Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Kaapse draaie en ompaaie vir die seer hart
Anke Marais
Anke Marais

Net verby Jammerdrif het my gedagtes, so tipies, gedwaal oor hoe ek die onvermydelike juis kon ontwyk. Wat ek anders moes sê of dink of doen, en of dit werklik enigsins van die hele damn ding ’n onveranderlike kon maak. Jammerdrif. Ek is jammer oor my harde stem en onverskillige denke, jammer oor die woorde waarvan ek een te veel kan tel – ek blabber nog altyd onnadenkend voort. Ek is jammer daar was nie ’n compromise wat gewerk het nie.

Jammerdrif was toe net ’n stasie, nie ’n stopplek nie. Dank Vader.

Daardie dag was ’n lang dag se ry, want ek móés net padlangs stop, by Ronnies Sex Shop vir die badkamer, toe by ’n kruispad vir die uitsig, en later weer by ’n Pitstop om whiskey te koop, want Red Bull blaas my op en niks maak ’n mens so wakker soos slegte, sterk whiskey nie.

Verby die Swartberge en tussendeur Kammanassie en die Outeniqua was my brein skoon van die alkohol en my oë het wandelend oor elke vallei gegly op soek na die plek waar ek eendag bly wil kry – net tydelik.

Die hartsplek-plek is toe op ’n kruispad, nêrens en êrens gelyk.

Op die R62 tussen Uniondale en Louterwater was dit afgeleë, die tipe plek waar nog geheime is en die uitsigte meestal met trokdrywers – vlugtig – gedeel word. Die hartsplek-plek is toe op ’n kruispad, nêrens en êrens gelyk.

Whisky vir die seer

Dit was juis op hierdie stuk van die R62, met die grys skemer en lae wolke en my whiskey as geselskap dat ek verby Onverwagslaagte ry. Hoe beskrywend. Hoe gepas dat ek myself nou hier moes bevind op my lewenspad so letterlik voor my uitgestrek. Ek vat toe sommer twee sterk slukke whiskey sodat ek beter deur die vlae reën kon sien. My opgewasemde oë het gesukkel met die dubbeldoor-nattigheid.

Vanaf Port Elizabeth het ek deur die goue Vrystaat gery. Verby Hogsback – los dit eerder vir ’n dag as ek weer geselskap het – na Queenstown, waar ’n ou vriend en ’n lang bier op my gewag het.

LEES OOK: 'Jy is verantwoordelik vir jou eie geluk'

Die volgende dag was dit grenslangs om Lesotho, verby Ficksburg se kersieplase en plekke soos Wepener met hul vreemde name waar slegs vulstasies van hul bestaan getuig.

Deur die Golden Gate Park wou ek lag van die mooi, want die Gautengers het hooter geblaas, maar ek het voorkop op die stuurwiel voortgedwaal, oë ewig hemelwaarts na plekke waar ek nooit sou staan nie.

Ek moes toe huis toe draai

Daardie naweek het ek my stapstewels aangetrek, en hoog op die draak se rug was daar nie tyd vir trane nie, want die reën het my klaar nat genoeg gehad en die melancholie is ligter gemaak deur ons groepsang van Billy Joel se “Piano Man”, want almal het soms so ’n bietjie seer.

Nogtans, op die N4 is daar afdraai na Geluk en ek het myself belowe, volgende keer neem ek eerder daardie draai af Kaap toe.

Die berge het my goed gedoen, maar ek moes uiteindelik huiswaarts draai, na die Laeveld se sitrusreuke en soet skemeraande. Die N4 is ’n k*k pad; dit bestaan slegs uit steenkooltrokke (enigste ding met krag in Suid-Afrika, blyk dit) en rumoerige bestuurders wat blinde draaie soos die F1 aanpak.

Nogtans, op die N4 is daar afdraai na Geluk en ek het myself belowe, volgende keer neem ek eerder daardie draai af Kaap toe.

  • Anke Marais (21) studeer Erfenis-, Museum- en Bewaringsstudie aan die Universiteit van Pretoria. Sy het groot geword in Kaapsehoop, 'n klein dorpie 30km buite Nelspruit.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.