Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Jou ‘nee’ kan jou ook bevry
Lauren Schultz.

Daar is iets wat my deesdae nogal pla. Ek weet nie heeltemal waarom nie, maar dit pla tog.

Ek kan eenvoudig nie verstaan waarom ek in vandag se tye my eie “nee” moet regverdig nie.

Dit het so ’n jaar of twee gelede begin. Ek en my sussie het iets gaan drink in ons klein dorpie. Ek het haar lanklaas gesien en wou net ’n bietjie tyd saam met haar deurbring.

Omdat ek in Pretoria was en sy in Ermelo, het ek haar dalk een keer ’n maand of so gesien. Dit was vir my baie moeilik. So wanneer ek haar gesien het, was dit vir my ongelooflik kosbaar.

Ons het eenkant gesit en net lekker met mekaar gesels, toe ’n ou na ons stap en my en my sussie vra om te dans.

My sussie het gesê nee, sy voel nie lekker nie.

Ek het bloot nee dankie gesê. Niks anders nie.

Hy was toe geskok en het my gevra waarom ek nie wil dans nie. Ek sê toe vir hom: “Ek is nie lus nie, ek en my sussie kuier ’n bietjie, maar baie dankie”.

Miskien het hy net aanvaar ons sal ja sê, maar hy was geskok en ongelukkig. En toe loop hy weg.

Mense hou nie op nie

Ek het al gesien as ’n mens “nee” sê, hou mense net aan om jou te probeer oortuig.

Veral mans. Hulle hou nie op nie. En dan kom ’n punt waar hulle ongeskik en lelik raak. En vieslik met jou praat.

Ek was al baie ongelukkig daaroor, want ek is al byna met Hitler vergelyk, omdat ek ongemaklik voel en nie op daardie tydstip lus is om te dans nie.

Ek kan eenvoudig nie verstaan waarom ek in vandag se tye my eie “nee” moet regverdig nie.

As ek “nee” sê, beteken dit nie dat jy my moet probeer oortuig nie. My nee is my nee. En dit tel op elke liewe gebied van die lewe.

En dit gaan nie oor respek nie.

Ek het baie respek vir mense, veral ouer mense, maar respek werk na albei kante toe. As iemand my, ondanks my ouderdom, nie respekteer nie, sal ek nie uit my pad gaan om perfek te wees op dié gebied nie.

Ek bly dan eerder net stil of hou my afstand. Ek kry dit nog nie altyd reg nie, maar ek werk daaraan. Ons leef nie meer in die 1920’s nie en ek is gelukkig dat ek in ’n skool was waar ek dit geleer het.

So ’n klein toetsie

Ek dog toe ek wil dit met op my ma toets om te sien hoe sy reageer. Sy vra my iets en ek sê toe net: “Nee”.

Om te sê dit het nie goed afgeloop nie, sou wees om dit liggies te stel. Moenie dus nie jou nee op jou ouers toets nie. Ek herhaal. Vir jou eie veiligheid, moet dit nie doen nie.

Sy het darem ná die tyd gelag, maar ek gaan nie weer so dapper wees nie. Want toe sy antwoord: “Excuse me?”, toe weet ek ek’s in die moeilikheid. (Net om dit op te klaar: My ma is Engels).

Hoekom verskonings uitdink?

Sommige dae is ’n mens net nie lus om uit die huis te gaan nie. Dit gebeur met ons almal. Hoekom is “nee” dan nie ’n genoegsame antwoord nie?

Ons voel ons moet aan die merkwaardigste verskonings dink én boonop seker maak daar is ’n agtergrondstorie net om te sorg dat dit geloofwaardig is.

LAUREN SKRYF OOK: 'Skool is 'n klug'

As ek jou vra om iets te doen, hoef jy nie my te sê jou tannie in Brits se sussie, wat in Australië woon, se kind kom vir jou kuier nie. Jy hoef ook nie te vra of ek die vliegkaartjie wil sien nie. As jy net vir my sê: “Nee, dankie, ek was nie van plan om uit die huis te gaan vandag nie”, is dit goed genoeg vir my. Ek gaan dit nie persoonlik opneem nie, want ek weet en ek verstaan self dat die lewe ’n mens partykeer onderkry.

Nee moet genoeg wees

Dan is daar ook die ernstige saak waar “nee” nie genoeg is nie.

Ek wil nie hierdie onderwerp aanraak nie, want ek het sterk menings hieroor en dan kan dit passievol en hittig word.

Kom ons versag dit: Daar is gevalle waar iemand hulself aan iemand anders opdwing en waar die “nee” nie sterk genoeg is nie.

NOG VAN LAUREN: 'Feminisme werk nie soos koek nie'

Ek gaan nie eens geslag of ras noem nie, want dit gebeur regtig elke dag met enigiemand. Dit is die een plek waar “nee” net nie genoeg is nie en dit breek my siel.

Dit is eintlik die belangrikste plek waar “nee” genoeg moet wees en aanvaar moet word. As een mens ’n ander so kan slegsê net omdat sy nie met hom wil dans nie, dink net . . .

Maar dit is iets vir ’n ander dag.

Krag in die woord nee

My punt is, as die lewe jou swaar hanteer of dinge gaan net nie hoe jy beplan nie, behoort “nee” genoeg te wees.

Stel dit ’n bietjie op die proef. Daar is soveel krag in die woord “nee”.

Dit bemagtig jou en verlos jou van die dinge in jou lewe wat jou gedaan maak.

  • Lauren Schultz is tans besig met haar nagraadse onderwyssertifikaat aan die Universiteit van Pretoria. Sy het reeds 'n BA Tale aan dieselfde universiteit verwerf. Sy kom oorspronklik van Ermelo, Mpumalanga af.

Is jy 'n student en wil jy R5000 wen? Klik hier.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.