Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Is sosiale media die 5de wiel aan die liefdeswa?
Karen truter
Karen truter

In my geestesoog sien ek dié prentjie duidelik voor my afspeel. ’n Pragtige lowergroen agtergrond, ’n tafel gedek vir twee met die mooiste breekware, kristalglase en goudgeel blomme.

Dit was veronderstel om net hý en sý te wees, maar die moderne samelewing het een ongenooide gas saamgesleep.

Kom ons noem hom (of haar) sommer op die naam. Hallo, Sosiale Media.

Terug by ons moderne sprokiesverhaal

Met die intrapslag word ’n Facebook-post geskep om gou te check-in. Daarna word die agtergrond afgeneem en hutswoorde soos #datenight, #liefde en #verhouding word op Instagram uitgeblaker.

Moenie dink dit is die einde nie. Sodra die voorgereg op die tafel neergesit word, is die kamera weer gereed vir ’n story update. Byt net vas, jy behoort foto’s van die hoofgereg en nagereg ook iewers te sien.

Dit was veronderstel om net hý en sý te wees, maar die moderne samelewing het een ongenooide gas saamgesleep.

Plaas sommer dieselfde foto op WhatsApp, sodat die ouer garde ook op die hoogte kan bly met dit wat aangaan. Intussen word daar elke keer net vinnig gekyk van wie die nuutste e-mail notification afkomstig is.

My punt? Niemand hou van ’n vyfde wiel nie, maar tog sleep ons elkeen uit vrye wil dié wiel saam.

Verslaaf aan ‘likes’ en ‘comments’

In 2020 oorheers sosiale media ons verhoudings en bederf ons liefde vir mekaar. Die invloed van die media op ons liefdeslewe kring uit in ’n groot, bose kringloop wat heers in ons huidige samelewing.

Ons bring baie tyd op ’n verskeidenheid platforms deur sodat mense wat nie op die oomblik naby ons is nie, kan sien waarmee ons onsself besig hou. Dít terwyl die geliefdes wat naby ons is klaarblyklik afgeskeep word.

In 2020 oorheers sosiale media ons verhoudings en bederf ons liefde vir mekaar.

Dit maak logies nie sin nie.

Verder word ons #datenight se sukses gegrond op die getal kommentaar wat ons op sosiale media daaroor ontvang. Selfs al was daardie perfekte scenario wat ek aan die begin geskets het, toe nou nie ’n groot sukses nie, lyk die foto’s op Instagram en Facebook alte aanloklik en belowend.

Ons is verslaaf aan hierdie “likes” en “comments” wat ons op hierdie soort platforms ontvang. Elke liewe tree wat ons in die “regte lewe” gee, moet op ’n media-aanvaarbare manier op die een of ander onsigbare platform weerspieël word.

Negatiewe effek op verhoudings 

Of ons daarvan hou of nie, sosiale media het ’n baie groot invloed op ons verhouding met ons geliefdes. Hoewel ons dit in sekere gevalle tot ons voordeel kan gebruik, kan dit net soveel skade aanrig as ons nie versigtig is daarmee nie.

Dit is erg genoeg dat dit al hoe algemener raak om vir jouself ’n lewensmaat op mediaplatforms te soek, maar om bestaande liefde af te skeep om jouself op sosiale media te bewys, is doodeenvoudig net simpel.

Hedendaagse liefde word al hoe moeiliker om te onderhou aangesien dit meer as net twee partye insluit.

Hedendaagse liefde word al hoe moeiliker om te onderhou aangesien dit meer as net twee partye insluit.

In plaas daarvan om net die oomblik saam met een spesifieke persoon te geniet, swig ons onder groepsdruk om vir die res van die wêreld te bewys dat ons werklik besig is om onsself te geniet. Intussen ly ons verhoudings en liefde daaronder.

As dit die nuwe maatstaf vir “normaal” is, sal dit langer neem vir ons om intieme verhoudings te bou en dan gaan dit ook moeiliker wees om die verhoudings aan die gang te hou.

LEES OOK: Die liefde is ’n keuse

Dit is nie baie lekker om dit te erken nie, maar die bogenoemde scenario, wat klink soos ’n oordrywing van die werklikheid, is vir baie mense ’n werklikheid!

Die liefde in 2020 lyk nie meer soos die liefde wat ons geken het voordat sosiale media ons lewe oorgeneem het nie. Alles wat in ons lewe aangaan, moet op die een of ander manier op ’n sosialemediaplatform uitgeblaker word, ten koste van die tweede party se gevoelens of tyd.

Ek stel dus voor, as jy wil hê ware liefde moet seëvier, los volgende keer die vyfde wiel by die huis.

Ek stel dus voor, as jy wil hê ware liefde moet seëvier, los volgende keer die vyfde wiel by die huis.

Die soeke na aanvaarding op sosiale media en goedkeuring in die oë van jou followers en friends gaan geensins bydra tot die opbou van ’n ware liefdesverhouding soos wat ons in vorige generasies gesien het nie.

Niemand wil die heeltyd in ’n vyfde wiel vaskyk nie en nog minder ’n vyfde wiel probeer tevrede stel.

  • Karen Truter is ’n nagraadse student in landbou (MSc Agric Agronomie) aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom oorspronklik van Potchefstroom.
  • Hierdie meningstuk is deel van ’n kompetisie op Die Student waar studente gevra word: Lyk die liefde anders in 2020? Klik hier om die ander meningstukke te lees.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Liefdediestudent  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.