Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Juffrou, moenie die ‘probleemkind’ afskryf nie'
Dianri Wessels.
Dianri Wessels.

Terwyl ek my kas regpak, kom ek op iets baie interessants af. My rapporte! Ek kon nie my oë glo nie. Gr. R s’n vat sonder twyfel die koek!

“Dianri moes tien vorms uitknip en inkleur. Die hele klas het die taak in ’n uur voltooi. Ná twee dae het Dianri twee vorms uitgeknip en ’n halwe een ingekleur.”

Kyk, ek weet nie wat my besiel het en wat ek tydens daardie twee dae gedoen het nie. Wel, ek het beslis nie vorms uitgeknip en ingekleur nie. Miskien wou ek net saam met my maatjies gesels en kuier?

Die res van die grondslagfaserapporte lyk nie veel beter nie. “Dianri wil nie werk nie en praat terug.” “Dianri sal soms die reëls breek om by haar te pas.” Van die ander kommentaar is veels te embarrassing om vir die wêreld te sê.

‘Ek weet jy kan!’

Ek kan met alle eerlikheid sê: Ek was ’n stoute kind. Ek was daardie kind oor wie die juffrou slapelose nagte het. Ek was tien teen een gereeld die onderwerp van die dag in die personeelkamer.

My onderwysers het vir seker ’n paar grys hare bygekry. Een ding wat deurlopend uitstaan, is dat nie een van hulle moed opgegee het nie.

Hulle het in my bly glo. Hopelik lees een van my onnies die stuk en sien dat al die bloed, sweet en trane nie verniet was nie.

Daar is hierdie illusie dat die probleemkinders eendag die washouts gaan wees. Dit is glad nie waar nie. Inteendeel, die stoutste kinders is dikwels die suksesvolste volwassenes.

Ek is ongelooflik dankbaar dat my ouers en die onderwysers nooit opgegee het nie. As enigiemand deur die rapporte lees, sou hulle nooit dink dat dieselfde kind matriek sou slaag met vyf onderskeidings nie.

My onderwysers het potensiaal in my raakgesien en my aanhou motiveer. Daar staan menige keer in my rapporte “Ek weet jy kan!” Toe ek nie in myself geglo het nie, het hulle in my geglo. Nou weet ek ook dat ek kan en het die vrugte gepluk.

Ongelukkig is nie alle kinders so geseënd nie. Kinders word gebrandmerk en daar word nie aandag aan hulle gegee nie. Hulle word afgesonder en weg van die res van die klas geskuif. Baie word dan gespot deur maatjies omdat hulle “dom”, “stout” of “stadig” is. As alle onderwysers net tyd en moeite insit, sal die kind ook floreer en baie ver kom.

’n Rapport definieer jou nie

’n Kind se rapport definieer nie altyd sy intelligensie en integriteit nie.

Daar is hierdie illusie dat die probleemkinders eendag die washouts gaan wees. Dit is glad nie waar nie. Inteendeel, die stoutste kinders is dikwels die suksesvolste volwassenes.

Albert Einstein se skoolhoof het in sy rapport geskryf dat hy niks sal bereik nie. Winston Churchill is ook in sy rapport beskryf as ’n stoute kind. Hulle het egter enorme spore gelaat.

Kyk, Juffrou, ek het toe oukei uitgedraai!

Dit is dus duidelik dat ’n kind se rapport glad nie ’n voorspelling van sy toekoms is nie.

Ek weet dat daar gr. 1’s is wat toekomstige Einsteins is, maar wat uitgekryt word vir probleemkinders. Elke kind het potensiaal. Sommige kinders kort net ’n bietjie meer liefde en geduld. Daardie stoute sewejarige sal nog, nes ek, sy volle potensiaal bereik.

Ek wens dat ek my grondslagonderwysers weer kan sien. Ek wil my, eintlik ons, suksesstorie deel.

Kyk, Juffrou, ek het toe oukei uitgedraai!

  • Dianri Wessels (21) is 'n derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy studeer BCom menslikehulpbronbestuur. Sy woon al haar hele lewe in Pretoria en het gemartikuleer aan die Hoërskool Garsfontein. Sy sing tans ook in die Tuks Camerata.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.