Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Is ons besig om onsself dood te werk?

Ons het almal al besef wanneer ons te veel hooi op ons vurk het, die enigste probleem is dat ons deesdae net vir nog ’n vurk vra. Glo my, ek weet hoe dit voel. My reeks aktiwiteite van orkes, fluitlesse, klavierlesse, atletiek, tennis, netbal, drama, eisteddfods, koor, redenaars, debat, gevorderde wiskunde, kunsklasse, Franse klasse en skoolkoerantredaksie kan duidelik hiervan getuig.

Uitbranding is die toestand van emosionele en fisieke uitputting, ’n stresreaksie, omdat jy nie die uitdagings van jou beroep of lewensomstandighede kan hanteer nie. Dit sluit slapeloosheid, swak beroepsprestasie, lae immuniteit en dwelmmisbruik in. Met ander woorde: Jy is kapot. Kapot. Dis ’n gevoel wat ons al teen Woensdagmiddag kry.

Oordadig en ongegrond

Die afgelope paar jaar het mense se werklading drasties toegeneem. Die eise wat aan ons gestel word, is oordadig en ongegrond. Op papier is ’n werkdag steeds van agt tot vyf, maar in werklikheid moet mense aande omsloof om net nog daardie bietjie beter te doen, ’n bietjie groter salaris te kry en met ’n bietjie meer trots vir mense te kan vertel hoe bedrywig hulle is. Dis tog die 21ste eeuse mentaliteit. As Sannie dit kan regkry, kan ek mos ook. Al kos dit jou jou siel. Ten minste kan jy dan spog.

Jy is kapot. Kapot. Dis ’n gevoel wat ons al teen Woensdagmiddag kry.

Die samelewing is besig om homself dood te werk. Die feministiese beweging is goed en wel, maar nou kry jy vroue wat oefen in die oggend, baas speel by die werk, ’n gesonde aandete moet voorberei en tussendeur nog die rol van ma moet vervul. Hoekom? Want dis wat van ons verwag word. Nie net as vroue nie. As kinders, tieners, studente en ouers. Ek dink die enigste groepe wat dié kompetisie vryspring, is babas en bejaardes en selfs hulle kry die wind van voor, want wie se baba is die oulikste en watter bejaarde het die beste oud geword?

Soos wat almal se CV’s en “to do”-lysies toeneem, neem hul mediese koste ook toe. Deesdae hoef jy nie meer aptekerswese te studeer om byna elke pil op die mark te ken nie. Daar is een vir elke kwaal – van bloeddruk tot cholesterol tot insulienweerstandigheid en slapeloosheid. En natuurlik een vir elke newe-effek van die ander pille wat jy elke dag moet sluk.

Geld koop nie geluk nie

Jy sien, daar is een ding wat ons vergeet: Geld kan nie gesondheid koop nie en nog minder geluk. Jy kan soveel groente eet en multi vitamiene drink as wat jou hart begeer, maar dit gaan niks aan jou kroniese stres of daardie vetlagie om jou middel doen nie. Jou lyf is ’n see van kortisol en totdat jou werklading gaan afneem, gaan daardie onooglike vetlagie bly toeneem. Dis basiese ekonomie – die vraag, met ander woorde wat van jou verwag word, en die prys wat jy bereid is om daarvoor te betaal.

Ons wêreld het ontaard in ’n “all-you-can-work”-buffet en ons laai net nog op.

Ons wêreld het ontaard in ’n “all-you-can-work”-buffet en ons laai net nog op. My bord was oorvol, maar my battery was so pap soos my Toyota s’n ná die vakansie – nie eens ’n “jumpstart” kon my aan die gang kry nie. Tesame met my koffie verslawing van 10+ koppies ’n dag, byna kroniese slapeloosheid en perfeksionistiese persoonlikheid, was ek soos elke chemie-eksperiment wat ons in die wetenskapklas gedoen het – ’n tydbom wat wag om te ontplof. En ek het amper. Iets moes verander. En gou.

Onthou: Jy mag rus!

Stadig maar seker het ek my twee goue reëls begin toepas: Jy mag nee sê en jy mag rus.

Daardie verhoging gaan jou niks in die sak bring as jy al teen 50 lepel in die dak steek nie. Dis beter om hare op jou tande te hê omdat jy die tyd het om jou kinders self groot te maak as om geen hare op jou kop oor te hê omdat jy aan te veel stres ly nie.

Dis gelukkig nie alle lande wat die pot missit nie. Hygge, uitgespreek hoe-gha, is ’n Deense leefstylgier wat opslae maak. Die basis van hygge is om gemaklik en gelukkig met jou lewe te wees. Om te hygge is om etes saam met familie aan tafel te geniet, om te ontspan met ’n boek en kerse aan te steek, maar bo alles om stilte en stilwees te kan waardeer mét ’n stukkie koek en ’n koppie boeretroos byderhand.

Corine Raath

Ek dink die meeste Suid-Afrikaners raak paniekbevange as hulle in stilte moet sit omdat ons al so aangepas het by ons gejaagde lewens. Balans. Dis hul sleutel tot sukses. Die Grieke het dit byna drie eeue gelede reeds geweet en tog kan ons dit nie begryp nie.

Finland het al geëksperimenteer met ses uur lange werkdae. En wat was die gevolg? Minder stres en meer geluk. Nieu-Seeland het onlangs ’n eenderse studie geloods waar werkers slegs ’n vierdag-werkweek gehad het en soos hulle verwag het, het die werkers net soveel werk as in ’n gewone werkweek gelewer. Ek dink beter produktiwiteit is iets waarby ons land baie kan baat vind. En om elke week ’n langnaweek te hê, is ook nie te versmaai nie.

My punt is: Ek wil gelukkig wees. Ek wil hou van wat ek doen en tyd hê om te ontspan. Ek wil skryf. Lééf. Dis tyd dat Suid-Afrika ook dié kopskuif maak, anders gaan ons almal nog onsself tot in die graf werk.

  • Corine Raath (19) studeer BA Wiskunde en Geesteswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit. Sy kom oorspronklik van Bellville in die Kaap.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.