Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Jou onnie is nie jou tjommie nie
Schalk Bezuidenhout.
Schalk Bezuidenhout.

My pa is ’n onderwyser en adjunkhoof. Ek was selfs in sy geskiedenisklas vir twee jaar. Ek onthou hoe ek altyd daar gesit het en gedink het dié job lyk nie te bad nie.

Die materiaal wat ons behandel, is interessant (ek bedoel, wie wil nou nie van bomme en ontploffings leer nie?) en die kinders in my klas was oulik. What’s not to like?

Dit is nog nie eens ’n dekade terug nie. My tienjaar-reünie is eers volgende jaar. Tog kyk ek nou na die kinders van vandag en dink in ons tyd was dit anders.

Ek wil ook net dit vir die rekord stel, edelagbare, dat ek nooit gedink het ek sal op die ouderdom van 27 ooit die woorde “die kinders van vandag” en ”in ons tyd was dit anders” uiter nie.

My pa verduidelik nou die dag vir my dat onderwysers deesdae min tot geen mag in die klaskamer het nie. Lyfstraf is onwettig en sonder om nou die Derde Wêreldoorlog in die kommentaarafdeling onderaan hierdie artikel te veroorsaak, wil ek sê dat ek nie noodwendig teen lyfstraf gekant is nie.

Lyfstraf kom wel met baie verantwoordelikheid en ek dink ’n deel van die rede hoekom dit nou onwettig is, is omdat baie onderwysers nie Spiderman gekyk het nie – “with great power comes great responsibility”.

Ek is nie gedonder as kind nie, maar as my pa gesê het moenie die bal naby die venster gooi nie en ek het die bal naby die venster gegooi en die venster het gebreek, dan het die paplepel ook gebreek . . . op my boude.

Grappie, ek oordryf. Dit was net ’n gewone pak slae. Lyfstraf kom wel met baie verantwoordelikheid en ek dink ’n deel van die rede hoekom dit nou onwettig is, is omdat baie onderwysers nie Spiderman gekyk het nie – “with great power comes great responsibility”. Daar is ’n hele paar blou kolle en letsels verskil tussen ’n pak slae en ’n aanranding.

G’n hiërargie meer

So wat kan ’n onderwyser nou doen? Jy kan nie, MAG nie, ’n pak slae uitdeel nie. My pa sê dan gee jy maar vir die kind detensie. Vrydagmiddag wanneer almal huis toe gaan, moet hy of sy agterbly en in ’n klaskamer sit.

Maar dan daag die kinders eenvoudig net nie op nie. So, wat doen jy dan? Miskien konfiskeer jy ’n selfoon, maar dan word jy aangekla vir diefstal. Die laaste opsie is bel die ouers. Die ouers dink dadelik jy is die poephol, want hulle kind “is mos nie so nie”.

As jy ’n skoolkind is wat hier lees, wil ek vir jou sê: Jou onderwyser is nie jou tjommie nie.

Die gevolg is dat daar nie meer ’n hiërargie in skole is nie. Kinders vloek voor onderwysers en deel hardop hulle naweekstories van suip, saag en wheelie (krediet aan Le Roux Schoeman vir daardie nuutskepping).

Kyk, ons was nie engeltjies nie. Ons het naweke skelm gedrink, maar ons sou dit nooit voor die onderwysers met mekaar deel nie. Nog minder vloek!

Toon ’n bietjie respek, man!

As jy ’n skoolkind is wat hier lees, wil ek vir jou sê: Jou onderwyser is nie jou tjommie nie. Dis iemand in ’n gesagsposisie wat probeer om vir jou eendag ’n goeie werk te verseker en in die proses word hulle nie naastenby genoeg betaal nie! Toon ’n bietjie respek, man. Dis basics dié. Dis “ja, juffrou” of “ja, meneer”. Dis ordentlik groet op die stoepe. Dis om verskoning vra as jy nie jou huiswerk gedoen het nie.

LEES MEER: Dissipline is ouers se werk en nie onnies s'n nie

En dieselfde geld die onderwysers. As jy maak of jy jou leerlinge se pel is (want jy is nog jonk en jy wil nie soos die ander dinosourusse wees wat al 40 jaar lank by die skool werk nie), dan gaan hulle jou soos hul pel hanteer.

Dis nie ’n geval van “kinders het deesdae regte” nie. Kinders het nog altyd regte. Die verskil is dat kinders deesdae hul sogenaamde regte beter as ooit ken en boeta, hulle is nie bang om vir jou te sê presies wat daardie regte is nie. Net omdat jy jou regte ken, beteken nie jy is reg nie.

Steek asseblief jou hand op as een van julle enige vrae het.

  • Schalk Bezuidenhout (27) is 'n komediant en 'n gasskrywer vir Die Student. Hy het drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer en kom oorspronklik van Kempton Park.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.