Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Kan Cyril ons onderwysstelsel red?
Romano Claassen
Romano Claassen

Waarheen is Suid-Afrika op pad? Wat gebeur met ons land se onderwysstelsel? Kan ons dit nog ’n stelsel noem? Ek het soveel vrae.

Dit is belangrik vir my as onderwysstudent om te weet of die huidige stelsel nog werk en of dit besig is om tot niet te gaan.

Daar is soveel vrae en ons moet soms wonder daaroor omdat so baie van ons daaronder ly. En net dié in beheer kan daarvoor geblameer word.

Baie leerlinge is nog nie in skole geplaas nie omdat die skole beperkte plek het. Skole het ’n sekere hoeveelheid onderwysers, afhangende van hoeveel leerlinge in die skool is.

Skole, veral staatskole, is oorvol en sommige klasse het tot 50 leerlinge en soms selfs meer. Dit is juis die getalle wat dit vir onderwysers moeilik maak om almal in die klas te bereik.

Elke leerling kom skool toe vanuit sy eie agtergrond en met sy eie gevoelens, wat dit nog moeiliker maak. Sommige het baie persoonlike aandag nodig, maar onderwysers kan dit nie vir hulle gee nie omdat die klasse oorvol is. Onderwysers moet soms ook die rol van die ouers speel terwyl hulle vaardighede en kennis aan die leerlinge oordra.

Skole, veral staatskole, is oorvol en sommige klasse het tot 50 leerlinge en soms selfs meer.

Skole het nie tablette nodig nie

Kan die president se inisiatief om tabletrekenaars in skole te gebruik voordelig wees? Dit kan seker op ’n manier voordelig wees, maar op ’n ander vlak is dit glad nie wat ons land nodig het nie. Ons skole het nie tablette nodig nie, maar eerder meer onderwysers vir die oorvol klasse. Dit kan verligting bring vir die reeds bestaande onderwysers en hulle help om elke leerling persoonlik te bereik.

Onderwysers gaan op ’n daaglikse grondslag deur baie by die skool. Hulle moet die sewe rolle van ’n onderwyser vertolk, wat soms baie moeilik is, omdat die leerlinge opstandig is. Kinders in skole ken nie meer hul plek nie. Hulle vergeet wie die volwassene is en wie die kind. Waar is die tyd toe kinders nog kinders was? Toe hulle nog goed gedissiplineerd was, met respek. Wie kan hiervoor geblameer word? Alles begin by die huis. Die beeld wat jy as leerling uitdra, is ’n direkte weerspieëling van hoe jou ouers jou grootgemaak het.

Waar is die dissipline?

Dit is so hartverskeurend vir my as student. Elke keer as ek my praktiese onderwys doen, word ek gekonfronteer, nie net oor my ouderdom nie, maar ook oor my seksualiteit. Drie weke gelede word ek twee keer uitgedaag, eers deur ’n gr. 9-leerling en later deur ’n hele klas.

Elke keer as ek my praktiese onderwys doen, word ek gekonfronteer, nie net oor my ouderdom nie, maar ook oor my seksualiteit.

Ek is eendag op pad huis toe in die taxi en die leerling klim in en kom sit langs my, terwyl daar nog mense voor ons in die taxi is. Hy vra my hoe dit gaan en ek sê dit gaan orraait.

Skielik roep hy: “Sir, sir!” Hy maak sy broek se gulp los en vra: “Sir, do you want some?”

Ek was so verbaas dat hierdie leerling my so uitdaag. Ek het gelukkig die situasie kalm gehanteer en hom mooi laat verstaan dat dit baie onprofessioneel is en dat ek Maandag die voorval by die skoolhoof gaan rapporteer. En van daardie dag af weet hy waar hy met my staan.

Die week daarna is ek besig om ’n Engels-klas aan te bied. En weer word ek gekonfronteer terwyl ek ’n taalles gee wat handel oor homofone en homonieme, woorde wat dieselfde klink en gespel word en waar die betekenis soms verskil. Een leerling gee toe vir my ’n voorbeeld wat ek ook in die gr. 9-klas kan gebruik en dit is die woord “sex”. Ek behandel toe die verskillende betekenisse daarvan. Ek behandel toe dieselfde werk en voorbeelde met die klas wat die volgende periode na my toe kom. Een van die seuns kom toe met sy foon na my tafel toe en wys vir my ’n seksvideo en vra: “Sir, are you referring to this?”

LEES MEER: Kan etiese gedrag aangeleer word?

Verbaas sê ek toe dat dit onvanpas is, veral op hul ouderdom. ’n Meisie steek toe haar hand op en sê dat as ek na die skoolhoof toe gaan, hulle as ’n klas sal saamstaan en vir die skoolhoof sal sê dat ek saam met hulle daarin was. Ek het onmiddellik die leerling gevra om die klas te verlaat en die voorval te gaan aanmeld. Ek kan nie glo dat ek as onderwysstudent deur kinders gedreig word nie. Al is ek jonk, is ek nie hul speelmaat nie.

As ek soveel dinge moet ervaar, hoeveel te meer nie onderwysers nie? Ek is daarvan oortuig dat daar baie gedoen kan word om hierdie land reg te ruk.

Verandering moet begin by ons stelsels en die manier waarop ons dinge doen. Stel meer onderwysers aan. Pas strenger reëls toe sodat die leerlinge hul plek in die klas ken. Maak die slaagpersentasie in alle leergebiede 50%, veral vir huistale. Ek dink 40% vir huistale is belaglik. As dinge kan terugkeer soos voorheen, sal Suid-Afrika ’n beter plek wees vir ons almal.

  • Romano Austin Bradley Claassen (22) studeer onderwys aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie se Mowbray-kampus. Hy kom oorspronklik van Dysselsdorp, Oudtshoorn.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.