Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Is jy ook sensitief vir sekere geluide? Dís hoekom!
Mizanne Hattingh
Mizanne Hattingh

“Misophonia” – ’n term wat ek ’n ruk gelede op sosiale media raakgelees het. Dit beteken ’n sensitiwiteit vir sekere geluide.

Die term beteken dalk niks vir jou nie, maar vir my het dit baie waarde. Uiteindelik is daar ’n woord vir dit wat ek al jare lank beleef.

Dit het begin toe ek so sewe of agt jaar oud was. Elke oggend met ontbyt het die geluide om die tafel my byna teen die mure uitgedryf. Ek het die kas onder die kombuistafel begin skop net om my aandag op ’n ander geluid te fokus. My ouers kon nie verstaan hoekom ek so snaaks optree nie. Ek nog minder.

Dit het erger en erger geword met die jare, en aangesien daar nooit werklik begrip vir die situasie was nie, is ek dikwels as ongeskik bestempel as ek nie ’n ete by die tafel kon deurmaak nie. Ek het later besef dat ek nie alleen is nie, dat daar talle ander is met hierdie knaende probleem wanneer hulle sekere geluide hoor.

Elke oggend met ontbyt het die geluide om die tafel my byna teen die mure uitgedryf.


Die sensitiwiteit is nie net ’n irritasie nie, en dis definitief nie net iets wat jy kan aan- en afskakel nie. Jy kan wel leer hoe om dit beter te hanteer.

Dit steek kop uit wanneer ek mense hoor kou – en dit beteken nie noodwendig mense om my kou oopmond nie, ek hoor die spoeg in hulle monde.

Dit kom uit wanneer ek iemand hoor snuif, selfs as iemand te hard asemhaal. Ek weet vir baie mense gaan dit absurd klink – hoe kan daardie tipe geluide jou dan pla? Maar vir sommige gaan dit meer sin maak as die meeste van die goed wat hulle lees.

Aanvaarding vir my sensitiwiteit

Ons gesin moes dit aanvaar en daar rondom werk. Daar is jare lank vir my gepreek oor die “swart hond” wat ek voer, oor die obsessiewe wat ek bly “kosgee”.

Daar is sekere lesers wat hierdie gedagtes ook gaan hê. Daarop is my antwoord: Daar is nie ’n hond nie, dis nie ’n gekose obsessie nie – en as ek dit kon beheer of wegwens het ek. Ek het gaan lees oor die onderwerp om meer uit te vind oor hoekom dit vir baie ’n probleem is. Baie mense wat hieraan ly (en ja, jy ly daaraan), het ’n veg-of-vlug-reaksie op die geluide. Ek het agtergekom dat ek ’n ou vlugtertjie is.

Ek het wel geleer wat dit vir my beter maak, en my gesin het geleer om sekere maatreëls (as dit is wat dit is) te aanvaar en toe te pas. As daar ’n bietjie agtergrondmusiek gespeel moet word tydens ete, word dit aanvaar. As ek die dag werklik sukkel om by die tafel te bly, kan ek maar eenkant gaan sit. Natuurlik, as ons kuiergaste het, of as ons kuiergaste is, probeer ek my bes om dit in my sak te steek. Ek bly by die tafel en probeer op ander dinge fokus. Tog gaan dit nooit werklik weg nie.

Ek het tydens my matriek- rekord- en eindeksamen die “snuifers” in die saal geïdentifiseer en tissues op elkeen se tafel gesit voordat hulle in die saal ingekom het.

Ek het tydens my matriek- rekord- en eindeksamen die “snuifers” in die saal geïdentifiseer en tissues op elkeen se tafel gesit voordat hulle in die saal ingekom het. Hulle het nie geweet wie dit daar vir hulle gelos het nie, maar die meeste van hulle het die boodskap gekry. Hoewel ek moet bysê – ek dink dat ’n gesnuif tydens ’n eksamen baie meer mense pla as wat mens sou dink.

Ek herhaal wat ek vroeër gesê het; dit raak jou dalk nie in die minste nie. Maar as dit wel die geval is, veral as jy ’n gesinslid het wat sukkel om kop bo water by die etenstafel te hou – cut them some slack, soos die Engelsman sal sê. Hulle probeer waarskynlik vreeslik hard om jou nie te affronteer nie, en hulle het waarskynlik self nie eens ’n behoorlike begrip van dit wat hulle pla nie. Help hulle, moenie hulle haat nie.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

WIL JY R5000 WEN?

Skryf in vir Die Student se rubriek-kompetisie! Kyk die video vir al die details.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.