter die ore’

Maar ons generasie wat nie op ons mond geval is nie en wat na party se mening slegs “tande tel”, word nie altyd goed ontvang nie.

Die een ding waarmee die ouer generasie graag jong mense mee afjak... hulle lewenservaring. Dit is al manier hoe hulle wat wil ignoreer of “stilmaak” hulself kan regverdig.

“Die boeta is nog nat agter die ore”, “sy sal nog agterkom waaroor die lewe eintlik gaan”, “hulle sal nog hul koppe stamp” en partykeer erger, is algemene uitsprake wat ons moet aanhoor.

Die een ding waarmee die ouer generasie graag jong mense mee afjak... hulle lewenservaring. Dit is al manier hoe hulle wat wil ignoreer of “stilmaak” hulself kan regverdig.

Idees en menings word ondermyn en afgemaak, en ons word as arrogant bestempel.

Die huiwering om te luister is ook duidelik sigbaar by die alwetende Salomo’s wat hulself die reg toeëien om onnodig kommentaar te lewer.

Ja, dit is onbetwis dat ons nog baie moet leer. Wie, in hierdie vinnige veranderende wêreld, kan dan sê hy of sy nie het nie? Maar dit maak dit wat ons al tot in hierdie stadium van ons lewens geleer het, nie minder nie.

Meer en meer jong mense vind dit interessant en geniet stimulerende gesprekke met betrekking tot die politiek, sosiale kwessies en partykeer, ’n bietjie filosofie.

LEES OOK: 'n Ope brief aan ouer geslag

Daar word van ons vereis om aktiewe burgers te wees, om ons plek in die samelewing in te neem.

Hoe kan ons dit doen as ons nie toegang kry tot die ruimtes wat dit vir ons wesenlik sal maak nie?

‘Stom studente’

Mense moet besef dat die jong generasie nuuskierig en leergierig is. Ons ervaar al hoe meer die behoefte om uitdrukking aan onsself te gee. Ons het die begeerte om iets te besit en te beheer wat eie aan ons is.

Iets wat altyd by ons sal bly. Ons stem, in watter vorm ook al: fotografie, gedigte, ’n status update of ’n meningstuk vir Die Student.

Diegene met oënskynlike ervaring moet versigtig wees om nie ’n groeiende ontwikkelende stem stil te maak nie. Dit is belangrik om te erken dat ervaring relatief is en dat dit nie gewoonlik met plooie gepaardgaan nie.

Diegene met oënskynlike ervaring moet versigtig wees om nie ’n groeiende ontwikkelende stem stil te maak nie. Dit is belangrik om te erken dat ervaring relatief is en dat dit nie gewoonlik met plooie gepaardgaan nie.

As julle wil hê dat ons van julle en jul ervarings moet leer, dink dan asseblief aan ’n beter benadering as blote ontslag. Deur slegs stories uit te ruil is ek seker verskillende generasies kan baie van mekaar leer en dit begin deur nie net te hoor nie, maar te luister met die doel om te verstaan van waar elkeen kom.

Ek verheug my oor die hartseer feit dat Media24 dit as noodsaaklik gesien het om ’n platform aan “stom studente” wat iets op die hart het, maar nie noodwendig behoorlik in ons onderskeie omgewings gehoor of verstaan word nie, te moes voorsien.

In ’n beter wêreld sou dit nie nodig wees nie. Maar die Salomo’s het aan ’n monster geboorte gegee.

Kyk hoe groot is ons platform nou... nasionaal! Plus, nou kry ek ook die geleentheid om ’n bietjie my skryfwerk te skaaf. Dankie Die Student.

LEES OOK: Daar is sóveel geleenthede op universiteit

Maar miskien is dit ons wat te veel van die wêreld verwag of die feit dat ons hoegenaamd iets verwag.

’n Beroep op my generasie: Een ding is seker, ons gaan nie wag dat die wêreld by ons opvang nie, maar dit kan nie skade doen om onsself en ons woorde ’n bietjie meer subtiel en kreatief aan die massas, die vorige en komende generasies, voor te stel nie. Ken en kies jou gehoor!

Besluit watter gevegte jy gaan veg, dan eers wen jy die oorlog.

  • Pierré Müller (21) is tans 'n derde jaar LLB-student aan die Universiteit Stellenbosch. Hy kom van Sutherland in die Noord-Kaap.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir Die Student se rubriek-kompetisie, waar studente aan lesers moet verduidelik wat hulle nie van die jonger generasie verstaan nie.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir Die Student se rubriek-kompetisie, waar studente aan lesers moet verduidelik wat hulle nie van die jonger generasie verstaan nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Diestudentgenerasies  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.